Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hoe om oor die dood, hartseer en verlies te praat

Jou kind en verlies deur Solet Scheeres

Uitgewer: LAPA, 2022

Resensent: Quinette le Roux-Weitsz

‘Alle kinders van alle agtergronde

van alle rasse

van alle geslagte

van alle intelligensies

van alle gelowe

het die reg daarop dat die verlies wat hulle ervaar, erken word,

het die reg op behoorlike ondersteuning,

het die reg op genoeg tyd

om hulle hartseer te verwerk

en méér mens te word.’

Hierdie kragtige inleiding beskryf die essensie en uitgangspunt van die skrywer perfek. Verlies is universeel, maar elke kind is uniek en ervaar en verwerk verlies op hulle eie manier, in hulle eie tyd. Scheeres verduidelik op ’n baie eenvoudige, verstaanbare manier hoe ons ons kinders kan begelei deur verlies, hetsy dit ’n familielid, troeteldier of maatjie is. Selfs die verlies wat tydens egskeidings ervaar word, word bespreek.

Die skrywer doen moeite om te verduidelik hoe die verskillende ouderdomsgroepe die dood verskillend verstaan en gaan dan verder om te verduidelik hoe dit hanteer kan word vir die spesifieke ontwikkelingsfase waarin jou kind is. Daar word selfs praktiese idees gegee oor hoe om kinders betrokke te kry en die verlies te help verwerk.

Oorhoofs word die volgende temas bespreek:

  • Wat word deur kinders verstaan onder verlies en rou?
  • Hoe om oor die dood te praat.
  • Hoe gaan laerskoolkinders en tieners om met verdriet en wanneer is professionele hulp nodig?
  • Ondersteunende protokolle wat skole kan skep wanneer ’n leerder sterf.
  • Hoe om met jou kinders oor egskeiding te praat en hoe om met die verskillende ouderdomsgroepe om te gaan.
  • Belangrike inligting en rol van die grootouers, vriende en skool.
  • Praktiese idees om jou kind te help om verlies te verwerk.

Die laaste gedeelte van die boek handel oor die praktiese dinge wat jy as ouer met jou kind kan doen om te help met die verwerking van verlies. Dit sluit in verskillende idees vir speletjies, aktiwiteite, leesstukke en gespreksidees vir alle ouderdomme.

As terapeut wat daagliks met kinders werk wat deur een of ander vorm van verlies geraak is, het ek hierdie boek baie geniet. Dit is verstaanbaar en baie prakties gerig. Elke ouer of enigiemand wat in aanraking kom met kinders in hierdie omstandighede, kan baat vind by die boek.

Beskikbaar by boekwinkels.

Ds Quinette le Roux-Weitsz is predikant by Cambridge-gemeente in Oos-Londen, familieberader en mediator.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top