Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

VIDEO: ‘NG Kerk staan binne belydenis’ – Nelis Janse van Rensburg


Ds Nelis Janse van Rensburg het vandeesweek in ’n boodskap aan lidmate gereageer op “gerugte dat die NG Kerk in haar belydenis wankel”.

Hy meen daar is ’n globale tydsgees van weerstand teen gesag – ook teenoor kerklike gesag. “In daardie denkruimte word daar agterdog gesaai en word die man gespeel,” sê die moderator van die Algemene Sinode in ’n kort videoboodskap (5 minute, 19 sekondes) wat aan Kerkbode verskaf is. “Die waarheid is dat ons in ons besluite in die sinode en in ons besluite in ons kerkrade, ernstig is oor ons belydenis en besluit vir besluit uitdrukking gee daaraan dat ons staan in die tradisie waarin ons staan.”

 

Van Rensburg sê: “Die afgelope tyd is daar gerugte in die NG Kerk versprei, en van buite die NG Kerk, dat ons in ons belydenis wankel. Dit is nie waar nie. Die waarheid is dat die NG Kerk ’n belydeniskerk is. Dat ons ’n kerk is wat staan in ’n lang gereformeerde tradisie. Dit is ’n dinktradisie. Dit is ’n tradisie waarin ons ons rasionele vermoë baie ernstig neem en daarom dink oor moeilike kwessies. Maar ons staan binne ons belydenis. Ons bely Sondag na Sondag op ons kansels die Twaalf Artikels of die Apostoliese Geloofsbelydenis … dit is ’n belydenis wat oor eeue kom. “Ons glo in ’n lewende Christus wat tussen ons leef deur sy Gees wat in ons woon, en so die kerk tot stand bring, sê die Twaalf Artikels. Ons glo in die opstanding van die liggaam. Ons glo in die ewige lewe. Ons glo in gebed, ons glo in die krag van gebed’.”

Geborg

 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

10 thoughts on “VIDEO: ‘NG Kerk staan binne belydenis’ – Nelis Janse van Rensburg”

  1. Philip Coetzee

    Na aanleiding van Ds Nelis se verklaring oor die belydenis in die breë wat nog pligsgetrou in ons kerke toegepas word: Ds, miskien in jou gemeente maar nie in baie ander gemeentes nie, veral nie in my gemeente nie. Die spreekwoord: “ñ halwe waarheid is ñ volle leun” kan vêrder geneem word; behalwe dat dit nie die volle waarheid vertel nie, veroorsaak dit erge onsekerheid wat vêrdere skrifverwarring saai, dwaling. Byvoorbeeld, om te bely: “ek glo in die vergifnis van sonde” is ñ waarheid op sy eie. Maar nou kom die GROOT MAAR, alles goed en wel, maar is daar nie ñ MAAR aan verbonde now? Maar leef ñ bekeerde lewe. Net gister vertel ñ groepie vroue, mede lidmate, my dat een van hulle ñ leraars gevra het of mense meer as een maal vergifnis van jou sonde moet vra. Sy antwoord was: nee, as jy eenkeer gevra het, het God jou klaar vergewe. Bekering is ñ daaglikse aksie wat met nederigheid en afhanklikheid belei moet word, en ons as mens is te swak om volkome vry van sonde te wees. Ons pleeg sonde deur ons woorde, werke en gedagte, daarom is vergifnis, bekering en geloof on-afskeidbaar van mekaar. Dit is ñ belangrike integrale deel van ons beleidenisskrifte en dit wat God, deur die bloed van Christus, vir ons vra.

  2. Geagte leser, ons moedig oop, respekvolle en opbouende gesprek op Kerkbode aan.
    Ons vermy die publikasie van …
    * Kommentaar wat ander se geloof en Christenskap bevraagteken op grond van verskillende interpretasies van sekere aspekte van die Christelike tradisie.
    * Kommentaar wat ander beledig, ook wanneer dit beskryf word as ’n vorm van godsdienstige vermaning.
    * Kru taal of bloot onsmaaklike opmerkings.
    * Lasterlike opmerkings, insluitende kommentaar wat daarop gemik is om individue of kerkgemeenskappe skade te berokken.
    * Enige vorm van haatspraak, insluitende rassisme, seksisme en homofobie.
    * Gespreksgenote wat die bladsy oorneem om ’n eie agenda af te dwing. Dit sluit onder meer in om herhaaldelik aan te dring daarop dat sekere onderwerpe bespreek word, byvoorbeeld om voortdurend gesprekke te begin oor Kerkbode se riglyne vir gesprekvoering en hoe dit toegepas word.
    * Kommentaar wat na die oordeel van die gespreksmoderator nie bydra tot respekvolle dialoog nie.

    Lees ons volledige kommentaarbeleid hier: https://kerkbode.christians.co.za/kommentaarbeleid/

  3. Jaun de Vries

    Artikel 1 van die Kerkorde van die NG Kerk stel dat “die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van
    Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls”.

    M.a.w. die Drie Formuliere van Eenheid verwoord wat die Kerk bely (in ooreenstemming met die Woord van God).

    Nou, artikels 5 en 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis handel oor die gesag en volkomenheid van die Heilige Skrif en meld o.a. dat ons die Skrif alleen aanvaar as heilig om ons geloof daarna te rig, dat ons sonder twyfel alles glo wat daarin vervat is, dat ons glo dat die Skrif die wil van God volkome bevat en “mag ook niemand, selfs nie apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie”. Verder “mag ons ook nie … persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie”. As die Bybel dan duidelik en ondubbelsinnig homself teen homoseksuele praktyke uitspreek (verwys Gen. 19, Rig. 19, Lev. 18, Rom.1, 1 Kor. 6, 1 Tim. 1, ens.) waarom moet die lidmate die Algemene Sinode se besluit, wat die Bybel se standpunt oor homoseksualiteit weerspreek, aanvaar? En hoe kan gewone lidmate dan aanvaar dat die Kerk nie wankel nie en wel nog steeds binne sy belydenis staan?

  4. Riaan Esterhuyse

    Vriende, ons het nou al tot vervelens toe vir mekaar gesê dat die gay-vraagstuk ‘n vraagstuk is wat nie in ons leeftyd antwoorde gaan oplewer nie. Om mekaar se sienings hieroor te verguis is nie in belang van enige iemand nie. Hierdie vraagstuk is nie ‘n NG Kerk vraagstuk nie, maar ‘n wêreldvraagstuk binne kerke waarop daar nie eenvoudige antwoorde gegee kan word nie. Omdat ons die stukkendheid sien in die veroordeling van gay-mense en hulle families – is die standpunt dat ons eerder vir mekaar liefde en ruimte wil gee as om nog meer lewens te verwoes. Om Christen gay mense te probeer vereenselwig met mense wat God haat en pervers lewe skrei tog ten hemele! Hierdie vraagstuk is die moeilikste waarmee die kerk van alle eeue nou en ook vorentoe mee sal worstel.

    Omdat ons met oë van liefde en genade kyk word ons gekasty. Ons nie-verstaan van die gay-vraagstuk maak dat ons met sagtheid en met nederigheid, oor hierdie spesifieke saak ook vanuit die Skrif kyk.

  5. Chael TerBlanche

    Dit is vir my ‘n hartseerdag dat ek nie die moderator van my kerk kan glo in die video nie. Daar is net te veel voorbeelde wat hom weerspreek. Ek weet nie wat erger is, dat hy nie eerlik is of nie weet wat in die kerk aangaan nie, want dit kan nie geen van bogenoemde wees nie. Mag die Here ons genadig wees, maar mag ons nie niks doen nie, die evangelie is op die spel.

  6. Beste Riaan, alhoewel ons sekerlik nie mekaar oor ‘n comment sal kan oorreed om ons opinies te verander nie, wil ek jou vra om 2 videos te kyk in verband met die argument wat jy hierbo voer.
    1. Die gesprek tussen dr. Sean Mcdowell en Matthew Vines. Vines is n groot voorstaander van die “bad fruit” idee: goed uit die Skrif wat negatiewe implikasies op mense se lewens het moet ge-herinterpreteer of geïgnoreer word.
    2. Die video op die YouTube kanaal “Dink Bybels” vat hande oor “Liberaal, konserwatief en alles tussenin”. Dit gee goeie perspektief oor die verhouding tussen waarheid en liefde en dat beide in gelyke hoeveelhede benodig word om die Evangelie korrek te verteenwoordig.

    Groete in Christus

  7. Die Gereformeerde belydenisskrifte is opgestel in die vroeë 16e eeu. Dit weerspieël die mense van daardie tyd se verstaan van die Bybel. Daarmee het ek geen probleem nie. Ek is egter seker dat ons in ons tyd – ‘n paar eeue later die Bybel heelwat anders verstaan in sekere opsigte. As dit nie so was nie sou ek bekommerd gewees het dat ons geensins ontwikkel het ten opsigte van skrifverstaan en skrifuitleg nie. Ek het die belydenisskrifte ‘n aantal jare gelede rustig deurgelees en raakgesien dat ‘n klomp dinge wat daarin staan nie meer is wat ons in ons tyd glo nie. Maar tog, in die formuliere van die kerk moet die een wat voor die preekstoel staan bely dat hy/sy die belydenisskrifte glo as die volle leer van die saligheid terwyl hy/sy en die meeste predikante ook nie ‘n idee het wat die belydenisskrifte alles leer nie. ‘n Aantal jare gelede by die Vrystaat Sinode het daar op die voorblad gestaan dat ons net weer bevestig dat ons staan en val by die belydenisskrifte. Net op die volgende bladsy was ‘n verslag van ‘n diaken wat homself laat oordoop het en die ondersoek kommissie se bevinding dat hulle sy redes as geldig beskou en nie verder teen hom sal optree nie.
    Het dit nie tyd geword dat die kerk weer ‘n slag bymekaarkom en ons belydenisskrifte hersien in terme van wat ons in ons tyd glo nie. Dan kan ons weer met sekerheid sê: So glo ons!

  8. Ek is net ‘n lidmaat, geen teoloog net ‘n gelowige wat Christus, Drie-enige liefhet.

    Gister het ek met ‘n mede-gelowige gesels en ernstig besin oor die kerk en ongelukkig het ons dieselfde gevoel.

    Ek voel ontuis, omdat my kerk meer bekommerd is oor dogma en interpretasies van die Bybel wat verander – wie is wanneer reg (Wat vergeet die grootste gebod is liefde!)
    Ek voel ontuis dat Gift of the Givers doen meer vir mense in lyding as my kerk.
    Ek voel ontuis want dogma bepaal wie is welkom en wie nie.
    Ek voel ontuis want dogma bepaal wie moet getug word en wie nie.

    Ek is soekend na ‘n kerk wat verstaan ek is verward en bang, tydens en van die moeilikste tye in die wêreld se geskiedenis.
    Ek soek ‘n kerk wat wys wat is omgee en liefde.
    Ek soek ‘n kerk wat aandag gee aan knelpunte in my land.
    Ek soek ‘n kerk wat nie wil skeur oor dogma en interpretasies nie.
    Ek soek ‘n kerk wat debatte hou oor sake wat dringend in ons kontinent aangespreek moet word.
    Ek soek ‘n kerk wat my omarm om te juig my Verlosser leef en, ten spyte van verskille, ver bo dogma uitstyg.
    NG kerk jy gaan my verloor, nie omdat die kerk standpunt inneem nie, maar waaroor die kerk debateer, baklei en skeur.

    Ek weet nie waar is die kerk nie, maar dis nie my kerk nie!

  9. Johann Ernst

    Nog die Ring nog die Sinode nog die Algemene Sinode se kommentators het gehoor wat die gemeente Strand in hul verklaring sê nie en reeds hulle eie verdraaide en valse weergawe daarvan gegee. Waarom nou ook vanuit die Algemene Sinodale Kantoor op ‘n berig in Die Burger reageer, terwyl die Kerkraad se eerstehandse korrespondensie beskikbaar is. Daar staan in die korrespondensie duidelik dat die Gids oor selfdegeslagverhoudings die dokument is waarop die Kerkraad reageer. In plaas daarvan dat dit wat die Kerkraad sê, daaruit beoordeel en verantwoord word, word alles behalwe dit aan die orde gestel. Dit is onkerklik en onchristelik om so met ‘n kerkraad om te gaan en oor hulle ipv met hulle oor die besware te praat!

  10. Hoe kan die Algemene Sinodale Kantoor reageer op ‘n berig in ‘n sekulêre koerant as die Kerkraad van Strand twee eerstehandse dokumente oor hulle besluit beskikbaar gestel het? Uit beide dokumente is dit duidelik dat hulle besluit primêr verband hou met die Algemene Sinode se Gids oor hulle selfdegeslagverhouding besluit. Niks daarvan staan in die Burger se berig nie en niks daarvan in die Algemene Sekretaris se omsendskrywe! En van wanneer praat die NG Kerk vanuit die pers met hulle ernsydige en verdraaide berriggewing met ‘n ander amptelike kerkvergadering? En waarom oortree die Algemene Sinode sy eie reëls deur ‘n gemeente aan te spreek buite die sinode om? En word daar oor ander ipv met ander gepraat?

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.