Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Henrietta Klaasing van Randfontein skryf: In ’n berig in Kerkbode (27 Mei 2022) word gemeld dat die Algemene Kuratorium ’n “afdwingbare beleid ter tafel gelê het wat predikante en ampsdraers van die NG Kerk verbied om sosiale media-platforms te gebruik om veralgemeende, nadelige en verdagmakende berigte oor teologiese opleiding te publiseer”. Afdwingbaar het die betekenis van ’n wet, reël of verpligting wat opgelê kan word sodat dit nagekom moet word.
Bo en behalwe die feit dat sodanige beleid in stryd is met artikels 15 en 16 van Suid-Afrika se Grondwet, is dit ook on-Bybels. Die genoemde artikels bepaal dat elkeen die reg het op vryheid van oortuiging, opinie en uitdrukking. Toe die apostels in Handelinge 5 deur die Joodse Raad die swygverbod opgelê is, het hulle geantwoord dat hulle eerder aan God gehoorsaam moet wees, nie aan mense nie.
Lees ook: Teologiese Opleiding: Só maak mens voorts met navrae
Johannes Hus en ook ander martelare is deur die Katolieke Kerk vermoor onder andere vir die “kettery” om te verkondig dat Christus die Hoof van die kerk is. In Amerikaanse militêre operasies is die vraag dikwels gevra: “Is dit ’n heuwel waarop jy bereid is om te sterf?”. Soos Johannes Hus en andere, is ek bereid om te sterf op die heuwel dat Jesus Christus die Hoof van die kerk is.
Ek skryf hierdie brief in my eie hoedanigheid as lidmaat wat droefheid ervaar oor die toestand van my kerk.

As jou bydraes na die mening van die gespreksmoderator doelbewus die temperatuur in die gespreksruimte opjaag, is hierdie gespreksblad nie vir jou nie. – Lees gerus ons kommentaarbeleid hier: https://kerkbode.christians.co.za/kommentaarbeleid/ – Red.
Liewe Dr Klaasing – baie dankie vir jou kosbare brief en jou onverskrokke getuienis – pitkos tot ernstige nadenke vir die behoud en beskerming van waarheid deur vryheid van spraak. Vir my dit kom terug na ‘n eenvoudige vraag – Wat is hulle (AK en moontlik ASM) se definisie van die omvang van wat hulle als insluit as ” verdagmakery en valshede” – uit watter objektiewe perspektief is daar riglyne neergelê om duidelik te definieer wat binne hierdie konsepte van ” verdagmakery en valshede” ingesluit word?? Sal n ongemaklike dog fundeerbare waarheid ook as sulks geklassifiseer word indien persone voel die instansie of hul eie reputasie is belaster of verdag gemaak? My vraag is – word die deur van hulle “interpretasie “lens” wyd oopgelos sodat wanneer die waarheid en skrifgebaseerde grondige kritiek ( uitgesluit emosionele reaksies) ongemaklik raak en wanneer dit volgens hulle, die status quo bedreig, sulke kritiek / sienings / ingeligte opinies binne die definisie val met die gevolglike sensurering van diesulke ” skuldiges”? Word hier nie dan die ” tegelyk aanklaer en regter ” beginsel toegepas nie? Ek wonder net…
Laaste opmerkings – ek is hartseer want hierdie sensuur beleid roep wrange herinneringe op van die destydse regering met sy totale “inligtings en informasie ” beheer veral in die 70’s en 80’s as iets durf lyk of dit die soewereiniteit van die destydse regering sou bedreig en laastens as ek baie verder terugkyk na ons vroeë kerk geskiedenis sinspeel die nuwe reëls tog ook al te veel na die RK se destydse “Papalis principatus” – pouslike oppergesag – wat totaal beskerm moet word – ek besef dat ek moontlik met die eerlike repliek myself ook nou skuldig maak aan ” verdagmakery” 🤔?
Ek merk dat julle kommentaar wat ongemaklik is omdat dit te na aan die waarheid sny verwyder. Speel die Kerkbode nou ‘n “Big Brother” sensuur speletjie in samewerking met die kuratorium of word julle deur die AK en ASM gedwing om menings en inligting te sensureer sodat NG-lidmate en lesers van die Kerkbode weerhou word van menings wat die Redaksie, AK en ASM nie aanstaan nie. Dit laat die vraag ontstaan of die ASM nou in ‘n soort Vatikaanse Pousdom ontaard het?
Johan Theunissen, Klipeiland, Bronkhorstspruit.
Hi Johan, Kerkbode het ‘n kommentaarbeleid en die redaksie verwyder gewoon kommentaar wat buite daardie perke val. Lees dit gerus om konteks vir besluitneming te verstaan: https://kerkbode.christians.co.za/kommentaarbeleid/