Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hoffie Hofmeyr skryf: Kom ons praat oor hartgrondige reformasie

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Prof JW(Hoffie) Hofmeyr skryf: Die brief oor “Belydende gemeentes” in Kerkbode van 6 Mei deur Albin Bowler verwys. Die skrywer stel dat die dolerendes nie die enigste is wat die term “belydend” mag opeis nie. Hy is gedeeltelik korrek maar ook gedeeltelik verkeerd.

Die term belydend beteken ’n kerk wat eerstens erns maak met die belydenisskrifte, dws naas die ou klassieke geloofsbelydenisse ook die Drie Formuliere van Eenheid. En ’n belydenis as ’n geloofsuitspraak is ’n wesenlike deel van die gelowige en die kerk se bestaan. Reeds uit die vroeë kerk het gelowiges in die kerk dit nodig gevind om die hoofwaarhede van hulle geloof in belydenisse saam te vat.

Alleen ’n kerk wat egter ’n belydeniskerk is, kan ook ’n belydende kerk wees dit wil sê ’n lewende en dinamiese kerk. Op baie punte het die NG Kerk soos onder andere blyk uit die goedpraat van ’n simboliese verstaan van Christus se opstanding, en die ontkenning van die Satan as ’n fisiese werklikheid, reeds myns insiens die belydenisskrifte begin verwaarloos. Albin Bowler is reg wanneer hy sê dat dit nie net die dolerendes is wat die term “Belydend” kan gebruik en al meer sal en wil gebruik nie.

Lees ook: ‘NG Kerk staan binne belydenis’ – Nelis Janse van Rensburg

Bowler is egter verkeerd wanneer hy stel dat daar honderde gemeentes en duisende lidmate en predikante is wat ons belydenisskrifte erken en bely. In woord (de iure) mag dit miskien so wees, maar in daad (de facto) is dit nie oral meer die geval nie.

Vriend Bowler, vir wie ek waardering het, ons staan waarskynlik voor ’n vurk in die pad: òf ons gaan as 21e eeuse mense deur eietydse maar hartgrondige reformasie terug na die wesenlike van ons Christelike geloof naamlik Skrif en Belydenis, òf ons loop al meer ’n afdraande pad. As ons die eerste pad kies dan is ons beslis op pad om weer ’n Skrifgetroue, belydenisgetroue en ’n belydende kerk te wees en te word.

En as ons die tweede sou loop, gaan ons al meer in ’n klub opeindig wat wel mooi liefdesdade verrig, maar wat moontlik in ’n humanistiese doodloopstraat gaan doodbloei.

Lees ook: ‘In die kern staan nie ’n geloofsoortuiging nie maar ’n persoon, Jesus Christus’

Die dolerende gemeentes en die Kairos-Netwerk kies ongetwyfeld daarvoor om ’n eerbare en verantwoorde BELYDENIS- EN BELYDENDE KERK te wees. Ek nooi graag die twyfelaars en weifelaars onder predikante en gemeentes om aan die NG Kerkleierskap te sê so kan dinge nie aangaan nie. Om die olifant in die kamer, naamlik ’n gegronde besorgdheid oor verskraling en eensydighede te ontken, gaan nie die verdwyning van die olifant beteken nie. Ek nooi daarom ook die NG Kerkleierskap uit tot gesprek oor hartgrondige reformasie, waarvoor die geleenthede al minder word. Ons moet beslis ophou om oor mekaar te praat maar moet in die gees van opregte gelowiges te wees, direk met mekaar begin praat.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top