EENHEID: Gemeentes omhels in die Karoo

’n Erediens op Touwsrivier het onlangs van opwinding gebruis by die eenwording van twee gemeentes van onderskeidelik die Nederduitse Gereformeerde en Verenigende Gereformeerde Kerk.

Lidmate op dié Karoodorpie in die Wes-Kaap het geskiedenis gemaak deur slegs die tweede dorp in die land te word waar hierdie histories verdeelde susterkerke verenig. Bredasdorp in die Overberg het in 2018 dieselfde stap van eenwording geneem.

Dr Llewellyn MacMaster het die oggenddiens op Sondag 25 Oktober gelei. MacMaster, moderator van die VGK in Kaapland, het gepraat oor hoe hierdie stap die gemeenskap raak.

Kerkeenheid: Dr Llewellyn MacMaster (regs) het die oggenddiens op Sondag 25 Oktober gelei. MacMaster, moderator van die VGK in Kaapland, het gepraat oor hoe hierdie stap die gemeenskap raak. By hom is ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NGK. Foto: Marli van Eeden

MacMaster het die eenwording van die twee gemeentes met ’n huwelik vergelyk. “Wanneer ’n paartjie aankondig hulle gaan in die huwelik tree, is almal nie noodwendig opgewonde nie, party familielede of vriende is dalk skepties en wonder wat die rede vir die huwelik dan nou eintlik is … Is dit om finansiële redes? Selfsugtige redes wat net een party baat?” het MacMaster gevra. “Gaan die huwelik werk of gaan die paartjie agterkom dat hulle toe nie so compatable is nie,” het lidmate gehoor.

“Tog, op die dag van die troue daag almal op en sit hulle bedenkinge, twyfel en onsekerhede eenkant. Almal is opgewonde en vier saam fees. Almal wens die paartjie seën toe vir hulle pad vorentoe, en dit is presies wat ons vandag hier doen. Dit is ’n diep geloofsaak en die enigste waarborg wat julle vandag het is dat God belowe om die pad saam met julle te stap.”

Een van die dryfkragte agter die proses hier in die Karoo is ds Andrew Esterhuizen. Hy is sedert 2017 die brugpredikant by Touwsrivier. Esterhuizen glo “dekolonalisering” van kerke is nodig om die voortbestaan van gemeentes te verseker, en ou wonde wat diep sit te help genees.

Die NG Kerk en die VGKSA Touwsrivier is nou amptelik een nuwe saamgevoegde gemeente in terme van die Tussenorde. Hy verduidelik: “Om deel te kon wees van hierdie proses om een gemeente te word, is wonderlik. Om te kon praat oor ons situasie, die verdeeldheid tussen die twee kerke en die verlange van beide kante om saam te wees en een te wees het gelei tot talle noemenswaardige besluite. Ons almal dien die Here, en nou kan ons almal Hom saam dien.”

Ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, was ook een van die gaste teenwoordig en het sy seënwense aan die gemeente oorgedra. Janse van Rensburg het beaam dié eenwording is ’n betekenisvolle stap wat die weg baan vir ander kerke, tog sal niemand baat as dit slegs struktureel is nie.

“Eenwording en eenheid gaan nie net daaroor om ou strukture af te breek en bymekaar te kom nie. Die lede van die gemeente moet mekaar ook vind. Vind mekaar se menslikheid in Christus en verstaan dat ons in Christus regtig een is. Hoewel ons uiteenlopend is, word ons een wanneer ons getrou saam met Christus loop.

“Ons staan julle by en ondersteun julle. Ons droom saam met julle.”

Ds Arné Leuvennink, predikant van die Saamgevoegde Gemeente Bredasdorp, het die Touwsrivier-gemeenskap geloof vir hulle toewyding. “Eenheid is alleen moontlik wanneer ons met mekaar versoen. Mekaar leer ken, en mekaar leer lief kry as mekaar se broers en susters. Ek los julle met Judas se eerste vers: ‘My gebed is dat die sluise van God se onverdiende goedheid, sy hemelse vrede en sy liefde voluit oor julle lewe oopgetrek sal word.’”

Die susterkerke is destyds op grond van ras geskei (Sien kassie onderaan die berig). Namate plattelandse dorpe al meer met uitdagings soos verstedeliking sukkel, het die behoefte aan eenwording al groter geword. Die proses vir hierdie twee kerke om een te word het egter nie oornag gebeur nie en die proses om die bal ook kerkregtelik aan die rol te kry, het reeds drie jaar gelede begin.

Hoewel party gemeentelede erken het dat hulle onseker is oor die volhoubaarheid van dié besluit, is hulle tog versigtig optimisties, en glo hulle dit is nodig. Ander gemeentelede is weer vol hoop en opgewonde oor wat hierdie nuwe hoofstuk inhou.

“’n Skool en ’n kerk vorm die ruggraat van ’n dorp, die fondasie,” meen gemeentelid Bennie du Plessis, skoolhoof van die Laerskool Touwsrivier. Du Plessis is al meer as 30 jaar betrokke by die laerskool. “Dit is nodig om ’n stewige fondasie te hê, wat dan die res van die dorp en gemeenskap positief kan impakteer.

“Dit is wonderlik dat die twee kerke bymekaar kon kom en kon bereik wat ons hier bereik het. Die gesindheid en samehorigheid wat gevorm het is mooi. Hierdie is die begin van iets groot.”

Nog ’n gemeentelid deel Du Plessis se sentiment, en vertel sy het veral aanklank gevind by die simboliek van die spekboom, waaroor ds Andri Eloff van die NG Ring van Worcester gepraat het. Eloff het ’n spekboom as geskenk aan Touwsrivier-gemeente oorhandig, en verduidelik dat ’n spekboom oral groei waar dit geplant word. Boonop kan talle stukkies van ’n spekboom afgebreek en in die grond geplaas word, waar dit dan verder sal groei en ’n nuwe boom sal vorm.

So word daar geglo dat Touwsrivier ’n voorbeeld sal stel vir die voortbestaan van gemeentes op die platteland.


Kerkeenheid

Die Belydenis van Belhar het in September 1982 as konsepbelydenis beslag gekry tydens die sinode van die NG Sendingkerk (NGSK), volgens e-CKE. By die sinode van 1986 is dié belydenis as volwaardige belydenisskrif van die NGSK aanvaar en later ook van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA). Die belydenis is vernoem na die plek waar dit ontstaan het, Belhar, wat onder apartheid in terme van die groepsgebiedewet, ’n woonbuurt vir “Kleurlinge” was. Die aanleiding tot die belydenis was onder meer die oortuiging dat die uitgangspunt van apartheid (wat as sodanig nie in die belydenis self genoem word nie) onversoenlikheid tussen mense was, en dat dit daarom regstreeks teen die boodskap van die evangelie ingegaan het. Daaroor kan daar nie verskil van mening onder Christene wees nie, is gesê, dit verg die afkondiging van ’n status confessionis, ’n staat van belydenis.

Op verskillende maniere betrokke by die aanvanklike opstel en uiteindelike goedkeuring van die belydenis, was prof Gustav Bam (wat verklaar het dat ’n status confessionis vereis dat daar ook ’n belydenis[skrif] moet wees), prof Dirk Smit (wat ’n groot aandeel in die skryf van die konsep gehad het), prof Jaap Durand (wat as dosent in die aanloop tot ’n belydenisskrif saam met sy teologieklas in die 1970’s, en in die uiteindelike formulering van die konsep, ’n bepalende rol gespeel het) en dr Allan Boesak (moderator van die sinode van 1986). Formulerings in die 1970’s deur die Belydende Kring, veral deur ds Chris Loff, het ook ’n bydrae gelewer.

Terwyl die NG Kerk in die 1980’s en 1990’s sterk afwysend teenoor die Belydenis van Belhar gereageer het, het die Algemene Sinode van 2011 tot ander insigte gekom en besluit om, as sinode, die Belydenis van Belhar as belydenisskrif te aanvaar en om die kerkordelik-voorgeskrewe weg te volg sodat dit as ’n belydenisskrif van die NG Kerk as geheel aanvaar sou kon word. Twee jaar later het die Algemene Sinode besluit om aan kerkrade en streeksinodes voor te stel dat die formulering van Artikel 1 van die Kerkorde verander word sodat daarin ruimte gemaak word vir die Belydenis van Belhar – maar sonder dat die belydenis daarvan afgedwing sou word. Dié voorstel is aan belanghebbendes deurgestuur sodat op die kerkordelik-korrekte manier daarmee gehandel kon word. Dit is egter nie in 2015 deur kerkrade en streeksinodes op die voorgeskrewe manier aanvaar nie en die Belydenis van Belhar is dus nie as (opsionele) belydenisskrif in die NG Kerk se Kerkorde ingeskryf nie. Enkele buitelandse kerke het die Belydenis van Belhar intussen ook as belydenisskrif aanvaar. – BRON: WJ BOTHA, FM GAUM in die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (e-CKE).

One thought on “EENHEID: Gemeentes omhels in die Karoo

  1. Lood Oliver says:

    Die vraag ontstaan waar hierdie gemeente nou kerkregtelik inpas. Die “eengeworde gemeente” sal moet besluit by watter kerk hulle inskakel. ‘n Gemeente kan duidelik nie op twee stoele gelyktydig sit nie.

Comments are closed.