Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Slapende Oekraïense seuntjie hou ’n handgebreide beertjie uit Suid-Afrika in sy arm vas. Vir kinders en gestremdes is die oorlog in Oekraïne nog erger as vir ander mense vertel sendeling Willem van der Colff wat in Oktober daar was. Foto: Willem van der Colff

‘Dit gaan erger daar … dié land het omgee, gebede nodig,’ sê Oekraïense sendeling

In Desember is dit tien maande sedert die eerste lugmissiele in Oekraïne geval het. Maar dit gaan nie beter nie, inteendeel dit raak al erger. Kinders gaan in bomskuilings skool en miljoene mense het nie krag vir verhitting of om hulle selfone te laai sodat hulle die toepassing kan dophou wat teen lugaanvalle waarsku nie.

Willem van der Colff

Vir kinders en gestremdes is die oorlog nog erger as vir ander mense.

Só sê sendeling Willem van der Colff na sy Oktoberbesoek in Oekraïne, wat tot sy en sy gesin se verligting twee groot Russiese lugmissielaanvalle gemis het.

Oekraïne was vir byna 30 jaar huis vir hierdie Afrikaanse boerseun van die Paarl. In Maart kon hy, sy Oekraïense vrou Alla en hulle drie kinders wonderbaarlik oor die grens na Pole ontsnap. Intussen het hulle as gesin ’n nuwe lewe op ’n Bolandse plaas begin bou.

Lees meer: Sendeling en sy gesin vlug uit Oekraïne 

Soos die weke maande geword het, kon Willem tydens gemeentebesoeke agterkom vir baie Suid-Afrikaners het kommer oor ’n oorlog iewers duisende kilometers weg begin taan. Met sy en sy vrou Alla se uitreik vir drie weke in Oktober was dit agt maande ná die eerste lugmissiele geval het. “Dit gaan nou baie erger daar,” verseker die 52-jarige leraar jou. Hy het die afgelope ses jaar saam met ’n Australiese kollega ’n gemeente gelei in Vinnitsa, ’n stad sowat 270 km suidwes van Kiev, die hoofstad.

Heléne Meissenheimer
Willem van der Colff wys ’n toepassing op sy selfoon wat waarsku waar lugaanvalle in Oekraïne gebeur. Foto: Heléne Meissenheimer

Daarom dat Willem so bly is dat hier wel nog mense en gemeentes is wat omgee.

Hy vertel die dag voor hulle gesin gevlug het was daar net drie mense van sy gemeente oor in die stad. Al die ander het gevlug. Met twee seuns ouer as 18 wat vir militêre grensdiens opgeroep sou word, het dit dus nie meer verantwoordelik gevoel dat hulle gesin ook langer bly nie.

Op die vraag hoekom hy en sy vrou dan onlangs teruggegaan het, antwoord hy: “Na 27 jaar is die Oekraïense volk baie baie diep in ons hart en ons gee om. Ons bid vir hulle en hou kontak, maar dit is nie dieselfde as om iemand ’n drukkie te gaan gee en mense te gaan bemoedig en besoek nie. Dit was ons doel … om by hulle te wees en te gaan omgee.”

In die afgelope maande is van sy kinders se klasmaats dood. Mense wat hulle ken word vermis. Oor ’n glasie water (beurtkrag het enige koffieplanne gefnuik) tydens sy besoek by Bybel-Media (Kerkbode se uitgewer) se kantore op Wellington, wys Willem ’n toepassing op sy selfoon wat waarsku waar lugaanvalle gebeur. Net een provinsie wys toe rooi. Die volgende dag stuur hy ’n skermgreep per WhatsApp wat wys die hele land is rooi. Sedertdien het dit baie dae so gelyk.

Deur kontak met die parapleeg Vasiliy (een in blou t-hemp) kon vele gestremde mense gehelp word. Foto: Willem van der Colff

 

Vinnitsa in die winter. Foto: Verskaf

In die Oekraïense winter daal temperature snags onder vriespunt. Miljoene mense het nie krag om hulle huis te verwarm of selfone te laai om kontak met geliefdes op die grens en elders te behou nie. Kinders moet soms in bomskuilings skoolgaan. Die spanning maak dat baie sukkel om te slaap.

Dan is daar mense soos die parapleeg Vasiliy vir wie die Van der Colff’s ontmoet het net voor hulle uit die land gevlug het – sy staatspensioen is by verre nie genoeg vir kos en doeke elke maand nie, tog probeer hy ander, wat soos hy fisies gestremd is, help. Vir Willem is hy ’n geloofsheld en hy wil hom graag aanhou help, want in Oekraïne gaan die meeste hulp nou aan vlugtelinge en soldate.

Soos hy en Alla in die maande sedert hulle weg is met mense gesels via WhatsApp en selfoon, hoor hulle party sukkel met vergifnis terwyl ander kwaad is vir God. Mense is stukkend, onseker, moedeloos. Dit was later nie meer genoeg om te bel en boodskappe en geld te probeer oorstuur nie. Hy en Alla wou self gaan.

Willem en Alla met hul drie kinders in Pole kort na hulle uit Oekraïne gevlug het. Foto: Argief

So op 13 Oktober is hy en Alla daarheen vir drie weke. In dié tyd het hulle gebreide beertjies vir kinders uitgedeel, kospakkies en doeke uit skenkings gekoop en uitgedeel aan Vasiliy en nog sowat 30 ander vir wie hy probeer help. Hulle was by huiskerke en het mense moed ingepraat en saam gebid. Soms net vasgehou, want woorde is daar nie.

Willem vertel die boodskap wat hy gebring het is dat mense by mekaar betrokke moet wees, want sommige het teruggetrek in hulleself in. Dit is sy hartswens hier ook, dat mense sal aanhou omgee en bid.

Op sy T-hemp onder ’n klein blou en geel Oekraïense vlag staan geskryf: ‘Bce Syde Ykraine’ wat beteken ‘God seën Oekraïne’. Willem verduidelik: “Ek dra sulke goed wat wys ‘ek staan saam met julle’ … dit is ’n tyd wat Oekraïne hoop nodig het.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top