Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Davis Booker (1938 – 2021)

Thomas Davis Booker is op 13 September 1938 gebore te Vlottenburg naby Stellenbosch. Sy vader is Martin John Booker, ’n superintendent by die SA Spoorweë en sy moeder is Catharina Paulina Loubser, ’n onderwyseres. Hy begin sy skoolopleiding in 1944 aan die Laerskool Prins Albertweg en is ook ’n leerling aan die Laerskool Touwsrivier (1946-1947) en Laerskool Piketberg (1948-1951). In 1952 word hy leerling aan die Hoërskool Piketberg waar hy in 1955 matrikuleer. 

Davis beleef die roeping om sendeling te word tydens ’n CSV-kamp te Witbrug naby Wolseley, waar hy onder leiding van eerw Malan Jacobs (wat in die Laingsburg-vloedramp van 1981 sterf) en eerw Willie Loots nader aan die Here kom. Hy begin in 1956 sy Admissie aan die Hugenote Kollege en is van 1958 tot 1961 student aan die Sendinginstituut op Wellington waar hy gelegitimeer word. Intussen besluit die Algemene Sinode van 1961 om predikantstatus aan sendelinge te gee en dat hulle voortaan ook aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch opgelei word. In sy studentetyd is hy aflosrekenmeester by Tafelberg-Uitgewers. 

Ds Davis Booker skryf oor ’n insident na sy legitimasie, toe een van die eksaminatore hom gevra het om dienste in sy gemeente waar te neem in die vakansietyd: “Die laaste stuiptrekkings van die ‘statuskwessie’ het ek beleef toe dit die Sondagoggend duidelik word dat die ‘eerwaarde’ nie op die ‘dominee’ se preekstoel mag staan nie – die preekstoeldeur was gesluit en die dominee is vort met die sleutel.” Ds Davis Booker trou op 14 Julie 1962 met mej Nelia Steyn en ’n dogter en ’n seun is uit die huwelik gebore. 

Prop TD Booker word op 11 Februarie 1962 bevestig as sendeling van die NG Sendingkerk se werkkring te Mafeking, wat ook die Betsjoeanaland Protektoraat gebied insluit. In die begin van 1964 is Mokgopeetsane ook ingesluit en in 1970 rig hy die Samuel-inrigting te Mafeking op vir kinders uit Botswana. Op 17 April 1971 word hy leraar van die NG Sendingkerk Robertson-Oos, ’n unieke dienstyd wat gekenmerk word deur die groot herlewing tydens Pinkster 1972 wat die golf van geestelike seën laat vloei het na menselewens. 

’n Totale keerpunt in ds Davis Booker se lewe kom toe hy op 1 September 1972 organiserende sekretaris van die Diens van Barmhartigheid van die NGSK word op Worcester, ’n pos waaraan hy nuwe inhoud gee en ’n sterk trustfonds opgebou word. Dit is ook die begin van die oprigting van “Toevlug”, ’n sentrum vir die behandeling van alkoholiste. Na vyf jaar keer hy in 1977 terug na die aktiewe gemeentebediening toe hy leraar word in die NG Sendingkerk Clanwilliam waar hy groot werk verrig. Hy handhaaf tot met sy vertrek in 1981 ’n besondere goeie verhouding met die NG Kerk op die dorp en groot werk word verrig met die geestelike bediening aan plaasarbeiders. Die kroon op sy arbeid kom toe hy al sy talente en gawes fokus op die behandeling van mense wat vasgevang is in alkoholisme en hy ’n groot rolspeler word in die Christelike Alkoholistebond (CAB) en hy direkteur word van Alkoholistesorg. Met sy hulp word twee rolprente oor die onderwerp deur Carfo vervaardig en in meer as 100 gemeentes word CAB-takke gestig. Dit loop uit op die stigting van die Nuwe Lewe Sentrum op Dingleton, wat voorheen bekend was as Sishen by Kathu in Noord-Kaapland. Hiermee word hy die nuwe direkteur van Alkoholistesorg in die NGSK. 

Ds Davis Booker beleef in die jare 1993 tot 1996 ’n hoogtepunt in sy bediening, met die hoogbloei van die sentrum op Dingleton. Daar ontstaan ’n unieke samewerking tussen die gemeenskap, gemeentes en mynhuise, toe die ou hospitaal herstel en herbou word as alkoholistesentrum van formaat. Daar ontstaan ook verskeie publikasies uit sy pen oor die hantering en behandeling van alkoholiste. 

Op 1 April 1996 aanvaar hy vervroegde pensioen omdat die staat in die nuwe bedeling die staatsubsidies inkort. Hy en sy vrou vestig hulle op Jongensfontein naby Stilbaai en begin ook ’n boekwinkel “Tabeel”, wat groot seën in die breë gemeenskap bring. Die behoefte aan pastorale sorg en hulp aan verslaafdes was groot en ’n deel van die winkel is in ’n spreekkamer omskep. 

Ds Davis Booker het beleef dat hy sy roeping saam met die besigheid kon uitleef. Hy kry ook die geleentheid in die Suidkaap om deur sy prediking en persoonlike gesprekke mense aan te raak met die Woord en mense te help in hulle stryd met alkoholisme. 

Hy sterf op 3 Julie 2021 en word oorleef deur sy vrou Nelia en kinders. Ds Davis Booker het diep spore getrap in die omgewing van Stilbaai en sy nalatenskap sal lank voortleef. Hierdie toegewyde “donkie” wat in Wellington opgelei is, het tot die einde toe die Blye Evangelie in Suider-Afrika met oorgawe uitgedra. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top