Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Beveg geslagsgeweld deur respek vir ander te leer vanaf geboorte

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos, skryf:

Ons is weer in die tydvak van die jaar wanneer die 16 dae-veldtog wat geweld teen vroue en kinders beklemtoon, in elke denkbare media is.

As maatskaplikewerk- en kinderbeskermingsorganisasie word CMR Gauteng-Oos byna daagliks hiermee gekonfronteer. Ons kantore moet die gevolge van hierdie plaag op ons samelewing hanteer. Nie honderde nie, maar duisende slagoffers word elke jaar deur ons bygestaan.

Vroue wat fisies aangerand is, kinders ook – wat vir hulle alternatiewe lewe reëlings moet vind om weg te kom van die aggressor, en hulle in ’n nuwe lewe te vestig … dit is maar een deel van die werklikheid waarmee ons werk.

Om net fisies weg te kom is nie die einde, of die oplossing nie. Hierdie vroue en kinders word ook emosioneel, verstandelik en geestelik geteister. En die skade wat aan hulle menswees aangerig word, gaan baie dieper as fisiese wonde, wat vinniger genees as emosionele wonde.

Ons bied ondersteuning op baie maniere, en berading het ’n groeiende behoefte oor die hele spektrum van hulp geword. Ons maatskaplike werkers is opgelei om te help met baie maatskaplike kwessies, en waar nodig verwys hulle ’n kliënt na ander gemeenskapshulpbronne. Alles kom egter teen ’n koste, en sommige kliënte kan dit nie bekostig nie. Die stryd woed dus ook op die finansiële front. Nodeloos om te sê, as ’n NRO is ons altyd meer as dankbaar vir diegene wat hulle pad oop sien om ons te help om ander te help.

Maar om agterna te help is soos ’n pleister op ’n wond, wat nie daar moet wees om mee te begin nie. Ons samelewing is die oë en ore om te help. Mishandeling is dikwels ’n teken van disrespek. Daarom moet die werk begin wanneer ’n kind gebore word. Om groot te word met respek vir ander en hulle regte op lewe en veiligheid, behoort die verandering te maak en mettertyd die geweld, wat op die kwesbares toegepas word, te verminder.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top