Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Prof Allan Boesak glo die kerk het met sy stilte sedert die aanbreek van die demokrasie in Suid-Afrika vir “God, Jesus en ons mense lelik in die steek gelaat”.

‘Kom ons herontdek God’ – Eerlike lente breek aan met Boesak se bydrae tot Lentekonferensie

“Ons moet God herontdek in die konsekwensies van ons keuses,” het prof Allan Boesak in ’n energieke voordrag by die eerste dag van vanjaar se virtuele Lentekonferensie gesê aan gelowiges in Suid-Afrika, “wat vandag die mees ongelyke land ter wêreld is.”

Die kerkleier se rede was klaarblyklik gemik op bemagtiging eerder as ontmagtiging en was eerlik oor wat hy glo die kerk se versuim sedert 1994 was. Die 76-jarige Boesak, wat al in sy 30’s die wêreldverhoog betree het en in die stryd teen apartheid teologies en politieke leiding geneem het, het gesê die “skades en skandes” waarmee Suid-Afrikaners vandag moet saamleef, ontneem waardigheid en skep vernietigende skaarstes.

Zoom-konferensies is lank nie meer ’n aardigheid nie; dit is trouens die derde Lentekonferensie wat daarlangs plaasvind. Maar terwyl Suid-Afrikaners vandeesweek hulle weg deur die skemer van Fase 6-beurtkrag moes tas, was dit stellig die tweede meer as die eerste sin van vanjaar se konferensietema wat die aktualiteit van die saamtrek verseker het: Vreugde in oorvloed – Geloof in ’n tyd van skaarste. Dr André Bartlett het namens Excelsus Sentrum vir Bedieningsontwikkeling die konferensie, wat van 20-22 September duur, met ’n Skriflesing uit Johannes ingelei.

Boesak het in sy rede verwys daarna dat predikers met ’n “ander-wêreldse teologie” gepaard met “hierdie-wêreldse agendas” eintlik net die status quo in stand wil hou. “So, dit is nie in ons onttrekking aan die wêreld dat ons God herontdek nie. Ons herontdek God eerder in uitreik na en omhelsing van die gewonde, die andersgemaakte ander in wie God Godself weer aan ons openbaar,” het hy gesê. “Ek praat nie van sopkombuise en kleertjies uitdeel nie … Dis alles baie nodig, want die armoede is skrikwekkend. Maar ek praat van dat ons koppe bymekaar sit en vra hoe kan ons die regering dwing om ’n ander ekonomiese en politieke beleid te aanvaar en dit die basis van die samelewing te maak wat geregtigheid ’n groter kans sal gee as wat neo-kapitalisme ons nou gee.” Boesak het die “profetiese kerk” teenoor die ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika gestel. “Die rampspoed van die mensheid is die kloppende hart van neoliberale kapitalisme. Bloed en trane vertaal in ongekende profyt.”

Boesak en Bartlett tydens die vraag-en-antwoord-sessie. Skermgreep via Zoom.

Boesak glo die kerk het met sy stilte sedert die aanbreek van die demokrasie in Suid-Afrika vir “God, Jesus en ons mense lelik in die steek gelaat”. “As die kerk se stem stil word, laat jy die evangelie in die steek,” meen Boesak. Hy glo daardie vakuum is ten kwade gevul. Hy glo ook die versoening wat na 1994 aangepak is, het “te goedkoop” gekom. “Ons het oor fundamentele waarhede gespring om by vergifnis te kom.”

Boesak meen die parlement is deesdae “selfverende teater”, wat hom nie hoop gee nie. Dit geld ook die herleefde rassisme en heromarmde stambewustheid wat hy in ons land bespeur. Maar, het die prediker ten slotte gesê, Jesus is die beliggaming van God se liefde en rebellie teen ongeregtigheid. Jesus rebelleer teen magsvergryp, het hy uit die Bybel voorgehou.

Boesak se bydrae is gunstig ontvang en hy het verskeie vrae beantwoord na afloop van ’n reeds omvattende bydrae. Bartlett het Boesak se sessie afgesluit deur die teoloog te bedank en te sê hy hoor dat die liefde waarna daar in die Johannesevangelie verwys word nie soetsappige welwillendheid is nie, maar liefde as soeke na geregtigheid en die uitreik na en solidariteit met die verontregte.

  • Die Excelsus Sentrum vir Bedieningsontwikkeling is verbonde aan die Fakulteit Teologie by die Universiteit van Pretoria en is verantwoordelik vir die voortgesette bedieningsontwikkeling (VBO) van predikante van die NG Kerk.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top