Dr Christo de Klerk is ’n narratiewe pastorale berader en spirituele begeleier by NaEden Retreat-sentrum in Munster, KwaZulu-Natal. Hy spesialiseer in Bybelse spiritualiteit, begelei mense deur trauma en help mense met geestelike groei. Doret Niemandt vind meer uit.
In my Kinderbybel was daar nie prentjies van God nie. Daar was wel ’n prentjie van ’n wolk en ’n helder lig.
As 7-jarige het ek aangeneem God is ’n ou oom, dat hy ’n baard het, al so effens grys, en net wit klere dra. En dan sit Hy op daardie wolk en kyk af op die wêreld wat Hy gemaak het. Hierdie prentjie is egter nie ver verwyder van baie volwassenes se prentjie van God nie.
Christo de Klerk vertel dat in sy begeleidingsgesprekke met mense daar ’n definitiewe gevoel van afstand tussen hulle en God is, God is ver weg, iewers besig om toutjies te trek. In baie van hierdie gesprekke word daar verwys na “God se plan” of “God se doel” en wanneer hierdie mense daar sit, stukkend en seer, is dit dan moeilik om God se liefde raak te sien. Dit is baie moeilik, selfs onmoontlik, om ’n intieme verhouding met God te hê wat ver weg is en hierdie goed met jou laat gebeur, sê De Klerk.
Dit is egter ’n verwronge Godsbeeld. ’n Algemene beeld is dat God eintlik kwaai is en sy woede moes uitwoed aan die kruis, maar as die kruisiging nie gesien word as die hoogtepunt van die openbaring van God se liefde nie, word daar iets gemis. Soms is daar ’n geweldige klem op sonde (wat reg is) sonder ’n klem op wonde (wat genees en transformeer kan en moet word). Mense het eerder ’n probleem met wonde as sonde, vertel De Klerk.
Hulle het soveel pyn, soveel hartseer, soveel konflik binne-in hulle dat hulle net nie optimaal kan funksioneer nie. Dit is moeilik om mense te mobiliseer as lig vir die wêreld en sout vir die aarde wanneer hulle lamgelê word deur wonde – angs, woede, skuldgevoelens, en pyn.
De Klerk verwys na 2 Korintiërs 4:10: “Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam”.
Die ou mens word vervang met die nuwe mense. Dit is hier, in ons ontmoeting met Christus in ons, dat die transformasie gebeur – waar die angs, woede, skuldgevoelens en pyn getransformeer word.
Ongelukkig is ons nie goed met hierdie transformasie nie – ons verwond steeds meer dikwels as om mense te begelei om hulle wonde te transformeer. De Klerk noem drie idees wat kan help om mense in hierdie transformasieproses te begelei:
- Nabyheid – Die illusie van afstand tussen ons en God moet aangespreek word, dit is net ’n illusie. God het nie die wêreld geskape en op sy wolk gaan sit om te kyk wat ons daarmee maak nie. God los ons nie alleen in hierdie wêreld nie, dit is juis in daardie oomblikke van seerkry wat God se nabyheid ten diepste ervaar kan word.
- Na-binne – Gelowiges moet begelei word tot die heerlike ontdekking en ervaring van ‘Christus in ons’ as oorweldigende werklikheid in hulle. Die gedig van MM Walters, “Sutherland”, vertel iets hiervan:
By Sutherland volg die grootoog
die planete soekend in hul baan:
Iewers moet ’n sterreweg loop
waarlangs die mens kan huis toe gaan.
Maar tevergeefs: Die pad bly toe
al word hy eeue lank al stof gebid
deur wiggelaars wat “sterrekundig”
toe-oog in hul torings sit.
Binnetoe, mense, jul moet binnetoe,
jul kyk in leë beloftes vas.
Die padkaart-praatjies wat julle volg,
kan net maar in die verbeelding pas.
Soek binnetoe, diep in die eie oog
se donker onbekende agterin:
Dis waar die mens se heimwee
en sy sterredroom begin.
3. Na-denkend – Ons teologie en manier van dink is steeds vasgevang in ‘ek dink daarom is ek’. Ons moet leer om emosies te eer en te hanteer. Daar word te veel gefokus op die rede en te min op emosies. Emosies word gesien as minderwaardig, terwyl emosies redes van hulle eie het. Alle emosies is kragtige onderwysers wat ons iets wil leer.
Hierdie idees kan help om God anders te ervaar. Dalk is God nie ’n ou oom met ’n lang baard wat pakslae wil uitdeel nie. Dalk is God die een wat jou optel as jy val, jou knieë dokter en jou trane afvee – naby. Dalk kan God juis ontdek word in jou pyn en seer – na-binne. En dalk hoef daardie emosies nie wegverduidelik te word met harde antwoorde nie – nadenkend. Hierdie idees kan jou prentjie van God verander na ’n prentjie van liefde, deernis, aanvaarding, en omgee. En dan kan jy ’n ander prentjie van God vir ander wys.
- Dr Doret Niemandt is ’n leraar by Valleisig-gemeente in Pretoria.
- Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
