Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Oud-soldaat Stan Potgieter vertel sy belewenis van God terwyl hy onlangs 2 500km op ’n omgeboude elektriese driewielfiets afgelê het om mense van posttraumatiese stressindroom (PTSD) bewus te maak, is iets waarvan hy ander wil vertel dat hulle ook genesing vir innerlike wonde kan vind. Foto: Verskaf

‘Daar gaan Stan … om genesing vir ander se wonde te vind’

’n Jaar terug, vertel Stan Potgieter, die 56-jarige oud-soldaat van Pretoria, was hy “amper dood” toe hy ’n 5 km-pretrit van sy NG gemeente kerksondermure (KSM) met sy spesiaal omgeboude elektriese driewielfiets gedoen het.

Daardie dag het hy besef hy sal bitter hard moet oefen om in Mei vanjaar met die einste fiets 2 500 km af te lê op ’n spesiale pelgrimstog vanaf die Muur van Herinnering by die Voortrekkermonument in Pretoria tot op Ondangwa by die noordelike grens van Namibië en Angola waar hy en drie van sy weermagmakkers tydens ’n patrolliestap in ’n hinderlaag beland het 38 jaar gelede.

Sy beste vriend is hier voor sy oë doodgeskiet. Toe die weermaghelikopter later kom, moes die verwarde bang jongman hoor hy moet alleen agterbly want hy makeer mos niks. Eers sewe ure later is Stan opgetel en basiskamp toe geneem. Hier het die kapelaan met die peloton gesels en toe ’n gebed gedoen. Dit was al ‘debriefing’.

Stan Potgieter as 18 jarige dienspligtige saam met sy ouers, Beulah en Johan ‘Pottie’.

Stan was 18. Die innerlike letsels sou sy lewe lank hom ry.

Die nuus vyf jaar gelede dat sy soldaatmakker Hennie, wat ook die hinderlaag oorleef het, in 1995 op Kersdag sy eie lewe geneem het, het Stan laat wens hy kan iets doen om meer mense bewus te maak van posttraumatiese stressindroom (PTSD) sodat “mense kan verstaan ons mense wat daarvandaan (die grensoorlog) af kom, ons pa’s, ons seuns, ons het probleme,” vertel Stan in ’n onlangse video-onderhoud met Kerkbode.

Lees ook: As die kerk nie help met dienspligtrauma nie, wie sal?

Sy blou oë onder sy netjiese dik bos witgrys hare het ’n reguit kyk. ’n Mens kry ’n gevoel van wat jy sien is wat jy kry. Nie fieterjasies hier nie.

Wanneer Stan begin praat oor hierdie saak wat hom persoonlik so na aan die hart lê, kom jy ook gou agter hierdie is ’n man wat kán gesels. Die uurlange video-onderhoud is opgevolg met ’n streep stemnota’s, maar Stan is ook ’n doener. As hy besluit het om iets te doen, soek hy ’n manier om dit te laat gebeur, soos nou hierdie epiese fietsrit, die ‘iets’ wat hy wou doen om self vrede te maak met daardie dag 38 jaar terug.

‘Ek het gevoel … dat ek nie alleen trap nie’

Fisies was Stan nie die beste kandidaat om so ’n uitmergelende tog aan te pak nie. Hy het al 31 jaar gelede sy rug die eerste keer erg beseer en in Desember 2002 gebreek voor hy verlede winter elke dag vir die tog begin oefen het.

Toe die groot dag aanbreek op 23 Mei het hy tot sy verbasing dit egter nie so veeleisend gevind om elke dag tussen 150 en 165 km te trap op Merkava (beteken ‘chariot of God’), die naam wat hy gegee het vir sy spesiaal omgeboude driewielfiets wat ’n gewigtige 56 kg weeg, darem ook met ’n 750 Watt 48 Volt motor toegerus.

Die vriendelike gasvryheid vanaf vreemdes al langs die pad gaan Stan Potgieter lank onthou.

Hy is oortuig dit is die Here wat hom die krag gegee het, soos hy ook geen twyfel het dat God die idee vir hierdie fietsrit in sy hart gesit het nie. Hy vertel: “… ek het op daai trip gery en ek het gevoel, vele kere, dat ek nie alleen trap nie want ek word nie moeg nie … jy weet vir ’n man van 56 wat vir 30 jaar nie fiets gery het nie (hy haal diep asem) iemand moes my gehelp het en wie my gehelp het is my God.”

Daar was ook, wat hy “validasies” noem van God se voorsiening. Baie mense wat vooraf beloftes van geldelike ondersteuning gemaak het, het dit nie nagekom nie. Toe hulle, hy op die fiets en Pierre, sy broer se seun, in die bakkie vanaf die parkeerterrein by die Voortrekkermonument wegry, het hy net R46 in sy bankrekening gehad. Hulle het nie geweet waar hulle die aand gaan slaap 124 km verder op Rustenburg, hulle eerste bestemming, of daarna nie.

Maar van dag 1 af en tot aan die einde het vreemdelinge oral langs die pad na hulle uitgereik en hulle huise vir hulle oopgemaak.

Dié belewenis van soveel vriendelike gasvryheid staan vir Stan uit as een van die hoogtepunte van sy tog, om die waarheid te sê dit oorskadu vir hom nou sy oorspronklike doel. Hy vertel: “Ek het gedink ek gaan Namibië toe om my hart rustig te kry oor wat gebeur het … en ja, Hy het my gehelp daarmee, ek het rustigheid gekry, maar die Here het vir my ander dinge gewys …”

‘Die ding moet aangaan …’

Die trauma wat hy as tiener in die weermag en op die grens deurgemaak het, het in die jare daarna uitgekom in woedebuie, aggressie, op naweke uitgaan om te drink en baklei want dit was sy manier om te probeer wegkom van die goed wat hom gepla en gejaag het. Die swart hond, soos hulle dit noem.

Stan vertel die keerpunt het so agt jaar gelede gekom toe hy na ’n radio-onderhoud met die oud-kapelaan nou pastorale teoloog, dr Roelf Schoeman,* besef het hy het hulp nodig. Dit het hom op ’n lang terapeutiese paadjie uitgebring wat sy lewe verander het. Dít, en ’n Christelike mannegroep saam met wie hy een keer per week saam bid en ontbyt eet. Só het hy ook weer by die Here uitgekom. Een van hierdie manne het die driewielfiets vir hom uit ’n gholfkarretjie omgebou.

Die pelgrimstog het geskied onder die vaandel van Wear it for the Wounded, sy organisasie sonder winsbejag.

Sy ervaring van die mense in Namibië het hom laat besef een van die dinge wat dit moeiliker gemaak het vir grenssoldate soos hy om weer in die samelewing aan te pas is dat mense hier ver weg van die oorlog was. In sy eie lewe wou sy vrou teen Oktober laasjaar, na 29 jaar se huwelik, “opgee want sy was moeg vir hierdie bakleiery en die oorlog wat daar in die huis aan die gang was …”, maar hulle is nog saam. Een van die dinge wat haar help is om vroue te ontmoet wat ook mans met PTSD het, meen Stan.

“Ons mense is heelwat anders as die Suidwesmense, want daai mense het grootgeword in die oorlog, so hulle het al daai dinge deurgegaan. Hulle het dit verstaan. Ons mense het dit glad nie verstaan nie, want hulle was heeltemal weg van die oorlog. Hulle het veilig in die land gebly terwyl ons op die grens geveg het. Hulle het ons ook nie verstaan toe ons teruggekom het nie.”

Sy epiese fietstog het sover meer as R36 000 ingesamel wat Stan uitdeel as skenkings vir organisasies wat werk met mense met PTSD.

Stan glo vas dit is God se droom dat Suid-Afrika se mense maniere vind om sáám die land weer op te bou. Dit maak hom opgewonde as mense hom nooi om sy storie te kom vertel, sommer vir ’n “gemaklike skouerskuur” soos ’n potjieaand of ’n braai waar die manne én hulle vroue saam kan luister wat die Here vir hom gedoen het en vrymoedig voel om hulle eie stories te vertel.

Intussen maak hy planne om terug te gaan, al is dit net tot in Botswana, saam met ander, want … “dit is my passie, ek voel dit, dat ek op daai pad weer kan kom waar my God my gekry het … en ander mense vat dat hulle dit ook kan beleef.”

Hierdie kombuiskasmaker is nog nie klaar getrap of ry nie soos die akteur/sanger Phillip Moolman sing in die liedjie wat hy spesiaal vir Stan se pelgrimstog geskryf het:

“Daar gaan Stan, hy ry vir man en vrou en kind
om genesing vir ander se wonde te vind …”

 

  • Phillip Moolman is ook ambassadeur van die Veterane Bystandsfonds.
  • Mense wat met Stan Potgieter wil kontak maak kan hom bel by 084 619 8222.
  • Dr Roelf Schoeman het in 2014 die boek Weermagstories uitgegee.

Die storie is aangepas sedert publikasie. Red.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top