Toe ds Ivor Swartz in 2013 as “bekeerde jongman” met ’n selfdoodbriefie klaar geskryf in die hand gestaan het, het hy nie in sy wildste drome kon voorsien hoe anders sy toekoms vandag daar sou uitsien nie.
Dit is hierdie besef dat ’n mens nooit kan weet wat die lewe volgende vir jou inhou nie, dat die titel van sy nuwe boek, sowel as sy eie gelyknamige TV-reeks wat op die boek gebaseer is, getiteld is ‘Kies die lewe!’ (die boek se volle titel is Kies die lewe! Leer dans in depressie).
Swartz is die jeugleraar van Oosterlig, ’n voorstedelike gemeente in Pretoria waar hy, sy vrou Nadine en hulle krulkopseuntjie bly. Kerkbode vang hom vir ’n vinnige gesels op sy middagetebreek gedurende die week wat hy in die Kaap is vir die verfilming van die nuwe Kies die lewe! TV-reeks wat VIA (DStv kanaal 147) weekliks vanaf 5 September gaan uitsaai.
Soos hy in sy boek na verskillende aspekte van depressie kyk, gesels hy oor 13 episodes vir die TV-reeks met verskillende gaste en ’n opvoedkundige sielkundige oor van hierdie temas. Ons gesels Donderdag val tussen ’n gesprek met iemand in ’n rystoel wat oor fisiese gestremdheid en die emosionele uitdagings wat dit meebring gedeel het, én ’n gesprek met rapper/skrywer Reggie ‘Peace’ Hufkie, wat kom gesels oor ‘situational depression’ wanneer jou omstandighede waarin jy grootword neerdrukkend is.
Dit is ’n woelige dag. Drie episodes moet vandag klaar kom en hulle dinge is ’n bietjie agter want Reggie het sy eerste vlug verpas, vertel Swartz, wat eers gou ’n swart-en-wit geruite lumberjack-hemp oor sy kleurvolle kortmouhemp aantrek. Dit is koud in die reusagtige swartgeverfde opname-ateljee, maar sy stel se bont stoele en helder geel mat onder hangende ekstra groot gloeilampe lyk soos ’n eiland van lig.

Lig en hoop in donker tye is temas na aan Swartz se hart. Depressie en sy eie stryd met swaar gevoelens van minderwaardigheid is iets waaroor hy baie openhartig skryf op sy facebookblad.
Dit was juis een van sy facebook-skrywes wat verlede jaar die oog van iemand by die Christelike uitgewer Lux Verbi gevang het. “Toe kontak hulle my en vra my of dit ’n boek kan word,” vertel Swartz en nou is die boek klaar en eersdaags op die rakke.
Hy en depressie stap al ’n lang pad saam. Deels oor die trauma wat hy as kind onder die teistering van ’n dwelmverslaafde ouer broer in sy grootworddorp Grabouw deur is. Vir wie se dood hy later tronkstraf moes uitdien … ’n storie wat hy “vreesloos eerlik”* vertel in sy bekroonde biografie, Seun van die Gaatjie wat nou in sy tweede drukoplaag is. (Lees meer in Kerkbode se resensie: ‘Boek oor skop, skiet en bekering onder wenners van Andrew Murrayprysfonds’. Red.)
Deels oor geneigdheid tot swaarmoedigheid ook in sy familie loop.
Sy ervaring is dat daar nog te veel stigma aan depressie en die kry van hulp daarvoor kleef. “Veral as jy gelowig is,” sê Swartz, daarom gesels hy in sy boek ook oor die kerk en hoe dit ’n veilige ruimte bied vir mense met depressie. Sy hoop is dat sy boek en reeks daartoe lei dat met meer begrip en deernis opgetree sal word teenoor mense met depressie.
Kies die lewe (boekuittreksel)
Wanneer jy te veel voel,
wanneer alles te veel voel,
vra hulp, asseblief.
Ons wil jou las help dra.
Ons dra eerder jou las as jou leemte.
Geen las is te swaar as dit gedeel word nie.
Deel jou laste met ons.
Ek weet nie wanneer dit gaan ligter raak nie, maar tot dan, laat ons jou help!
