Die beperkende asóók bevrydende gevolge van taalgebruik skep veral in geloofskonteks ’n groot verantwoordelikheid by taalgebruikers, het prof Tanya van Wyk in haar bydrae by vanjaar se Lentekonferensie aangevoer.
Van Wyk het breedweg wit-of-swart-denke tesame met onwilligheid om ’n ryk verskeidenheid van stemme en sprekers by gesprek in te nooi, as hindernisse vir oop gesprek uitgesonder.
LEES OOK: Jagersfonteinramp: NGK Vrystaat vind hoop in woesteny
Teen die einde van ’n twee-uur-lange sessie op Woensdag 21 September, waaronder ’n wydlopende vraag-en-antwoord-sessie, het ’n medekonferensieganger “gebieg” dat hy skoon benoud gelaat is oor die “verskriklike mag” van taal wat Van Wyk beskryf het. “Jou voordrag oor die mag van taal maak my nog banger om oor God te praat,” het dr James Kirkpatrick met betrekking tot sy eie voordrag wat sou volg, laat hoor. Van Wyk, wat Sistematiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria doseer, was simpatiek: “Natuurlik is ’n mens versigtig,” het sy gesê ná ’n kort oorsig van ’n verwysingsraamwerk wat sê dat (die mens) eintlik niks oor God kan sê nie (“so ons moet eerder stilbly”). En ’n verwysingsraamwerk wat sê “ons praat oor God, want ons is mense, ons kry uitdrukkking in taal, ons skep ons identiteit in taal.”
LEES OOK: ‘Kom ons herontdek God’ – Eerlike lente breek aan met Boesak se bydrae tot Lentekonferensie
Nog ’n konferensieganger, dr Marinda van Niekerk, het Van Wyk weer bedank: “Dit vra moed om die magswaarde van taal aan te spreek, veral in die kerk.”
Die konferensieleier, dr André Bartlett, wou op ’n kol by Van Wyk hoor: “Hoe kry ons dit reg om oor moeilike sake, waaroor ons verskillende oortuigings het, gesprek te voer?” Van Wyk was, nes in die res van haar deelname, versigtig en genuanseerd in haar antwoord hierop. Met verwysing na die “moeras van sosiale media”, het Van Wyk gesê: “Ek weet nie of die ruimte waarin ons onsself as mensdom nou bevind, (bevorderlik) is vir hierdie tipe van gesprekke wat ons wil voer nie. Ek weet nie of ons leefruimte en die sosiale ruimte wat ons vir mekaar geskep het, sulke gesprekke meer moontlik maak nie.”
Ons is in Suid-Afrika, volgens Van Wyk, via die invloed van ’n Westerse denkraamwerk, “besonder gerat om net in binêre kategorieë te dink. Met ander woorde, opinies moet heeltyd teenoor mekaar gestel word. Daar is nie ’n bepaalde vloeibaarheid nie, ’n soepelheid, ’n dialektiek om enige onderwerp nie-binêr te hanteer nie.”
Hierdie tendens is volgens haar ’n tragiese struikelblok vir die soort gesprek waarna Bartlett uitgevra het. “As ons nie bereid is om ten minste ons binêre verwysingsraamwerk en ons sosiale ruimtes te problematiseer nie, gaan ons sukkel.”
