Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Albin Bowler skryf: Onkunde van baie predikante oor homoseksualiteit

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Albin Bowler van Bellville skryf: Dr Gerhard Mahne van Kaapstad se skrywe van 25 Oktober 2022 het betrekking. 

Ek verstaan nie wat dr Mahne probeer deurgee of wat sy redenasie is nie. Ek vermoed dat hy die volgende probeer oordra: Aangesien die wetenskap nog glad nie ’n gay-geen kon opspoor nie, impliseer dit dat gay-wees onaanvaarbaar is of moontlik aangeleerde gedrag is wat afgeleer kan word.

Dr Mahne is heeltemal korrek, naamlik die wetenskap kon nog nie ’n gay-geen opspoor nie. Maar die wetenskap kon ook nog nie ’n hetero-geen opspoor nie. Moontlik skokkend, die wetenskap kon ook nog glad nie ’n God-geen of drie-enige God-geen opspoor nie!

Enige oppervlakkige afleidings kan verreikende gevolge inhou.

LEES OOK: Gerhard Mahne skryf: Word NG Kerk se kultuurprobleem nou in nuwe konteks herhaal?

Veral predikante behoort hulle te weerhou van wetenskaplike uitsprake (tensy hy/sy ’n gevorderde wetenskaplike agtergrond het). Moenie enige strooihalm gryp om jou standpunt te verdedig nie!

Die meeste van die ouer persone het in hoërskool-biologieklasse geleer dat daar net twee soorte geslagte bestaan: manlik en vroulik. Dat dit in jou DNS vasgelê is. Jy is of ’n XX of ’n XY.

Wetenskaplikes (bv bioloë) het vroeër jare so gedink. Maar hulle besef nou dat dit nie so eenvoudig is nie. Hulle glo dat geslag op ’n spektrum lê.

Enkele feite:

  1. Alreeds in 1981 is ek in mediese artikels bewus gemaak dat daar bewyse is van aangebore homoseksualiteit, tweeslagtigheid by mense (asook verskeie grade van tweeslagtigheid), ens. Sedert 1981 is baie vordering gemaak oor die onderwerp.
  2. Chromosome, hormone, genitalieë, ens is almal biologiese kenmerke wat geslag beÏnvloed. Die inligting wat ons as ouer persone destyds op skool gekry het, is dus verouderd.
  3. Amper 2% van enige bevolking word met atipiese geslagsontwikkeling gebore (ongeveer 1 miljoen mense in SA). Dit impliseer dat iets in hulle chromosome, hormone, gonades en genitalieë verskillend is van wat ons van ’n seun of dogter verwag. Baie aspekte word nie by geboorte identifiseer nie.
  4. Die korrekte term om te gebruik is Differences of Sexual Development (“DSD’s”) of Verskille in Seksuele Ontwikkeling. Ons kry sommige mense met XYY of XXY chromosome, Turner-sindroom en Klinefelter-sindroom, genetiese chimera, ens. In die 1990’s is die SRY manlike programmeringsgeen ontdek. Hierdie geen kan veroorsaak dat ’n persoon met XX-chromosome (tipies vroulik) testes ontwikkel pleks van eierstokke.

Ongelukkig ontbreek spasie, maar dit behoort duidelik te wees dat baie Christene nie bewus is van al die feite nie en ongelukkig uit onkunde praat.

Boonop het baie predikante verouderde sienings oor homoseksualiteit in die 1950’s-1980’s op universiteit geleer. Bv die sg “Afwesige vader – Dominante moeder”-siening wat al sedert die 1990’s in Sielkunde en Psigiatrie verwerp word.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top