Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Estian Mentz van Britstown skryf: So ’n week of wat gelede het ek ’n interessante onderonsie op Facebook met ons plaaslike munisipaliteit gehad. Ek is iemand wat (dink ek) bekend sal wees vir die feit dat ek ’n middewegsoeker is, en nie sommer kant sal kies nie, maar eerder sal probeer om almal se standpunte te hoor en dan van daar af te werk met wat reg is, en wat verkeerd is. Die spesifieke onderonsie het gegaan oor amptelike voertuie wat gebruik is om na ’n Erfenisdag-braai toe te ry, en dan waarskynlik daar iets vir die keel te neem en dan weer terug te ry. Die rede hoekom ek opgestaan het hierteen was omdat daar vier van ons dorp se vier verkeersvoertuie gestaan het. Dit het my briesend kwaad gemaak.
Soos baie ander mense in ons land, is ek ook absoluut, totaal en al moeg vir korrupsie, misbruike en algehele swak diens. Dit was wat ek met die munisipaliteit wou bespreek, maar soos dit gaan, het hulle weer nie hulle telefone geantwoord nie, en ek wend my toe na hulle Facebookblad (want dit is al hoe ’n mens hulle aandag kry). Die onderonsie was lelik. Beskuldigings is na albei kante toe gegooi, en niemand het opgewonde van die gesprek af weggestap nie.
Nou hoekom is dit belangrik om hierdie te noem, nie omdat ek een of ander “social-justice warrior” is nie, nie omdat ek aandag soek nie, maar eerder omdat ek die vraag begin vra het oor waar die kerk moet wees, en waar die kerk tans is binne hierdie dinge. As predikant het ek nou opgestaan teen iets wat ’n duidelike misbruik was van my, en ander, se belastinggeld, en het ek baie ondersteuning gekry, maar ek het nie gevoel of ek die oorwinnaar was in die gesprek nie, want ek weet daar gaan niks gebeur nie. Niemand gaan aanspreeklik gehou word nie, en niemand gaan aangespreek word nie.
LEES OOK: Leon Venter oor leierskap in gemeentes en sy tesis getiteld Leadership: a transformative dance
En soos die meeste Suid-Afrikaners op hierdie stadium beleef ek ontnugtering in ons stelsel. Ons baklei oor allerhande dinge, dié kant toe, daai kant toe. Die kerk se diakonale roeping word verskraal en ons begin al meer na binne leef om tog net seker te maak ons oorleef hierdie aanslag. Maar ek dink, en ek mag dalk verkeerd wees, maar dis wat ek dink. Die kerk behoort heel voor te staan teen korrupsie, teen misbruik van geld en mense en teen enige ongerymdhede wat ons so duidelik sien plaasvind.
Waar ek bly, is mense moeg om oor eenheid en samewerking te hoor. Hulle soek net paaie sonder slaggate en ’n polisiestasie wat hulle telefone beantwoord as ’n mens hulle soek. Ons is al verby eenheid, want ons leef, werk, woon alreeds saam. Eenheid in ons gemeenskap beteken deesdae nie meer ons moet saam eet nie, maar ons moet saam optree teen die verval en misbruik.
As ’n gemeenskap dink ek ons het nog ver om te gaan, maar ons is moeg. En die kerk is stil. Hou die regering verantwoordelik, staan op teen die misbruik, want dit is altyd die armste van die armstes wat die kortste vuurhoutjie trek.
Dalk is die kerk op ander plekke meer prominent, en vir dit sê ek ook dankie.
