Sondagoggend 11 September het ’n stormvloed grys modderslik groot skade in Jagersfontein se omgewing aangerig, maar daarna het ’n andersoortige ‘tsoenami’ harte verwarm op hierdie arm Vrystaatse myndorpie.
Vir ’n klein span vanaf die Vrystaatse Sinode lyk dit steeds soos ’n maanlandskap met hul besoek vyf dae later. In die eerste minuut van ’n 10-minute video oor hierdie besoek vertel ds De la Harpe le Roux van hul eerste indrukke soos hulle na die dorp ry. Die verwoesting lyk erger as wat hulle verwag het.
Weens die ramp is een bejaarde man dood en twee inwoners meer as ’n week later steeds vermis.
Dieselfde dag nog begin ’n ander storie ontvou … een van hoop. Een inwoner, Rio-Rita Breytenbach, is vanuit haar kombuis, deur ’n boom en kilometers ver stroom-af meegesleur sonder om ‘n been te breek of enige ernstige beserings op te doen. (sy vertel haar storie in die video onder – Red.).
Van oral in die land, selfs so ver as Botswana, het organisasies en individue hulp kom aanbied.
Daar was selfs ’n lykswa wat waterbottels en kos uit Bloemfontein aangery het, vertel Dora Swanepoel later in ’n telefoniese gesprek vir Kerkbode. Sy is een wat saam met haar man moes opstaan as hulpbesendings snags opdaag. As die koster is sy die een met ’n sleutel vir die NG gemeente se kerkgebou en saal wat die gemeente beskikbaar gestel het om as sentrale depot vir die berging en verspreiding van hulpvoorraad te dien.
Vir die afgelope vyf jaar was Swanepoel dikwels die eerste mens op ’n Sondag by die kerk om alles reg te sit vir die erediens.
So was dit ook op Sondagoggend 11 September – die dag wat haar en almal op die dorp se lewe in ’n oomblik sou verander.
Die ramp wat inwoners al lank gevrees het, het gebeur. Die mynslikdam buite die dorp se wal gee mee en met ’n “geruis” vee ’n grys wal mynslik mense, huise, diere en karre weg.
Ds Cor Potgieter vertel die mynslik is tussendeur die mynkamp en die ‘township’ Ithumeleng en oor dele van die plase langs ’n spruit buite die dorp. Hoewel afgetree is hy die laaste vier jaar leraar van sowel die buurdorp Fauresmith as Jagersfontein omdat die myndorp se gemeente met so 120 lidmate nie meer ’n leraar kan bekostig nie.
Van al hierdie chaos onder in die dorp was Swanepoel salig onbewus terwyl sy reggemaak het vir hulle gemeente-ete na die diens – ’n dankseggingsdiens om dankie te sê dat dit met hulle gemeente se laaste twee fondsinsamelings so goed gegaan het.
“Ek het ’n gedruis gehoor, maar gedink dit is kragopwekkers, want ons het beurtkrag … toe bel ’n vriendin my en vertel van die damwal … my eerste gedagte was ‘dit kan nie!’,” onthou sy. Sy het dadelik haar man Marius gebel om te gaan kyk.
Vir hulle en die res van die dorp het ’n week gevolg soos hulle nie ken nie.
Eers was die nooddienste daar soos die brandweer uit Bloemfontein om na vermiste mense te help soek. Toe kom Gift of the Givers en selfs die Dierebeskermingsvereniging.




Hulp van regoor die land
Die hulp van oraloor is vir hom die “mooiste van die mooi”, vertel Potgieter. “Dit laat ’n ou se hart goed voel.”
Hulle is ook dankbaar vir die kosbare hulp en advies wat hulle gekry het vanaf die barmhartigheidsbediening van die Vrystaatse Sinode. Ook vanaf die burgerlike organisasie Solidariteit se Helpende Hand-bediening.
Die stroom van ondersteuning van regoor die land, hoewel welkom, was egter oorweldigend. Potgieter vertel die gemeente het toe die kerkgebou aangebied as ’n “nodale punt” waar alles wat inkom geberg kan word. Hiervandaan word dit in samewerking met inwoners van Ithumeleng en Charlesville asook die plaaslike munisipaliteit versprei na waar mense met nood is.
Le Roux het Vrydag saam met Potgieter en leierskap uit die gemeente ontmoet, “nie om hulle te sê wat hulle moet doen nie, maar om langs hulle te kom staan, saam te luister en saam te besin oor die pad vorentoe,” skryf Le Roux in sy terugvoer vir Kerkbode.
LEES GERUS SY VOLLEDIGE SKRYWE: Jagersfonteinramp: NGK Vrystaat vind hoop in woesteny
“Wat ’n seën is die lidmate en leiers van die plaaslike NG gemeente nie! Sonder ’n voltydse leraar, maar met ’n liefde vir en toewyding aan die mense van die dorp word daar leiding geneem om hulle wat skade gely het te ondersteun, by te staan en te vertroos,” skryf Le Roux, wat ook aan die hoof staan van die Torings van Hoop-bediening in Bloemfontein.
Vir Swanepoel was hierdie laaste week een wat sy lank gaan onthou. “Wow! Dit was ‘incredible’ … ek sê altyd die wêreld waarin ek nou leef ken ek nie, want dit is so lelik as ’n mens kyk na wat in die skole aangaan, op TV, die moord en doodslag, maar dié week het ek besef daar is nog goedheid.”
Só kan jy help
Le Roux laat weet hoewel daar groot waardering vir enige hulp is, is daar tans behoefte aan die volgende: tandeborsels, skeermesse, waslappe, handdoeke, onderklere, toiletpapier, lyfroom, babadoeke, en roll-on’s. Daar is ook nood aan 1 200 losstaande ligte (werk met batterye).
Vir meer inligting, kontak gerus die volgende persone:
Ds Cor Potgieter: 083 276 4742.
Dora Swanepoel: 084 485 8554.
Ds De la Harpe le Roux: 083 232 1051.
- Die berig is aangepas na plasing. Red.

