Term “belydende gemeente” nie alleenreg vir dolerendes

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Albin Bowler van Bellville skryf:

Prof JW Hofmeyr se skrywe “‘Belydend’ eerder as ‘dolerend’?” in Kerkbode van 22 April 2022 (p 8) verwys.

Die NG Gemeente Richmond (onder leiding van dr Theo Badenhorst) gebruik die term “belydende” gemeente, pleks van “dolerende” gemeente.

Volgens prof Hofmeyr is die bewoording ’n nuwe en merkwaardige ontwikkeling. Die res van sy skrywe lyk/klink asof hy die bewoording steun.

Alhoewel die NG Gemeente Richmond nogal slim was om die bewoording “belydende” gemeente te gebruik, pleks van “dolerende” gemeente (vir bemarkingsdoeleindes), is dit ongelukkig nie korrek nie en skep ’n verkeerde en valse indruk.

Feit is, honderde gemeentes wat nie doleer nie, insluitende gemeentes met gay predikante, is almal belydende gemeentes wat ons gereformeerde belydenisskrifte erken en bely, dit wil sê met die inhoud daarvan saamstem.

Daar is dus duisende lidmate en predikante van nie-dolerende gemeentes wat onder andere saam in die volgende glo:

  • ’n Drie-enige God (drie Persone, een Wese).
  • Die maagdelike geboorte van Christus.
  • Die liggaamlike opstanding van Christus Jesus.
  • Die hemelvaart van Christus Jesus.
  • Twee Nature, maar een Persoon van Christus, ons Verlosser.
  • Die persoonlike bestaan van Satan.
  • ’n Eindbestemming, hemel of hel.
  • Die gesag van en vashou aan die Heilige Skrif.
  • Die waarde van ons belydenisskrifte (dit wil sê staan op die skouers van hordes kerkvaders, insluitend Calvyn).
  • Christus as Hoof van die Universele Kerk, insluitende die plaaslike gemeente.
  • Met die hulp van die Heilige Gees is ons, as sy kinders, nou die oë, ore, hande, voete, mond wat Christus na die wêreld stuur.

Die feit dat sommige mense selfdegeslagverhoudinge goedkeur, en nog steeds in bogenoemde waarhede glo, maak nie van diegene nie-belydende mense of gemeentes nie, nog minder ongelowiges.

Feit is, daar is verskille, soos ook verskille met baie ander gebruike, byvoorbeeld keuse van Sondag / Sabbat, keuse van liedere, doop en nog baie meer. Hierdie verskille het gelei tot vorming van nuwe denominasies binne die gereformeerde tradisie.

Prof Hofmeyr is oor een aspek absoluut korrek: Daar sal weer ernstig gesels moet word oor Skrifuitleg, want dit is die groot kwessie.

Word 'n vriend van Kerkbode