Jare van harde werk lê agter die handtekeninge, bladskud en ’n uitnodiging vir saambraai tussen twee kerkleiers van twee kerke wat vir 72 jaar van mekaar geskei was.
’n Ooreenkoms van nouer samewerking is op Dinsdag 23 Augustus onderteken deur ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Wes-Kaapse streeksinode van die NG Kerk en ds Steven-John Bam, die nuwe moderator van die Calvyn Protestantse Kerk (CPK) voor sowat 80 afgevaardigdes van die NG Kerk in Wes-Kaapland.
“Dit is die gebed van ons hart dat ons op ’n praktiese wyse sal saamwerk en verhoudinge sal bou wat Suid-Afrika help om vooruit te beweeg … (die land) het ’n kerk nodig wat saamwerk, saambid en saamstaan vir dié wat onderdruk word,” het Bam gesê.
Skertsend het Bam bygevoeg hy wil Janse van Rensburg graag langs die braaivuur ook leer ken, nie net by sinodale samekomste nie “dat ons mekaar regtig kan leer ken”. Dié voorstel het goeie aanklank by Janse van Rensburg en die gehoor gevind.
Lees ook: Twee gemeentes steek ‘n brug oor
Hierdie bilaterale ooreenkoms tussen die NG Kerk en die CPK volg na jare van harde werk aan beide kante. Daar het al 72 jaar verloop sedert dr Isaac David Morkel in 1950 weens die destydse apartheidswette toegang tot sy kerk geweier is en hy van agterop ’n vragmotor aangekondig het hy breek weg van die NG Sendingkerk om ’n nuwe kerk te stig.
“Dit is so dat ons vir jare nog stryd gaan voer om mekaar te sien as God se mense sonder die filters waarmee ons mekaar bedien, maar ons hoop hierdie verhouding met die CPK gaan ons help om na mekaar te kyk deur Christus wat al die filters verwyder,” het Janse van Rensburg gesê voor hy Bam na vore genooi het om die ooreenkoms te onderteken.
Die ooreenkoms was een van verskeie ekumeniese gebeure waarvan die afgevaardigdes gehoor het by hierdie tweejaarlikse saamtrek van die Wes-Kaapse kerkleierskap by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington.
Dr Llewellyn MacMaster, moderator van die VGKSA in Kaapland, het ook die geleentheid bygewoon en in sy boodskap homself opnuut verbind tot hierdie proses van hereniging met hulle broers en susters van die NG Kerk, soos hy dit gestel het.
Lees ook: Eenheid: Gemeentes omhels in die Karoo
Hierdie by tye stamperige pad word al 28 jaar geloop sedert die NG Kerk se verbintenis tot kerkeenheid by 1994 se sinode van versoening. Vanjaar was ’n vol jaar van mekaar ontmoet en hoor vir die leierskap van die VGKSA en die NG Kerk in Wes-Kaapland. ’n Derde samekoms word vir 29-30 Augustus beplan “veral vir verteenwoordigers van ringe en gemeentes wat reeds sterk in verhouding met mekaar verkeer,” luidens ’n verslag.
Onder leiding van SACLI (South African Christian Leaders Initiative) is die NG Kerk en die Morawiese Kerk in Suid-Afrika ook besig om hulle bande te versterk. ’n Spesiale naweek genaamd Pilgrimage of Grace word beplan vir 23-25 September. Dit sluit in ’n staptog van Moravian Hill in Distrik 6 na die Groote Kerk op die Vrydag. Saterdag sal Janse van Rensburg namens die NG Kerk ’n skuldbelydenis doen oor die kerk se “skuld en aandeel in die vernedering van die Morawiërs te Genadendal” en word ’n gedenksteen opgerig.

“Die geskeidenheid tussen ons maak ons so ontsettend arm … jy kan nie ’n kerk in Suid-Afrika wees en sê jy is ernstig oor wat daarbuite gebeur maar in jouself ontbreek ’n stuk multikulturaliteit nie,” sê Janse van Rensburg. Hy meen dit is kontramissionaal.
Janse van Rensburg het in Junie vanjaar die CPK se 31ste sinodesitting bygewoon waar Bam as nuwe moderator verkies is. Bam se voorganger was ds Jan Cloete wat deur beide kerkleiers uitgelig is vir sy bydrae tot nouer samewerking tussen die twee kerkgroepe.
Oor die bilaterale ooreenkoms met die CPK het Janse van Rensburg later aan Kerkbode verduidelik die ooreenkoms maak ’n verbintenis vir nouer samewerking op gemeente- en op sinodale vlak tussen die twee kerke. “Ons wil baie graag die isolasie tussen ons verder afbreek,” sê hy. Verder het die kuratorium van die NG Kerk ook hierdie jaar nagraadse beurse aan teologiestudente van die CPK toegeken. Hiervoor is hulle baie dankbaar, het Bam gesê wat self tans met sy meestersgraad besig is.
- Die berig is aangepas sedert publikasie.
