Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘In die kern staan nie ’n geloofsoortuiging nie maar ’n persoon, Jesus Christus’

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Die gedagte dat die NG Kerk ’n ruim huis is, het vir my sin gemaak, maar tog ook met ’n ongemaklikheid gelaat wat ek nooit kon verstaan nie.

Die Amerikaanse missioloog, Paul Hiebert, help my met sy “set theory” deur twee wyses te beskryf waarop geloofsgroepe hulleself kan verstaan. Die eerste is ’n “bounded-set”, waar die geloofsgroep hulleself definieer in terme van ’n aantal geloofsoortuigings waaroor almal moet saamstem. Hierdie geloofsoortuigings kan gesien word as die grense wat bepaal wie deel van “ons” is en wie nie. So byvoorbeeld kan die worsteling met selfdegeslagverhoudings as ’n grens beskou word wat bepaal wie deel is van die regsinnige groep en wie daarbuite staan.

Lees ook: Om die spore van ’n bewegende God te volg

Hierteenoor staan ’n “centre-set” waar die groep hulleself definieer in terme van ’n verhouding met ’n aantal sentrale oortuigings. So byvoorbeeld kan ’n geloofsgroep hulleself definieer in terme van hulle verhouding met Christus. Die klem is op die beweging na en verhouding met Christus.

Die selfverstaan van ons kerk as ruim huis verwoord dat ons ruimte het vir verskillende perspektiewe en invalshoeke op die Bybel, maar dat ons tog begrens is deur ’n aantal teologiese oortuigings (grense) wat vir ons ononderhandelbaar is.

Die ruimte in die kerk word hier wel gedefinieer deur die grense van die geloof wat sekere mense insluit en ander uitsluit. Dit lyk vir my meer na ’n “bounded-set” waar ons onsself definieer in terme van dié wat binne is en wie daarbuite is. Nog ’n leemte is dat binne hierdie huis daar moeilik onderskei word tussen sake wat in die kern van ons geloof staan en sake op die periferie, verder ook tussen etiese en heilsnoodsaaklike aspekte van ons geloof.

Lees ook: Die oogmerk van die NG Kerk se ‘droomscenario’

Sou ons nie ook oor onsself kan dink as ’n ruim ortodoksie nie? Dit sluit aan by prof Hennie Rossouw wat onderskei tussen die Murray-Calviniste en die Kuyper-Calviniste aan die einde van die 18de en begin van die 19de eeu.

Rossouw beskryf die Murray-Calviniste as ’n verdraagsame ortodoksie wat gekenmerk is deur ’n diep verbintenis aan Christus. Hierdie diep verbintenis word gesien in ’n vreugdevolle getuienis van ’n persoonlike oorgawe en toewyding, van geloofservaringe in ’n diep omgang met die Skrif, geestelike groei en verdieping in ’n Christelike lewenswandel. Hulle kerklike praktyk is gekenmerk deur (pinkster)bidure en ’n sterk missionêre en barmhartigheidsdryf. In Hiebert se tipologie kan hierdie benadering as ’n “centre-set” beskryf word.

Hierteenoor is die Kuyper-Calviniste gekenmerk deur ’n strakke handhawing van die belydenisskrifte en die gereformeerde teologie daarin vervat. Volgens Rossouw het die Kuyper-Calviniste gesoek “na ’n Skriftuurlike lewens- en wêreldbeskouing van tydlose, onbuigsame beginsels”. Dit kan beskryf word as ’n “bounded-set”.

Lees ook: ‘Op hierdie heuwel is ek bereid om te sterf’

As ons oor onsself dink as ’n ruim ortodoksie dan bely ons dat ons ’n sterk kern (ortodoksie) in ons geloof het wat ons saambind omdat ons in ’n verhouding staan met die kern (Christus). In die kern staan nie ʼn geloofsoortuiging nie maar ’n persoon, Jesus Christus (Efes 4). Dit help ons om te onderskei wat in die kern van ons geloof staan en wat op die periferie is. Deur ons verbintenis aan Christus word ons ook aan mekaar verbind ten spyte van sekere dogmatiese en etiese sake. Hierdie selfverstaan posisioneer ons ook sterk binne ons gereformeerde geloofstradisie (sien Heidelbergse Kategismus 1; Dordtse Leerreëls 1.1.1-4). Hierdie diep verbintenis met Christus moet ons egter dryf na buite, want ’n piëtistiese verpersoonliking van ons geloof kan maklik selfgerig wees. Christus dring ons om die geestelike, fisiese en emosionele nood van mense raak te sien.

Daar is ook ruimte rondom hierdie ortodoksie vir sake waaroor ons kan verskil. Solank ons kan bely dat ons in ’n verhouding staan met Christus asook dat ons in beweging is om dieper in Christus te groei. Ons oriëntasiepunt is dus dieselfde al kom ons uit verskillende hoeke. Ons verstaan onsself dus as ’n “centre-set”. Gesprekke tussen gelowiges begin dan by ons verhouding met Christus en ons belydenis dat Christus die Here is, asook ons verbintenis aan mekaar. Hiervandaan kan ons saam worstel met dogmatiese en etiese sake.

’n Ruim ortodoksie is onbeskaamd oor die hart van ons geloof, maar ook soepel genoeg om hierdie lewende geloof te leef binne verskillende kontekste. In ons verhouding met Christus word ons gedryf om te getuig van die lewende hoop en aktiewe deelnemers te word aan die vestiging van God se koninkryk op aarde.

  • Dr Christo Benadé is leraar by NG Gemeente Suider-Strand.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top