Langs die Oranjerivier kan boere nie hulle gewasse besproei nie, kleinsake-eienaars se onkoste aan diesel vir kragopwekkers beloop duisende, daar is optogte en protesskrywes – die land se massiewe kragkrisis het ook leraars en die leierskap van die NG Kerk diep bekommerd.
Ds Christo Jonck vertel van spanning en ongemaklikheid in Noord-Kaapland, waar hy predikant in sinodale diens (PSD) in Kimberley is. Buiten die frustrasies met alarmstelsels en kragsubstasies wat breek weens die langer ure met hoër vlakke van beurtkrag, is baie boere en kleinsake-eienaars bekommerd dat hulle besighede vou, vertel hy vanuit ’n streek wat hoofsaaklik uit boere en kleinsakelui bestaan.
Kerneels Greyling is al 30 jaar ’n besproeiingsboer by Prieska, een van verskeie Noordkaapse dorpe waar boere onlangs op saamtrekke hul kommer oor die situasie verwoord het. Hy en ander boere het reeds in Desember onder meer weens beurtkrag ’n verlies gely met hul koringoes. Nou dreig ’n herhaling met die mielieoes. “Dit is net te veel,” vertel hy by navraag vir Kerkbode.
Dr Suzanne van der Merwe is ’n NG leraar op Kroonstad waar honderde inwoners onlangs hulle woede en frustrasie in protesoptogte op die Vrystaatse dorp gewys het. Sy vertel weens die gebrekkige instandhouding van munisipale infrastruktuur is baie plekke in die provinsie vir lang ure sonder krag of water, ten spyte van beurtkrag. Die langer kragonderbrekings vererger die situasie veral in die hittegolf tans, “so die mense is baie kwaad … daar is selfs plekke waar protesoptogte gewelddadig raak”.
Die kragkrisis raak ook kerkwerksaamhede. Jonck vertel aanlyn vergaderings, wat nodig is in ’n streek waar mense so ver uit mekaar woon, raak ’n uitdaging omdat van die leraars geen sein het wanneer die krag af is nie. Landswyd skaf kerke kragopwekkers aan of leen dit. Soms is donasies nodig om die brandstofkoste te kan dek. Klaviere word ingespan wanneer orrels nie kan speel sonder krag nie.
“Die kragkrisis sit ons as gemeentes regoor Suid-Afrika in groot ongerief,” meen Farren Cloete, ’n VGK-leraar op ’n klein vissersdorp Lambertsbaai aan die Weskus. Sy vertel dat die dorp met sy groot aantal bejaarde inwoners se waterpompe nie werk as die krag af is nie, maar danksy ’n geleende kragopwekker kon die week se week van gebed darem voortgaan.
Soos Cloete dit stel: Die krisis leer ons om uit die boks te dink om saam oplossings te kry.
Lees ook: Johan van der Merwe: ’n Uitdaging aan die NG Kerk in 2023
Uit die sinodale kantore van Wes-Kaapland sluit Nioma Venter by navraag so hierby aan: “Tydens Covid-19 het ons gesien presies hoe aanpasbaar ons kan wees. Nou begin ’n mens egter al hoe meer opstandigheid, moedeloosheid, woede en onsekerheid by mense in gesprekke hoor.
“Ons besef dat daar nie ’n eenvoudige oplossing is om die gebrek aan energiesekerheid aan te spreek nie. Ons is inderdaad uiters besorgd oor die sosio-ekonomiese effek van beurtkrag op ’n reeds sukkelende ekonomie. … (maar) ek dink aan 1 Petrus 3:15 wat sê dat gelowiges altyd gereed moet wees om te getuig van die hoop wat daar in hulle lewe is. As ek lesse van ons Covid-19 ervaring kan oordra in hierdie situasie, sal dit wees:
- Niemand is alleen in hierdie situasie nie. As jy swaarkry, weet maar dat dit ’n gedeelde las is.
- As ons saamstaan, kan ons meer vermag. Dalk moet ons in ons gemeentes en ander kerkvergaderings baie meer doelbewus begin dink oor die uitdagings en hoe ons ’n opbouende bydrae kan maak.
- Verdagmaking en blamering bring ons nêrens nie (ook nie samesweringsteorieë nie). Laat ons onsself vergewis van feite en daarmee werk.
- Moenie net aan jouself dink nie. Hoe kan ek die lewe vir iemand anders makliker maak wat onder dieselfde druk as ek verkeer?

Heil die Leser
Dis opmerklik dat, nadat daar einde Mei verlede jaar baie gou oor ‘n rassevoorval by die U.S. gereageer is, dit nou doodstil onder kerkleiding skyn te wees wanneer die rol van die regering en sy rasse-inmenging by Eskom in die huidige gemors genoem behoort te word.