Ekumeniese liggaam dink diep oor kerkwees vandag

Die kerk behoort nooit gemaklik met rassisme te raak nie, maar behoort dit uit te wys en aan te spreek.

Dié standpunt, na aanleiding van die Huis Marais-voorval by Universiteit Stellenbosch, is gemaak by ’n onlangse vergadering van die Wes-Kaapse Ekumeniese Netwerk (WCEN) by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington. Braam Hanekom was daar en gee ’n opsomming van nog belangrike sake wat uitgelig is.

Verdeeldheid en wantroue: Ons moet verstaan dat ons tans vasgevang is binne ’n konteks van dramatiese polarisasie. Dit is nie net ’n plaaslike verskynsel nie, maar ook ’n internasionale tendens. Ekstreme standpunte domineer die gesprekke in bykans enige kring. Ook in kerke.

Die vraag is hoe ons weer die radikale middel herontdek? Aansluitend hierby sit ons met ’n massiewe vertrouenskrisis. Agterdog het ons vertrekpunt geword. Dit ontspoor kreatiewe gesprekke en kniehalter sosiale kohesie.

Die vergadering het (na aanleiding van die insident by die Huis Marais-koshuis op Stellenbosch) ook rassisme op die sterkste moontlike wyse veroordeel. Te veel onderliggende rassisme vernietig Suid-Afrika tans. Die kerk behoort dit uit te wys en aan te spreek. Ons mag nooit gemaklik daarmee raak nie.

Jeug en onderwys: Ons jeug is vasgevang in hooploosheid en sit met ’n massiewe motiveringsprobleem. Covid het dit vererger. Die netto resultaat is dikwels anti-sosiale gedrag. Dat ons jeug een van ons grootste uitdagings is en nou ons aandag as prioriteit verdien is ’n glashelder konsensuspunt. Dieselfde geld vir ons onderwysstelsel. Ons onderwysstelsel faal ons. Dit is nie divers genoeg nie en ons verloor kinders reeds in die grondslagfase.

Kerkwees na Covid: Ernstige vrae is terselfdertyd gevra of die kerk en individue nie ook rigting en hulle roeping verloor het nie. Dit word aanvaar dat mense na Covid terug is by die kerk, maar die vraag is of hulle werklik terug is, beide in getalle en met dieselfde passie en betrokkenheid as voor Covid. Fundamentele vrae is dus gevra oor kerkwees na Covid: Gaan God meer met minder doen? Wat wou God vir ons deur Covid sê? Gaan ons werklik ’n nuwe kerk na Covid sien? Mense het gewoond geraak aan nuwe patrone van bywoning en kerkwees, maar kan dit werklik ’n volhoubare kerk skep?

Kerk en armoede: Die kerk funksioneer tans binne ’n groterwordende realiteit van armoede en ongelykheid. Ons praat gedurig oor armoede en ongelykheid, maar sê te min oor die oorsake. Ons weet ons het ’n tekort aan opgeleide mense wat ’n moderne ekonomie kan help bou.

Die kerk leef baie dikwels nie naastenby naby genoeg aan hierdie werklikhede nie en funksioneer asof die gemeente se onmiddellike omgewing die enigste werklikheid is wat bestaan.

Ons reageer wel goed op krisisse, maar die belangrike vraag is gevra: Waarom wag ons dikwels eers tot daar ’n krisis is? Daar is daagliks groter uitdagings wat aangespreek moet word. Waarom wag ons vir ’n brand, droogte of ’n vloed? Anders gestel. Dink en doen ons genoeg oor hoe om ’n sistemiese impak te maak op die groter krisisse om ons?

’n Omvattende verslag oor haweloses en die kerk se reaksie daarop is ter tafel gelê en bespreek. Haweloses is inderdaad die spreekwoordelike Lasarus op die kerk se stoep. (Die plek ontbreek om volledig hier daaraan aandag te gee.)

Kerk en regering: Terseldertyd sien ons dat ons as kerk en gemeenskap uitgelewer is aan institusionele regeringstrukture wat al minder die waardes beliggaam wat nodig is vir ’n samelewing om te floreer. Die vraag moet egter gevra word of die kerk se stem genoegsaam gehoor word in dié verband (ook veral op plaaslike vlak) en of ons die verantwoordelikheid en gesag wat aan ons toegeken is gebruik om die skuldiges tot verantwoording te roep.

Geestesgesondheid: Ons is baie bekommerd oor die geestesgesondheid van ons mense. Baie faktore werk tans saam om ons samelewing, wat geestesgesondheid betref, op hoë risiko te plaas. Te veel gebeure kan nie meer net verklaar word as “normale kriminele gedrag” nie. ’n Groot deel van ons nasie is ernstig siek. Trauma is maar een van die faktore wat dit veroorsaak.

Vertel ook stories van hoop: Die kerk behoort egter nie net op die negatiewe te fokus nie. Daar vind ongelooflike goed plaas en stories van hoop word elke dag geskryf. Die bekendmaking van hierdie stories skep geleenthede om by mekaar te leer, samelewingsentiment te verander en mekaar te inspireer. Eenvoudig gestel. Ons moet nie net vra wat ons laste en uitdagings is nie, maar veral ook wat ons bates en geleenthede is. Daar is ongelooflike bates in kerke opgesluit in terme van mense, potensiaal en strukture.

Die plaaslike gemeente is die hoop vir die wêreld, maar die vraag moet gevra word oor hoe ons hande vat (ook buite ons denominasie) om plaaslike gemeentes te bemagtig.

Wat is ’n ware kerk se DNS? Ten slotte sal ons opnuut diep moet besin oor wat die DNS van ’n ware kerk is en wat ons in hierdie dae behoort te wees. Die kerk is ernstig oor barmhartigheid, maar kan nie net ’n barmhartigheidsorganisasie wees nie. Terwyl eenheid en samewerking by die dag belangriker word (wie mis ons tans by ons ekumeniese tafel?), mag ons nooit vergeet wat ons diepste oriëntasie- en energiepunt is nie. Jesus Christus en die Heilige Gees. As ons daaroor begin mompel, is ons en ons nasie in die moeilikheid.

Wat is WCEN? Die Wes-Kaapse Ekumeniese Netwerk of Western Cape Ecumenical Network (WCEN) bestaan al vir agt jaar. Dit bestaan uit verteenwoordigers van verskillende kerkgenootskappe en geloofsgebaseerde nie-regeringsorganisasies, soos onder meer die Anglikane, Presbiteriane, Metodiste, NG Kerk, VGK, Calvynse Protestantse Kerk, ’n hele aantal onafhanklike kerke asook NRO’s soos die Bybelgenootskap en FORSA.

Die netwerk is in die lewe geroep in ’n tyd toe dit nie goed met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) in die Wes-Kaap gegaan het nie. Die NG Kerk in die Wes-Kaap se Sentrum vir Publieke Getuienis het toe ’n aantal kerkleiers uit verskillende denominasies genooi om deel te word van ’n netwerk waar waagmoedige gesprekke steeds kon plaasvind. Verskeie gesprekke oor sake soos sosiale kohesie, restitusie, onderwys, bendegeweld, geslagsgebaseerde geweld (GBV) en meer is al gehou en ’n aantal verslae is gepubliseer. Die WCEN vergader twee keer per jaar.

* Dr Braam Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis (SPG) en algemene sekretaris van die Wes-Kaapse Ekumeniese Netwerk (WCEN).

Word 'n vriend van Kerkbode