Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Marinda van Niekerk het gepraat oor die waarde van ’n ruimer nagmaaltafel as ’n plek waar stukkende mense kan heel word.

Lentekonferensie: Oor middestadsorg en ’n deurbraakbesef by die nagmaaltafel

Dit was jare terug toe sy onverwags saam met drug users en prostitute wafers en sap om ’n nagmaaltafel gedeel het wat die besef vir haar deurgebreek het dat dít bedoel is as ’n plek vir gebroke mense om heel te word.

Daarom is die nagmaaltafel vir haar ’n geskikte metafoor om te gebruik vir ’n gesprek rondom die vraag: Is ons kerkmodelle relevant in ’n konteks van skaarste?

Só sê dr Marinda van Niekerk, stigter en uitvoerende hoof van die Christelike middestadbediening PEN in Pretoria tydens ’n virtuele middagsessie wat sy lei op die tweede dag van 2022 se Lentekonferensie*.

Sy kies as tema: “Waardigheid, geregtigheid en koinonia: bestanddele vir nagmaalsbrood”, want, verduidelik sy, vir haar is die nagmaalstafel ’n plek waar alle mense met gelykheid, waardigheid en respek hanteer word.

LEES OOK: Kom ons herontdek God – eerlike lente breek aan met Boesak se bydrae tot Lentekonferensie

Koinonia is ’n kernwaarde by PEN – dit beteken hulle strewe in alle opsigte om ’n omgewing te skep waar mense werklik omarm word ongeag wie of wat hulle is of hoe hulle lyk of ruik.

Dít skep ’n omgewing wat die geleentheid vir mense bied om hulle lewe werklik te verander, om te “floreer”, ’n woord wat Van Niekerk graag gebruik.

In die 30 jaar wat PEN bestaan, het dit gegroei tot ’n omvattende stedelike bediening wat duisende lewens raak, met ’n hele paar duur lesse langs die pad. Een les wat hulle vroeg geleer het, is dat handouts van klere en kos nie werklik mense se lewe verander nie.

Om die verskil in uitkoms te illustreer, vertel sy die storie van ’n hawelose doofstom man genaamd Johnny Q – die naam wat hy gekry het in ’n kerksaal wat as ’n tydelike skuiling ingerig was gedurende die streng inperkingstyd tydens die Covid-pandemie. In hierdie ruimte het die hartlike omarming deur almal daar gehelp dat hy ’n ander mens daar uitstap, ’n man met ’n werk wat vir sy familie kan sorg.

Sy gesig vertel die storie: Johnny Q was ‘n doofstom man wat tydens die grendeltydperk haweloos en moedeloos by ‘n tydelike skuiling ingestap het, maar ‘n ander mens daar uit is.

Hoewel mense mag dink dat hulle by ’n sendingorganisasie min tyd aan teologie spandeer voel dit vir haar, ’n opgeleide NG dominee, of hulle teologie in praktyk elke dag beleef en herontdek, proe en ruik.

Sy vertel dit was juis tydens ’n nagmaalgeleentheid wat sy en ’n kollega in die middestad aangebied het wat hierdie besef vir haar oopgebreek het. Een oomblik deel hulle “wafers” en sap uit en die volgende oomblik staan dwelmgebruikers, straatvroue, kinders voor hulle.

“Dit was of die Here dit so kom oopbreek het … dat die nagmaaltafel ’n plek is vir stukkende mense, vir heel word.”

Sy meen die uitdaging vir baie gemeentes is egter hoe om reg te kry om minder tradisioneel te dink vir wie hulle en hulle kerkgebou daar is, dat dit ’n plek van heling kan wees vir die hele gemeenskap. Dit kan insluit om goed anders te doen, ook wat betref die taal wat in die erediens gebruik word, het Van Niekerk bygevoeg met verwysing na die oggend se lesing deur prof. Tanya van Wyk.

LEES MEER: Lentekonferensie: magswaarde van taal moedig bekyk/ 

Soos een dominee teen die einde opmerk: “Ek dink dat ’n nuwe roeping aan ’n gemeente gegee word as hulle kleiner word … die liefde (moet) ons hart aktiveer om ook die nagmaaltafel oop te maak, maar die gewilligheid is die uitdaging.”

  • Die Lentekonferensie is ‘n jaarlikse hoogtepunt op die kerkkalender en word aangebied deur die Excelsus Sentrum vir Bedieningsontwikkeling wat verbonde is aan die Fakulteit Teologie by die Universiteit van Pretoria. Die sentrum is verantwoordelik vir die voortgesette bedieningsontwikkeling (VBO) van predikante van die NG Kerk.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top