Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Bid asseblief vir ons seun Daniil, vra ds Stefan van der Merwe en sy vrou Hensie vanuit die Oos-Europese land Oekraïne wat deur Rusland binnegeval is. Hulle seun is in ’n bomskuiling in Kiëf, die hoofstad wat sedert Donderdag met Russiese missiele gebombardeer word. Foto's: Verskaf

‘Bid vir ons in Oekraïne’

Twee Afrikaanse predikante se studenteseuns het vroeg Donderdagoggend 24 Februarie wakker geword van die geluid van Russiese missiele wat Kiëf tref, die hoofstad van die Oos-Europese land Oekraïne wat die dag deur hulle buurland binnegeval is.

Teen Vrydag was een van hulle, Johan van der Colff, veilig tuis by sy ouers wat al jare ’n gemeente bedien in Vinnitsa, ’n stad sowat 270 km suidwes van Kiëf. Sy pa, ds Willem van der Colff, het dié nuus per WhatsApp-stemboodskap met Kerkbode bevestig.

Daniil van der Merwe se ouers, ds Stefan en sy vrou Hensie, was egter nog baie bekommerd oor hulle seun*. Laas wat hulle gehoor het was hy nog vasgevang in ’n bomskuiling in Kiëf en sy moraal was maar laag. “So, ons is redelik moeg, ons slaap nie eintlik nie en is senuagtig,” vertel Stefan vir Kerkbode, ook in ’n stemboodskap, maar voeg by “ons bedien en help waar ons kan … ons is nog lank nie terneergedruk nie.” Vrydagoggend het hulle ’n groep studente uit Afrika, wat hulle Operasie Mobilisasie-span gehelp het, gehelp om op ’n bus te kom om die land te verlaat.

Die drie Van der Merwe-spruite is van links, Daniil, Victor en Nadia.

Die Van der Merwes bly verder suid as die Van der Colffs in die groot hawestad Odessa waar hulle ’n span lei van die globale sendingorganisasie Operasie Mobilisasie (OM). Stefan vermoed dat hulle self ook vandag (Vrydag 25 Februarie) waarskynlik na ’n veiliger gebied sal beweeg te midde van berigte dat die Russe hierdie strategiese hawestad ook teiken. 

Die swart pyle dui aan waar die Van der Colffs (Vinnitsa) en die Van der Merwes (Odessa) met hul gesinne woon in die Oekraïne.

As spanleiers ervaar hulle baie druk om die regte besluite te neem, sê Stefan, en is hulle baie dankbaar vir “soveel mense wat ons al gekontak het en laat weet dat hulle vir ons veiligheid bid”. Verskeie van hul medewerkers het reeds die land verlaat en self staan hul noodreistasse klaar gepak, maar “as lang termyn sendelinge is ons geensins haastig om die bedieningsveld wat God ons gegee het te verlaat nie,” voeg hy by. Die Van der Merwes woon al sedert 2003 in Odessa.

Die Russiese aanval Donderdag (24 Februarie) wat die afvuur van missiele, die land van troepe en geweervuur by verskeie stede, ook hawestede, van Oekraïne ingesluit het, “is die grootste inval deur een land op ’n ander in Europa sedert die Tweede Wêreldoorlog,” berig die aanlynkoerant Daily Maverick. Die aanval volg na weke van spanning oor juis so ’n moontlikheid met meer as 150 000 Russiese troepe wat in die laaste klompie weke op Oekraïne se grens saamgebring is.

Dit is die onsekerheid oor wat volgende gaan gebeur wat die ergste is, vertel beide leraars.

“Die ergste is nie die feit dat daar geskiet word en ’n mens jou lewe kan verloor nie, maar dit is die onsekerheid oor wat môre wag. Dit (die onsekerheid) is een van die goed wat knaag hier binne-in jou,” sê Willem. Hy en sy gesin het vandag begin oppak om Vinnitsa te verlaat en na ‘n veiliger deel te beweeg.

Willem, ’n boorling van die Paarl, het in 1994 by Diensjaar vir Christus aangesluit wat sy paaie laat kruis het met dié van OM. In diens van OM het Willem eers in Rusland Russies gaan leer en toe ’n jaar later in Oekraïne begin werk, sy vrou Alla ontmoet en bly hulle met hulle drie kinders die laaste sowat 26 jaar in Vinnitsa waar Willem sedert 2015 sy eie gemeentebediening onafhanklik van OM het.

Ds Willem van der Colff en sy gesin, van links, sy vrou Alla, hulle oudste seun Johan, Willem en hulle seun Vova en dogter Annamaria.

Te midde van alles, sê Willem dit is hier in die Oekraïne waar hy en sy gesin van vyf nou wil wees: “Ek is die Here dankbaar dat ons juis in ’n tyd soos hierdie hier kan wees, nie net om mense fisies te help nie, maar ook om mense met daai bekommernisse te begelei na die Ene wat die Prins van vrede is … ek dink daar is ’n nuwe verstaan van Wie God is en dat Hy ook regtigwaar vrede en rustigheid bring … ook die Ene is wat sal opstaan en vir ons sal veg, selfs al kan ons dit nie doen nie.” 

Willem en Stefan nooi mense uit om hulle per e-pos te kontak om op hul nuusbriewe in te teken en op hoogte te bly van gebedsversoeke: Willem van der Colff: Willem.ua4u@gmail.com en Stefan van der Merwe: Stefan.vandermerwe@om.org 

  • Stefan van der Merwe het Maandagaand 28 Februarie per whatsapp vir Kerkbode laat weet dat Daniil veilig by hulle kon aansluit in die stad Vinnitsa. Red.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “‘Bid vir ons in Oekraïne’”

  1. Anna Dos Santos

    Ons harte en gebede gaan uit na die gemeentes in die Oekraine en Rusland wat so swaar kry as gevolg van die oorlog. Mag Vader se groot genade oor hulle uitgestort word.

Comments are closed.

Scroll to Top