Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Teologiese Opleiding: Só maak mens voorts met navrae

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.

Meer direkte navrae, minder “verdagmaking” via sosiale media.

Dis een van die doelwitte van die Algemene Kuratorium (AK) wat blyk uit ‘n verslag wat by die onlangse sitting van die Algemene Sinode Moderamen in Benoni gedien het.

In ‘n poging om “hegter bande” tussen die NG Kerk en teologiese dosente te bou, het die oorsigliggaam ‘n “protokol” bekendgemaak vir die hantering van vrae en navrae oor Teologiese Opleiding in die NGK. Daar is vier Kuratoria gevestig by die Fakulteit Teologie van Pretoria, Vrystaat en Stellenbosch (sluit Hugenote Kollege in) en ook in Windhoek by NETS. 

Die AK het tegelyk ook ’n afdwingbare beleid ter tafel gelê wat predikante en ampsdraers van die NGK “verbied om sosiale media-platforms te gebruik om veralgemeende, nadelige en verdagmakende berigte oor Teologiese Opleiding te publiseer”. Die ASM het ook in 2021 ’n stel riglyne vir gesprekvoering deur gelegitimeerdes op sosiale media goedgekeur, wat onder meer kwaadwillige en verdagmakende plasings verbied. 

Die “protokol” (sien onder) behels basies ‘n voorgestelde kommunikasievloei vir “navrae oor die leer en lewe van dosente”. “Die doel van die protokol is om ’n veilige ruimte te ontwikkel waarbinne daar direk met kuratoria en dosente gesprek gevoer kan word oor bogenoemde,” luidens die verslag. 

Dit kom teen die agtergrond van groot debat, ook op Kerkbode se forums en in ons blaaie, oor teologiese opleiding wat in stryd met die leer en die belydenisskrifte van die kerk sou wees. “Daar is bekommernis oor die verwydering en agterdog wat daar tussen die kerk en teologiese dosente plaasgevind het,” luidens die verslag.


Protokol vir die hantering van vrae en navrae oor Teologiese Opleiding in die NGK

Die onderstaande protokol is deur die Algemene Kuratorium en die ASM goedgekeur. Hierdie is ’n verwerking ter wille van maklike kommunikasie met die kerkpubliek.

1. Wanneer iemand ’n navraag of vrae oor enige aspekte van teologiese opleiding het – ook navrae oor dosente- word dit op skrif gestel en aan die betrokke Kuratorium gestuur.

2. Die navraag word deur die Kuratorium ontvang en die Kuratorium.

Geborg

a. bepaal binne watter teologiese tema dit val. Dit sou bv kon wees: Skrifgesag, Hermeunetiek; Skrifuitleg; Godsbegrip; Christologie; Sondebegrip ens

b. bepaal die resente en relevante kerklike beleid/belydenis hieroor, wat kan dien as raamwerk waarbinne die gesprek plaasvind en kom met die persoon wat die navraag gedoen het hieroor ooreen.

3. Eerste aanmeldingsgesprek: Die Kuratorium nooi die dosent of ampsdraer van die kerk na ‘n gesprek waarin die navraag in persoon aan die dosent/ampsdraer oorgedra kan Aangesien die raamwerk die kerk se standpunt oor die aangeleentheid is, sou die dosent se standpunt en siening oor die kerk se beleid hieroor ter sprake kan kom.

4. Gesprekke tussen die dosent of ampsdraer en die persoon wat die navraag aangemeld het:

Die kuratorium fasiliteer gesprek tussen die student of persoon wat die navraag doen en die dosent of ampsdraer. Hierdie kan ‘n reeks gesprekke wees totdat die partye tevrede is dat vrae beantwoord is, en onsekerhede uitgeklaar is.

5. Indien nodig sou hierdie gesprekke opgevolg kon word met kerkregtelike gesprekke soos bepaal in die KO.

Die voorsitters van die Kuratoria is:

Ds Hannes Windell- Pretoria (Fakulteit Teologie UP) windell@iafrica.com

Ds Jan Lubbe – Vrystaat (Fakulteit Teologie UOVS) janlubbe1964@gmail.com

Ds Peet Bester- Strellenbosch (Weskaap Fakulteit Teologie Stellenbosch en Hugenote Kollege) peet@ngkfranschhoek.co.za

Dr Wynand Fourie- Windhoek ( NETS) vinowf@gmail.com 

Dr Frederick Marais- Algemene Kuratorium jfm@sun.ac.za

 

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

5 thoughts on “Teologiese Opleiding: Só maak mens voorts met navrae”

  1. Christo Schoeman

    Is hierdie nie ’n dubbele-standaard stelling nie? Word die Grondwet se vryheid van spraak verbied, terwyl daar self van sulke mediums gebruik gemaak mag word? Laat my baie dink aan George Orwell se “Animal Farm”… “All animals are equal, but some animals are more equal than others”…

    Ek dink die groter punt word hier gemis: Hierdie kanale van probleemoplossing en direkte navrae, het al té veel kere op dowe ore geval. As iemand hul reg tot vryheid van spraak deur die media uiter, gegrond op feite en uitsprake deur betrokke persone, hoe is dit verdagmaking? Hoekom mag sekere sake van die NGK dadelik deur die media (wat soms baie eensydig is) berig word, maar ander moet onder die dekmantel geskied? Het lidmate nie ook die reg om te weet wat aangaan nie?

  2. Stefaan de Jager

    `n Ou sukkel in die winkel om goeie diens te kry en radeloos vra hy later vir die onbeholpe assistent om met die bestuurder te praat. Sy reageer: “Meneer, ek is die bestuurder.” Ongelukkig is dit so dat baie leraars en kerkrade van die NG Kerk hul vertroue in die kuratoria van ons kerk verloor het. Hierdie “plan” op die tafel gaan daardie wantroue nie wegneem nie, inteendeel!

    Matin Luther het sy stellinge destyds teen Wittenberg se deur gaan spyker en hom die gramskap van die kerk van sy tyd op die hals gehaal. Hy sou geweet het dat dit nie sou help om allerhande vrae en besware na die kerkleiers van destyds te stuur nie, aangesien hulle die “plot” verloor het.

    Sosiale media is in `n sekere sin dus die kerkdeur waarteen die waarheid gespyker word as daar vertrouensbreuk met die leiers ontstaan het. Toegegee, met sulke besware in die sosiale media is die gevaar van verdagmakery `n wesenlike gevaar. Aan die anderkant gaan dit nie help om die waarheid die mond te probeer snoer deur dit af te maak as verdagmakery nie.

  3. Henrietta Klaasing

    “AFDWINGBARE BELEID… vir predikante en amptenare”???
    SA BILL OF RIGHTS:
    Section 15. (1) EVERYONE has the right to freedom of conscience, religion, thought, belief and opinion.
    Section 16. (1) of South Africa’s Constitution states that “EVERYONE has the right to freedom of expression, which includes freedom of the press and other media; freedom to receive or impart information or ideas; freedom of artistic creativity; and academic freedom and freedom of scientific research.

  4. Retief Müller

    Teologiese opleiding is ‘n gespesialiseerde veld wat geskied binne ‘n akademiese konteks. Hierdie ‘protokol’ veronderstel dat dit iets anders behoort te wees. Amper asof dit ‘n publieke gesprek is waaroor enige iemand ‘n mening kan vorm en as ek byvoorbeeld voel dat wat ook al gedoseer word nie ooreenkom met my geloofsverstaan nie, dan het ek nou hier ‘n lekker platform om dosente aan te vat in direkte debatvoering. Die hele uitgangspunt is verkeerd. Teologiese opleiding is nie daar om studente of enige iemand anders se geloof te versterk nie. Dit is ook nie daar om ‘n ortodokse geloofsleer te verkondig nie. Dit is waarvoor die kerk daar is en veral die belydenisklas. Teologiese opleiding is eerder daar om vrae te vra oor moeilike sake wat geloofsekerhede mag insluit. Dit is immers sulke vrae waarmee predikante gereeld te doen het in hulle bediening. Om toekomstige predikante goed voor te berei het teologiese fakulteite die verantwoordelikheid om studente se vooropgestelde idees te bevraagteken en uit te daag sodat hulle dinge opnuut kan bedink. Hierdie ‘protokol’ veronderstel egter blykbaar dat teologiese opleiding direk moet spreek tot die kerk sonder bemiddeling. So gesien verstaan dit die doel van teologiese opleiding verkeerd. ‘n Beter proses sou wees dat enige ‘navrae’ na die onderskeie dosenterade sou gaan eerder as na spesifieke dosente wat dan baie maklik as sondebokke geteiken kan word terwyl hulle eintlik maar net probeer om hulle werk te doen. Ek stel dus voor dat dosenterade navrae direk hanteer eerder as dat individue geteiken word soos wat blykbaar tans aan die gebeur is.

  5. Chris Smith

    In praktyk is hierdie ‘n onbillike muilband en onregverdig.
    Vroeer vanjaar het die fakulteit US “Queering the prophet” bemark. Moet die res van die kerk wat beswaard is, dan nou die maandelange pad stap met besware. Besware wat eers na die byeenkoms ter tafel sou kom. Die fakulteite is nie bo kritiek nie, en indien hulle ‘n standpunt in die openbaar huldig, behoort dit ook in die openbaar aagespreek te kan word. Wat vir die een geld, geld ook vir die ander

Comments are closed.

Scroll to Top