Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Selfdegeslagverbintenisse: Alle gesprekke help ASM ‘om tot groter helderheid oor die betekenis en implikasies van die 2019-besluit te kom’

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.


Die Algemene Sinode Moderamen (ASM) het deur die afgelope vier jaar “terdeë onder die indruk daarvan gekom dat die AS- 2019 se besluit oor selfdegeslagverbintenisse uiteenlopende reaksie in ons kerkverband ontlok het,” luidens ’n verslag* wat uitgereik is in aanloop tot die ASM-vergadering wat van 28 Februarie tot 2 Maart in Kemptonpark sal plaasvind.  

“Daar was gemeentes waarin die ‘ruimte geskep’ positief ontvang is en die bediening aan homoseksuele lidmate op ’n nuwe manier vergestalt is, én daar was gemeentes en ringe waar oor hierdie besluit van die AS ‘getreur’ is,” lui die verslag wat hieronder gepubliseer word.  

“Alhoewel daar in opdrag van AS 2019 voortgegaan is om ’n taakspan saam te stel wat die sinodebesluit in en saam met ander kerkvergaderings sou vertolk, en ’n Gids hiervoor ook die lig gesien het, was die rol wat hierdie taakspan kon speel, om ’n verskeidenheid van redes beperk. Die ingrypende ontwrigting wat deur die Covid 19-pandemie meegebring is, het ook ons voortgaande besinning oor die AS 2019-besluit belemmer. Daar het nogtans konstruktiewe gesprekke ín sinodes en ook tussen sinodes soos dié van Goudland en Namibië en die ASM plaasgevind. Al hierdie gesprekke en terugvoer wat vanuit sinodes en ringe ontvang is, hét die ASM gehelp om tot groter helderheid oor die betekenis en implikasies van die 2019-besluit te kom.”

  • Lees die relevante uittreksel uit die ASM-dagbestuur se verslag hieronder. Hou Kerkbode dop vir beriggewing oor die ASM-vergadering. 
  • *Die skrywe hieronder is deur die loop van die vergadering op 1 Maart na die Algemene Taakspan Regte (ATR) verwys. “Ek sal graag die dagbestuur (van die ASM) se interpretasie na die ATR verwys en sê: ‘Kyk daarna en respondeer daarop,'” het ds Nelis Janse van Rensburg na afloop van ’n gesprek daaroor en oor verwante sake gesê. Lees die ATR se volledige reaksie onderaan die verslag. 

VERSLAG VAN DIE DAGBESTUUR AAN DIE ASM

IN VERGADERING VAN 28 FEBRUARIE TOT 2 MAART 2023

TE EMSENI, KEMPTONPARK

 

Die dagbestuur van die Moderamen doen hiermee verslag van sy werksaamhede.

  1. Kontoere vir ’n gesprek oor die Algemene Sinode se 2019-besluit oor
      selfdegeslagverbintenisse

 

Ter Inleiding:

 

Die Moderamen van die Algemene Sinode (ASM) het by sy vorige vergadering in November 2022 besluit dat ’n opvolggesprek oor die verstaan van die Algemene Sinode (AS) se 2019-besluit oor selfdegeslagverbintenisse gevoer sal moet word (sien Notule, 3.1.2 en 3.1.3). Daar lê ook in die AS-2019 se besluit self ’n veronderstelling dat die gesprek hieroor in die NG Kerk voortgesit sou word en dat terugvoer daaroor by die komende Algemene Sinode (Oktober 2023) gegee sal word.

 

Die Dagbestuur van die ASM wil daarom die volgende kontoere aan die hand doen vir die vertolking van die AS-2019 se besluit:

 

  1. AS-2019 het ’n voortgaande proses van geloofsonderskeiding voorsien

 

  1. 1 Die AS-2019 se besluit het ’n proses van geloofsonderskeiding in konstruktiewe- en veilige ruimtes in gemeentes, ringe, taakspanne en sinodes oor die kwessie van selfdegeslagverbintenisse en menslike seksualiteit voorsien. Die AS het gehoop dat hierdie gespreksruimtes inklusief en divers sal bly; dat daar nie óór ander gepraat sal word nie, maar mét mekaar, eerlik en broos vanuit die eie posisie.

 

  1. 2 Die AS was bewus daarvan, en dit is in die 2019-besluit so uitgedruk, dat daar in die NG Kerk verdeeldheid oor hierdie aangeleentheid heers wat ten diepste teruggaan na ten minste twee vertolkings van die Skrif hieroor en die hermeneutiek daarrondom, maar was ook oortuig dat die eenheid van die kerk in Christus en ons belydenisgrondslag geleë is (Artikel 1 van ons Kerkorde) en dat ons daarom verbind is tot ’n voortgaande en nederige luister na mekaar met wedersydse respek vir uiteenlopende standpunte, benaderings en Skrifhantering.

 

  1. 3 Die AS het beklemtoon dat die Bybel as Woord van God vir ons, onder leiding van die Heilige Gees, die norm in hierdie geloofsonderskeidende gesprekke moet wees.

 

  1. AS-2019 het advies van ’n prinsipiële aard aan die kerkverband gegee

 

2. 1 Die AS-2019 het ingevolge ons gereformeerde kerkbegrip en verstaan van ons belydenis, geoordeel dat kerkrade en gemeentes in die eerste instansie geroepe en bemagtig is deur die Woord en Gees van God, om selfstandig besluite oor teologies-etiese sake te kan neem en met ander kerkrade en gemeentes in rings- of sinodale verband in gesprek kan tree. Die AS het daardie reg en verantwoordelikheid van kerkrade, gemeentes en sinodes prinsipieel erken.

 

2.2 Die AS-2019 het nie ’n finale besluit ten gunste of teen selfdegeslagverbintenisse geneem nie, maar ruimte geskep vir meervoudige standpunte in ons kerkverband oor hierdie aangeleentheid. Die ruimte wat geskep is, “dat daar leraars en kerkrade is wat te vinde is vir die kerklike bevestiging van selfdegeslagverbintenisse en ander leraars en kerkrade wat nie daarvoor te vinde is nie,” het inderdaad praktiese implikasies en dit ís so dat dit vir sommige lidmate hierdie diversiteit van sieninge nie aanvaarbaar is nie.

 

2.3 Die AS-2019 se besluit het dit wel duidelik gestel dat kerkvergaderings in hul pastorale bediening aan lidmate en die verkiesing van gelowiges tot die besondere ampte in kerklike bediening, asook met die oog op die legitimasie van voornemende bedienaars van die Evangelie, die volgende oorwegings moet laat geld:

 

  1. die doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis in leer en lewe van lidmate;
  2. toegang tot die sakramente;
  3. integriteit van verhoudings; en 
  4. die geskiktheid vir die spesifieke bediening ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.

 

  1. AS-2019 het vorige prinsipiële besluite van die NG Kerk gehandhaaf

 

3.1 Die AS van 2019 het die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ‘n huwelik beskou kan word, herbevestig.

3.2 Die AS van 2019 het ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele- as homoseksuele promiskuïteit afgekeur word, herbevestig.

3.3 Die AS van 2019 het herbevestig dat die besluit van 2007 dat, in die lig wat tans tot ons beskikking is, selfdegeslagverbintenisse nie as ‘n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.

 

  1. AS-2019 het twee verdere opdragte/versoeke gerig

 

4.1 Die AS van 2019 het haarself verbind tot voortgaande studie oor die aard en wese van die huwelik en menslike seksualiteit met die oog op terugvoer aan die volgende sinode(s) en hierdie besluit as ’n versoek na ATLAS vir leiding in die verband verwys.

 

4.2 Die AS van 2019 het ATLAS ook versoek om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag. By die vergadering van die ASM in Mei 2022 het ATLAS hieroor terugvoer gegee en gestel dat daar in die lig van Art. 48.2 van ons Kerkorde, eerder volstaan moet word met die ontwikkeling van liturgiese grondlyne aan die hand waarvan kerkrade dan self die inrigting van hul eredienste met verantwoordelikheid en in oorleg met ander kerkvergaderinge kan onderneem.

 

  1. Laaste opmerkings

 

Die ASM het deur die afgelope vier jaar terdeë onder die indruk daarvan gekom dat die AS- 2019 se besluit oor selfdegeslagverbintenisse uiteenlopende reaksie in ons kerkverband ontlok het. Daar was gemeentes waarin die “ruimte geskep” positief ontvang is en die bediening aan homoseksuele lidmate op ’n nuwe manier vergestalt is, én daar was gemeentes en ringe waar oor hierdie besluit van die AS “getreur” is. 

Alhoewel daar in opdrag van AS 2019 voortgegaan is om ’n taakspan saam te stel wat die sinodebesluit in en saam met ander kerkvergaderings sou vertolk, en ’n Gids hiervoor ook die lig gesien het, was die rol wat hierdie taakspan kon speel, om ’n verskeidenheid van redes beperk. Die ingrypende ontwrigting wat deur die Covid 19-pandemie meegebring is, het ook ons voortgaande besinning oor die AS 2019-besluit belemmer. Daar het nogtans konstruktiewe gesprekke ín sinodes en ook tussen sinodes soos dié van Goudland en Namibië en die ASM plaasgevind. Al hierdie gesprekke en terugvoer wat vanuit sinodes en ringe ontvang is, hét die ASM gehelp om tot groter helderheid oor die betekenis en implikasies van die 2019-besluit te kom.

 


SKM_C55823030315350

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Selfdegeslagverbintenisse: Alle gesprekke help ASM ‘om tot groter helderheid oor die betekenis en implikasies van die 2019-besluit te kom’”

Comments are closed.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top