Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Kobus Smit skryf uit die buiteland:
Ons het onlangs saam met ons kinders, hier in Kanada, na die kerk gegaan waar hulle aanbid: die Inner City Church. Dit is ’n onafhanklike kerk verwant aan die apostoliese groepering. Hulle gebruik ’n goed toegeruste skoolsaal vir eredienste. Die mense se vriendelikheid en ontvanklikheid het my dadelik tuis laat voel. Die groot saal was gepak deur oud en jonk. Die ekumeniese samestelling van die aanbidders uit baie nasies het my dadelik opgeval. Kanada is ’n land van immigrante. Die atmosfeer was vrolik en ontspanne.
Vir my, as stoere aanhanger van die gereformeerde tradisie, ’n bietjie vreemd. Die groot orkes het begeesterd vir ’n halfuur die sang begelei. Die grootheid en almag van God is met oorgawe besing. Vir my tot groot seën. Die prediking was bitter skraal aan Bybelse inhoud en vol herhalings. Van liturgie was daar nie veel sprake nie.
Op ’n ander Sondag het ek weer die erediens van die Bethel Netherlands Reformed Congregation bygewoon. ’n Besondere mooi kerkgebou. Baie modern ingerig. Die atmosfeer was baie formeel en onvriendelik. Ek het baie ontuis gevoel. Van die immigrantenasie was daar geen teken nie. Almal wit.
Toe ek my sit kry, kon ek my oë nie glo nie. Al die dames is gehoed! Die manne netjies in kerkpakke uitgedos. Die kerkraadsbanke gepak met die manlike geslag! Geen dames! Almal in eenderse vlootblou pakke. Die leraar tradisioneel in ’n swart pak en wit das. Omtrent veertig persent van die kerkruimte was gevul. Ek was verstom. Dít het ek allermins verwag. Dit het gevoel ek sit in ’n erediens uit die sestigerjare in Suid-Afrika. Die sang uit ’n psalmliedboek was emosieloos en stroef. ’n Ouderling het die Wet en Skriflesing hanteer. Die prediking uit 1 Samuel 16 was mooi Bybels, maar die God van die teks het nie juis aan die orde gekom nie. Die Skrifuitleg was sonder duidelike toepassings. Die liturgie basies en verouderd.
By die Inner City Church, net 400 meter straat af, het ek totaal en al die teendeel beleef. ’n Vriendelike, hartlike en informele atmosfeer. Die kerk was vol! Sterk ekumenies! Die sang was baie opheffend. Godgerig. Wonderlik. Die prediking swak. Maar ek het baie welkom gevoel. Die sang het die evangelie gedra.
Na die erediens het die waarheid van Hans Küng se woorde my getref. Ek het toevallig onlangs ook hier in Kanada op ’n boek van daardie beroemde Katolieke teoloog afgekom en deurgeblaai. Hy skryf oor die ekumene. Hy pleit dat die verskillende geloofstradisies en kerklike groeperinge nie mekaar as opponente moet hanteer nie, want hulle het mekaar nodig. Prof Willie Jonker het jare gelede dieselfde waarheid bepleit. Hy het gewaarsku dat geen kerkgroepering daarop kan staatmaak dat hy die “waarheid” besit nie.
Ons het mekaar nodig. Het Jesus dan nie gebid nie: “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het” (Joh 17:21).
Dit sal ons loon om van tyd tot tyd ander kerke se eredienste by te woon. Te gaan kyk hoe die buurkerk dinge doen. Hoe die Gees hulle lei. Hoe hulle hulle geloof bely. Ons het soveel om van mekaar te leer.
