Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Met ‘Die Jirre is my Wagter’ “staan Elias P Nel in die tradisie van Adam Small en Hans du Plessis, maar bring ’n unieke, kosbare bydrae tot beide die omdigting van Skrifgedeeltes, asook die beligting van ‘die soepele diversiteit van Afrikaans’,” skryf Rethie van Niekerk. Foto: Verskaf

Streektaalomdigtings verruim tradisie van Small en Du Plessis

Die Jirre is my Wagter – Psalms en inkele annerlike tekse ytiee Bywel yt deur Elias P Nel
Uitgewer: Lux Verbi, 2022
Resensent: Rethie van Niekerk

In Die Jirre is my Wagter slaag Elias P Nel uitsonderlik goed in sy doelwit om “met die kyk deur ’n nuwe taalbril die oorspronklike [Bybelse] inhoud weer nuut, fris en vars te maak, sodat die waarde hernieud ontdek kan word.” In die Afrikaans van sy grootwordwêreld omdig hy gunstelingpsalms en ander bekende Bybeltekste, wisselend van Samuel, deur die Evangelies tot Romeine en Openbaring.

Nel spreek in sy voorwoord die hoop uit dat hierdie omdigtings die leser juis dieper in die Skrifgedeeltes – en dan ook in gesprek met God – inneem. Die verrassende tongval kry dit inderdaad reg om ’n mens ou bekende tekste nuut, dikwels verrassend te laat hoor. Dit dwing jou om stadig te lees, jouself dieper in die teks in te dink.

Die aardsheid van die geloof wat die Bybelteks verwoord, saam met die rykdom van die woordeskat en die Boesmanlandse idioom, laat geliefde Skrifgedeeltes treffend tuiskom. Die emosie van Psalm 30 word byvoorbeeld treffend verwoord: “nog net gistraand het ek in trane gesitte skrou / en vimore, vimore ka’ ek weer lekker plesierag lag!” Die metafoor van Psalm 42 praat bekend met jou hart: “soos rooikop boerbok innie agtermarrae / virrie krippe mettie waters skrou en blêr, / so is my siel ok diepdoers na my God.” In Spreuke kan jy die mense van die Noord-Kaap in jou gedagtes sien praat: “lyaard, hoe lank wil jy nog oenerie velkrosse lê / wannir wil jy ’n slag opstaan en ok lewe?” (Spreuke 6).

Nel staan in die tradisie van Adam Small en Hans du Plessis, maar bring ’n unieke, kosbare bydrae tot beide die omdigting van Skrifgedeeltes, asook die beligting van “die soepele diversiteit van Afrikaans”.

  • Beskikbaar by Bybel-Media.
  • Ds Rethie van Niekerk is predikant by Blouwaterbaai Familiekerk in Gqeberha.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top