Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hennie Brandt (1930 – 2021)

Hendrik Jacobus Brandt is op 9 April 1930 gebore in die distrik Brandvlei. Sy vader is Marthinus David Brandt, ’n boer en sy moeder is Esther Susanna Josling wat haar man op die plaas help. Hennie begin met sy skoolloopbaan aan die Laerskool Carnarvon, waar hy in 1948 matrikuleer. Op skool speel hy rugby, doen gimnastiek en sing in ’n kwartet. Hierna begin hy in 1949 werk by die Departement van Lande en werk ook tot in 1954 as skakelbeampte by die aktekantoor in Pretoria. Hy studeer ook buitemuurs vir die BCom-graad in Staatswetenskap. 

Hennie beleef die roeping om predikant te word en studeer voltyds by Tukkies waar hy die BA-graad verwerf en aan die Fakulteit Teologie (Afd B) studeer en aan die einde van 1961 as proponent gelegitimeer word. Hy skryf sy skripsie oor: “Die plek van Israel in die koninkryk van God”. By Tukkies is hy leier van die Deo Gloria-konsertgroep wat landswyd toere onderneem. Hy sing ook solo’s en in verskeie kore. Hy trou op 6 Julie 1963 met Helena Davel en uit die huwelik is vier kinders gebore: Isebel, Tinus, Esther en Francois. 

Prop Hennie Brandt word op 9 Februarie 1962 in die NG Gemeente Roodepoort met handoplegging ontvang en bevestig en word op 6 Maart 1964 leraar van die nuwe gemeente Ontdekkers Noord. Hier trap hy diep spore en word ’n nuwe pastorie, kerkgebou en kerksaal gebou en lewer hy geestelike werk van hoogstaande gehalte.  

Hierna kom ’n roepstem na die destydse Rhodesië, waar hy op 14 Maart 1969 bevestig word as leraar van die NG Gemeente Umtali, waar hy tydens die Bosoorlog kalmte bring in ’n boerderygemeenskap wat swaar kry.  Hier word die pastorie en die kerksaal in sy dienstyd vergroot. 

Ds Hennie word op 9 November 1974 leraar van die NG Gemeente Bultfontein in die Noordoos-Vrystaat.  In sy tyd vind ’n besondere herlewing in die gemeente plaas en daar is groot geestelike seën wat die hele gemeenskap op die dorp raak. Op 20 Oktober 1978 word hy leraar van die NG Gemeente Middelburg-Suid, waar die “Hennie Brandt Gemeenskapsentrum” gebou word tot groot voordeel van die gemeente. Hier werk hy baie lank en neem ook leiding op die breë kerklike terrein. Hy werk tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 24 Februarie 1994. Na sy aftrede bly hulle woon op Middelburg en is hy direkteur van ’n afree-oord vir bejaardes, Kosmospark op Middelburg in die ou Transvaal. 

In 1995 verhuis hulle na Heidelberg aan die Suikerbosrand. Die laaste dekade van sy lewe is hy nie baie gesond nie en ondergaan ’n hartomleiding en sukkel met nierstene en nierprobleme. Ds Hennie Brandt sterf op 14 Julie 2021.Hy word onder meer onthou vir sy fenomenale manier om fondse in te samel om skuld te delg in die gemeentes wat hy bedien het. In die NG Gemeente Middelburg-Suid samel hy persoonlik van gemeentelid tot gemeentelid meer as R1 miljoen in. Weens hierdie buitengewone talent staan hy in die kerk bekend as “die bekeerde Jood”. Ons eer die nagedagtenis van ’n besondere rentmeester in die Meester se diens. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top