Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.
Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) berig die afgelope naweek in hul jongste nuusbrief en via hul media-kantoor oor van die besluite wat geneem is by die vyfde Algemene Sinode wat 30 Januarie tot 4 Februarie 2023 plaasgevind het. Hier is drie van die besluite:
GKSA Teologiese Opleiding: Paaie skei met NWU oor drie jaar
Die verklaring lui: Die GKSA het op Sinode 2018 verskeie opdragte aan die Kuratore insake teologiese opleiding gegee, onder meer om voort te gaan met onderhandelinge met die Noordwes-Universiteit (NWU) oor die opleiding van studente van die GKSA in die teologie.

Hierdie opdrag het gevolg nadat verskeie regulatoriese en wetswysigings meegebring het dat die NWU ’n nuwe ooreenkoms daar wou stel. Die kuratore het verskeie konsepte aan die NWU voorgehou, maar daar kon nie tot ’n vergelyk gekom word nie. Die nuwe ooreenkoms waarop die NWU wou skik sou o.m. inhou dat die inhoud van die leerplan vir teologiese opleiding geheel in die hande van die NWU sal val.
Voorts sal die teologiese professore se tyd aan die NWU behoort en slegs met vergunning by die GKSA aangewend kan word. Teologiese studente sal ook nie noodwendig onderrig ontvang deur Gereformeerde professore of dosente nie aangesien die GKSA geen inspraak sou hê in die aanstelling van professore soos ooreengekom in die huidige ooreen koms nie.
Hierdie voorwaardes is na die oordeel van die Sinode nie in lyn met die Skriftuurlike benadering tot teologiese opleiding wat die opleiding van die GKSA se predikante ten grondslag lê nie.
Die NWU het ook skriftelik kennis gegee dat indien die GKSA nie die nuwe ooreenkoms staande die pas afgelope sinode 2023 onderteken nie, is die NWU van voorneme om die bestaande ooreenkoms van 2006 op te sê. Die GKSA het besluit om nie die voorgestelde ooreenkoms te onderteken nie en het kennis geneem van die NWU se voorneme.
Praktiese gevolge van hierdie besluit is dat die bestaande ooreenkoms met die NWU oor 3 jaar tot ’n einde sal kom en dat daar dan alternatiewe wyse van opleiding in plek moet wees. Vir hierdie doel het die GKSA besluit om ’n privaat hoër onderwys instelling op te rig en volgens wetgewing te registreer waar studente in die toekoms geakkrediteerde teologiese opleiding kan ontvang. Die naam van hierdie instelling is Die Gereformeerde Teologiese Akademie.
LEES OOK: Waar staan die NG Kerk en GKSA nou met mekaar? (2018)
Die Sinode het die vertroue uitgespreek dat soos dit sowat 150 jaar gelede was toe die Teologiese Skool te Burgersdorp gestig is, die seënende Hand van die Here ook oor hierdie werk sal wees.

Bybelvertaling: Algemene Sinode keur 2020-vertaling goed
Die Algemene Sinode van die GKSA het besluit dat die Bybelteks van die 2020-vertaling van die Afrikaanse Bybel geskik is vir voorlesing en gebruik in die eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik. Die Sinode spreek ook hul dank en gelukwensing aan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika uit met die publikasie van hierdie vertaling.
Kerkblad: Gedrukte uitgawe gestaak ná 150 jaar
Die Kerkblad se drukuitgawe word gestaak ná April 2023. Die laaste drukuitgawe sal saam met die 150-jarige herdenking van die Kerkblad val, waarna dit alleenlik in elektroniese formaat sal voortbestaan. Hierdie is van die grootste besluite wat die Algemene Sinode van die GKSA geneem het ten opsigte van die kerklike tydskrifte. Hierdie stappe word genoodsaak as gevolg van stygende kostes, veral ten opsigte van drukwerk, en die dalende fondse beskikbaar om ’n drukformaat-tydskrif uit te gee.
Die sukses van die elektroniese weergawe van die Kruispad-tydskrif skep hoop dat die Kerkblad ook ’n goeie opbloei in leserstal sal ervaar.
Die sinode het ook die volgende aanbevelings aanvaar.
- Die Kerkblad en Vroueblad onder Deputate Kerklike Publikasies: Tydskrifte sal ressorteer. Die Deputate sal dan ook getaak wees met die aanwys van toekomstige redakteurs.
- Die Slingervel sal ressorteer onder die Jeugdeputate, wat ook die redakteur in die toekoms sal aanwys.
Waardering is uitgespreek vir die wyse waarop professor Callie Coetzee sy taak as redakteur van die Kerkblad uitgevoer het, en hy sal ook skriftelik bedank word.
Ook vermeld: Kruispad, die Afrikaanse jeugtydskrif wat vier keer ’n jaar uitgegee word het in 2019 sowat 442 intekenaars gehad. Hierdie getal het geklim na 1411 op 1 Februarie 2020. Verdere groei het plaasgevind tot 1 Februarie 2021, waar ’n getal van 1942 intekenaars aangeteken is. ’n Jaar later was daar 2672 intekenare, en die jongste beskikbare syfer toon 2882 intekenare. Die tydskrif word in elektroniese format aan die intekenare gestuur, maar al die artikels is ook op die webblad van Kruispad beskikbaar by www.kruispad.net.
- Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en die NG Kerk is susterskerke. – Red
- Bronne: https://gksa.org.za/storage/2023/02/GKSA-NUUSBROKKIES-5-Februarie-2023.pdf | en media-kantoor.
- Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.
- Hierdie artikel is ’n mediavrystellings of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is.