Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Willem van der Colff en sy gesin staar ’n onseker toekoms in Pole in die gesig na hulle onlangs, soos meer as 2,8 miljoen mense, uit die Oekraïne moes vlug voor die gewelddadige Russiese aanslag op die land. Foto: Verskaf

Sendeling en sy gesin vlug uit Oekraïne*

Die gesin van die Afrikaanse sendeling, ds Willem van der Colff*, tel nou onder die meer as 2,8 miljoen mense wat teen middel-Maart uit die Oekraïne voor die Russiese aanslag op hierdie Oos-Europese land gevlug het.

Die voortslepende konflik sedert Rusland hierdie voormalige Sowjetunie-lidland op 24 Februarie met tenks, geweervuur en die afvuur van missiele binnegeval het, het ontaard in ’n humanitêre krisis met duisende mense dood en miljoene wat moes vlug met slegs ’n tas of wat hulle in ’n kar kan inpas. Sommige Oekraïnse stede het ook tekort aan water en voedsel.

Na wat berig word, hoop die Oekraïnse regering dat vredesonderhandelinge tussen die twee lande hopelik binne die volgende paar maande ’n einde aan die konflik kan bring.

Intussen hang daar vir Willem, sy vrou Alla en hulle drie kinders tans groot vraagtekens oor wat die toekoms vir hulle gaan inhou. Die gesin het die afgelope 26 jaar gebly in die stad Vinnitsa, sowat 270 km suidwes van die Oekraïnse hoofstad Kiëf. Willem, ’n boorling van die Paarl, het van 1995 as sendeling van die globale sendingorganisasie Operasie Mobilisasie (OM) in die Oekraïne gewerk tot 2015 toe hy sy eie onafhanklike gemeentebediening begin het.

Toe die eerste Russiese missiele begin val in Kiëf, was die Van der Colffs se eerste bekommernis om hulle seun Johan veilig uit die stad te kry waar hy besig was met teologiese studies. Hierna, soos al meer vlugtelinge na Vinnitsa gestroom het, het hulle met plaaslike kerke geskakel om vir mense skuilplek te kry. Skenkings uit onder meer Suid-Afrika is gebruik om kos en mediese behoeftes aan te koop.

Lees meer: ‘Bid vir ons in Oekraïne’

Die situasie het egter vinnig al meer onveilig geword met ook ’n sterk moontlikheid dat Johan en selfs sy 17-jarige broer Vova vir diensplig in die Oekraïnse weermag opgeroep kon word. Die gesin het laasnaweek, in wat Willem in ’n WhatsApp-nuusbrief as ’n wonderwerk beskryf, daarin geslaag om die grens na Pole oor te steek.

’n Paar uur later is ’n Oekraïnse militêre basis naby die Poolse grens deur Russiese magte aangeval.

Volgens Willem gaan hulle aanhou om mense in nood met skenkings wat hulle ontvang te help. Hy weet egter nie hoe lank hulle in Pole kan bly nie, want as Suid-Afrikaner kan hy net 15 dae in die Europese Unie wees. Op 15 Maart het hy Kerkbode laat weet hulle gesin is op pad na die Poolse hoofstad, Warskou, om met die Suid-Afrikaanse ambassade hieroor in gesprek te tree.

As gesin beleef hulle die situasie as uiters traumaties en onseker, veral oor hulle kinders se toekoms. “Dit is ’n uiters moeilike en emosionele tyd vir ons. Ons huil baie. Bid vir ons,” vra hy in ’n aparte WhatsApp-nuusbrief.

‘Hulle probeer alles om Oekraïne op hulle knieë te bring’

Willem bly ook sporadies in kontak met ds Stefan van der Merwe wat as sendeling vir OM in die hawestad Odessa werksaam was totdat dié stad op dieselfde dag as Kiëf ingeval is. Van der Merwe en sy gesin het sedertdien gevlug na Vinnitsa, dieselfde stad waar die Van der Colffs soveel jare gebly het. Willem het laat weet Russiese vuurpylaanvalle maak dit moeilik om kontak met Stefan te maak.

Op Woensdagoggend 16 Maart het Stefan Kerkbode op WhatsApp laat weet dat dit, ten spyte van Russiese vuurpyle wat in hulle provinsie val, goed gaan met hulle gesin van vyf. “Hulle (die Russe) probeer alles in hulle vermoë om Oekraïne op hulle knieë te bring. Ons probeer alles in ons vermoë doen om mense te help, uit die land te kom of mense veilig te hou. Die Here is goed,” sê hy.

Ds Stefan van der Merwe en sy vrou Hensie is steeds met hulle drie kinders in die stad Vinnitsa in Oekraïne. Foto: Argief

NG kerk ondersteun ekumeniese oproep tot voorbidding

Die Russiese inval op Oekraïne is internasionaal wyd gekritiseer*. Vanuit kerkgeledere het die Wêreldraad van Kerke (WRK) sowel as die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK), beide liggame waarvan die NG Kerk ’n lid is, in verklarings vir voorbidding vir vrede tussen die twee lande gevra. Aartsbiskop Thabo Makgoba, president van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, het in ’n aanlyn verklaring gepleit vir “indaba-teologie en ’n ubuntu-etiek” om die kerk se ingryping in hierdie hartseer oorlog wat ’n skrikwekkende moontlikheid van selfs ’n kernkrageskalasie inhou, te rig.

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het gesê dié kerk, as lid van al hierdie liggame, is vereenselwig met hierdie oproepe tot voorbidding.

*In die Verenigde Nasies is die Suid-Afrikaanse regering een van slegs enkele lande wat gekies het om neutraal te bly.

  • Ds Willem van der Colff kan gekontak word per epos by willem.ua4u@gmail.com of Whatsapp (+380979397473) en ds Stefan van der Merwe by epos: Stefan.VanDerMerwe@om.org.
  • Willem van der Colff en sy gesin het Sondag 27 April veilig in Suid-Afrika aangekom.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top