Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dawie de Wet skryf: Oppas vir sosiale geregtigheid!

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dawie de Wet van Willowmore skryf: Neels Jackson (Kerkbode, 12 Okt) gee ’n uiteensetting waarom die Algemene Sinode nie verwyt moet word dat die sinode die ideologie van sosiale geregtigheid (SG) nastreef nie. Vir hom beteken SG dat ons godsdiens mensgerig moet wees. Hy bewys dan dat dít Jesus se voorbeeld vir ons was.

Neels, ek stem saam dat geloof sonder werke dood is en dat die evangelie praktiese naastediens vereis. Maar ek verskil van jou gelykstelling van praktiese Christenskap met die ideologie van SG. Ja, navolging van Jesus vereis naastediens, maar binne die konteks van die hele evangelie. Sosiale geregtigheid kom uit humanisme en Marxisme en dit mis die hart van die evangelie.

LEES OOK: Neels Jackson | ‘Die Evangelies is vol daarvan dat Jesus ’n mensgerigte lewe kom leef het’

Ons belydenis (HK) verduidelik die evangelie in drie hoofpunte: Sonde, Verlossing en Dankbaarheid. Alle mense is in sonde gebore en dus vir ewig verlore; Jesus het vir verlore sondaars gesterf en Hy gee die ewige lewe aan elkeen wat in Hom alleen as Verlosser glo. Almal wat glo dat hulle in Jesus verlos is, word dan opgeroep om hulle dankbaarheid aan God vir hulle verlossing uit te lewe. Hierdie dankbaarheidslewe het Bybels vier elemente: goeie werke; ware bekering; wetsgehoorsaamheid en gebed. Die uitleef van Jesus se voorbeeld van naasteliefde (volgens jou uiteensetting, Neels) is hierdie eerste element van dankbaarheid. Dan vra die Here óók van my om daagliks my ou, sondige lewe met ’n wilsbesluit af te lê en die nuwe lewe in Christus te lewe. Dit beteken dat ek die morele riglyne wat die Here vir ons in sy Wet gee, volgens Jesus se interpretasie daarvan in die Bergrede sal uitleef. Dit is net moontlik as ek in ’n lewende gebedsverhouding met my Verlosser lewe.

Net soos die Here enersyds mensgerig opgetree het, het hy andersyds uiters skerp teen dwaalleer uitgevaar. Ek het ervaar dat dwaalleer gedy waar mense een van bogenoemde vier dinge wat die belydenis onder “Dankbaarheid” leer, in hulle denke onder “Verlossing” sien. Dít word vir hulle dan die sjibbolet van “ware Christenskap,” maar eintlik is dit verdienste-saligheid. Jesus sê duidelik dat baie mense in die oordeelsdag vir Hom sal probeer oortuig dat hulle die hemel verdien met alles wat hulle gedóén het, maar Hy sal dan sê: “Ek het julle nooit geken nie!”(Matt 7:23).

LEES OOK: Kom ons praat oor ‘hartgrondige reformasie’

Natuurlik is daar in ideologieë soos Apartheid, Sosiale Geregtigheid, Afrikanisme, ensovoorts elemente wat met die Bybel ooreenkom, soos jy duidelik uitwys. Daarteenoor is daar ook in alle ideologieë dinge wat teenstrydig met die Bybel is. By SG is die grootste probleem dat dit die totale verlorenheid van die mens ignoreer. Die reaksie binne die kerk van aanhangers van SG teen dissipline en selfs die lees van die Wet bewys dit. As mense nie verlore is nie, is verlossing nie regtig nodig nie. Dan word die navolging van Jesus se voorbeeld van mensgerigtheid belangriker as geloof in sy verlossingswerk – en dís dwaalleer.

Neels, sien jy nou waarom ek SG as ideologie verwerp, al stem ek saam dat ons Jesus se voorbeeld moet uitlewe?

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top