In KwaZulu-Natal sien die NG Kerk, die VGKSA en die RCA nuwe energie by gemeentes danksy die “KZN Outreach” netwerk wat plaaslike kerkleiers en plaaslike bedienaars ondersteun met teologiese opleiding by Veritas College. Dr Lourens Schoeman vertel meer.
Soos in die meeste streeksinodes stoei die NG Kerkfamilie in KwaZulu-Natal (KZN) met kreatiewe nuwe maniere om die kerk dieper, wyer, meer missionaal uitreikend, maar meer bekostigbaar te kan bedien.
Die VGKSA in KZN het besluit dat ons die beste vorentoe kan beweeg, binne die nuwe werklikhede, deur klem te plaas op die volgende: Die leierskapsbasis van elke gemeente en preekpunt moet uitgebrei en verdiep word. Dit beteken dat in elke gemeente waar die VGKSA in KZN ’n preekpunt het, ons leiers wil bemagtig wat Skrifgetrou, aktueel binne hulle konteks, die Woord effektief sal kan uitlê en bedien aan alle mense: kinders, jeug, gesinne, mense wat trauma beleef en ook mense wat buite die kerkfamilie staan.
Veritas College se vier grondslagmodules is gekies om die kerkleiers en plaaslike bedienaars op te lei. Die huidige leraars en konsulente, wat die voorreg gehad het om goeie teologie te studeer, en jare se waardevolle ervaring het, word as fasiliteerders opgelei, wat binne hulle eie gemeentes kerkleiers op alle bedieningsvlakke sal oplei. Leraars word nou weer “leraars” in die ware sin van die Woord.
Hoekom dan nou juis Veritas College se materiaal?
Die materiaal is so ontwerp om kompak, eenvoudig, maar Skrifgetrou, groepe te fasiliteer om self die waarheid in die Woord vir hulle bepaalde konteks te ontdek, toe te pas en effektief te kan kommunikeer. Veritas College haal die prysetiket van goeie teologie af, en maak die Woordverstaan toeganklik vir gewone mense met min inkomste. Daarom bly Veritas College op die uitkyk vir donateurs wat die materiaal kan subsidieer sodat selfs werklose kerkleiers toegang het tot goeie teologie.
Na die vier grondslagmodules kan ’n student vir ’n sertifikaatkursus inskryf, gevolg deur ‘n diplomakursus, wat toegang gee tot nagraadse teologiese opleiding wat internasionaal geakkrediteer is. Vorige leer word erken, en mense wat uitgesluit was in die verlede, kan nou hulle teologiese vlerke sprei en hoog vlieg.

In KZN het die NG Kerk, die VGKSA en die RCA die “KZN Outreach” netwerk gestig, wat heelhartig in die opleidingsproses ingekoop het en behoeftige studente ondersteun. Gemeentes wat reeds die opleiding tot Module 4 voltooi het, is: Ulundi, Nongoma, Utrecht, Dundee/Glencoe/Dannhauser, Bergville/Winterton en Mhlumayo/Msinga. Gemeentes wat tans opleiding aanbied, is Mpumalanga/Umlazi, Pietermaritzburg/Greytown, Ladysmith en Mtubatuba. Meer as 200 kerkleiers behoort al vier modules teen Junie 2023 te voltooi.
Een leraar het opgemerk: “Ons is nou klaar gepraat, nou werk ons vir die Here, en ons staan verbaas oor hoe die kerk weer groei.” Bergville het verlede jaar tien volwasse bekeerlinge as lidmate bevestig en 27 jongmense het belydenis van geloof afgelê. Dit as gevolg van ouderlinge wat huisbesoek doen en Skrifgefundeerde katkisasie aanbied vir die jeug. Oral waar die kerkleiers gemobiliseer word, is daar nuwe energie. Die Sondagskool bars uit sy nate met kreatiewe maniere om kinders binne bepaalde ouderdomsgroepe te bedien. Daar is sinvolle gesprekke met tieners. Tien groepe is aan die gang om met die jongmense in hulle gemeenskappe in gesprek te tree oor wat die Bybel is, hoe ek die Bybel moet lees en hoe die Bybel my siening verander oor die lewe, myself, my familie, kollegas, finansies, naaste en omgewing.
Die Veritas College Jeugweergawe word in NG gemeentes as katkisasiemateriaal vanaf die Graad 10-fase tot naskoolse jeug met wonderlike vrug gebruik: “Ons kinders leer weer die waarde van die Bybel en ontwikkel vaardighede om self die waarhede in die Bybel vir hulle konteks te ontgin”.
Twee Bybelskole, toegerus met Veritasmateriaal, is vir Zioniste-kerkleiers begin. Saam gesels ons vir ure oor verlossing, bekering, die Woord en om Jesus as ’n Zoeloe te volg.
Ds Bonginkosi Sithole, aktuarius van die VGKSA in KZN, is vol entoesiasme oor die nuwe energie wat Veritas College in die VGKSA ingedra het: “Our KZN Regional Synod took the decision of training members with special gifts using the Veritas College foundational courses … We decided that Veritas must train them and after they finished training they can be ordained as local ministers … placed at each and every preaching post to take care of it and to assist congregational ministers … We thank God that URCSA General Synod accepted Veritas College as the solution to the ministry problem in URCSA. The ministry problem is not unique to KZN, but exists within all Regional Synods … We already experience the good fruits from those trained by Veritas College.”

Die deur is oop sodat ander streeksinodes, in vennootskap met die VGKSA, hierdie alternatiewe bedieningstyl kan ondersoek. Veritas het gekwalifiseerde opleiers van fasiliteerders beskikbaar in al die streeksinodes en wil graag met die opleidingsmateriaal die NG Kerkfamilie help om dieper, missionaal en hoopvol na ’n nuwe toekoms te groei. Die Reformed Church in eSwatini het ook pas 17 kerkleiers in al vier modules van Veritas opgelei. Tien fasiliteerders is ook opgelei en as fasiliteerders by Veritas geregistreer. Die eerste fasiliteerder in eSawitini het met ingang Februarie sy eerste klas met 17 deelnemers begin.
Veritas College bemagtig die NG Kerkfamilie om verby die doodwurgende sny van subsidies te beweeg na ’n hoopvolle, missionale manier van kerkwees, wat bekostigbaar is en ligvoets ook in die armste gemeenskappe met krag kan beweeg. Veritas College se materiaal, wat missionaal gerig is, is veral kragtig in die praktiese toepassing van dit wat ons glo sodat gemeentelede bemagtig en gemobiliseer kan word om uit te reik na die groter gemeenskap.
Veritas College Internasionaal, wat reeds meer as 30 jaar wêreldwyd die kerk toerus om leiers en lidmate te bemagtig om die Bybelse boodskap te interpreteer, toe te pas en met ander te deel, het die pas afgelope opleidingsjaar 15 970 deelnemers in die vier modules opgelei. Daar was verlede jaar wêreldwyd 1 258 opleidingsessies deur 1 160 onbetaalde, vrywillige fasiliteerders gelei om lewens deur middel van die Woord te transformeer.
In Suid-Afrika word kerke in meer as 25 denominasies jaarliks opgelei. Veritas College is geroep om die kerk in die breë in alle kontekste te dien. In die NG Kerk word 30 VBO-punte ook vir fasiliteerders en kursusgangers toegeken. Gemeentes beleef dieper groei, leiers ervaar vervulling terwyl fasiliteerders en deelnemers se passie vir die Woord aansteeklik meewerk om die koninkryk vir elkeen te laat kom!
Vir meer inligting oor inpersoon- en/of aanlynopleiding en/of die toerusting om as fasiliteerder self die Veritaskursus by jou gemeente aan te bied, kontak ons gerus: tiesie@veritascollege.org / 082 802 7853.
Dr Lourens Schoeman is ’n NG Leraar in Ladysmith met opdrag om die breë kerk se holistiese, missionale bediening in die uThukela-distrik en Msinga-gebied te versterk. Die fokus van sy bediening is mentorskap en dissipelskap. Vir die afgelope vier jaar gebruik hy Veritas College se materiaal om kerkleiers op te lei in Eksegese, Hermeneutiek en Homelitiek.
