Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Noel Viljoen van Calvinia skryf:
Hierdie jaar word daar weer getrap vir sending. Die datums waarop dit gebeur is 24 en 25 Maart. As dit die Here se wil is, gaan die roete soos volg daar uitsien: Dit begin op Calvinia, daarna Nieuwoudtville, Vanrhynsdorp, Vredendal (slaap oor), Lutzville na Strandfontein. Dit maak die roete ongeveer 200 km lank.
Vyf fietsryers het vir die eerste keer in 2002 die projek begin deur vanaf Calvinia via Nieuwoudtville, Vanrhynsdorp en Vredendal na Klawer te ry om fondse in te samel vir sendelinge. Vanrhynsdorp was die oornagplek op dié roete. Ons het op Klawer klaargemaak en is daar met ’n voertuig opgelaai en teruggeneem na Calvinia. Hierdie roete was ongeveer 164 km en dit is in 2002 en 2003 gevolg.
Na die rit in 2003 is besluit dat ons die roete moet wysig en is dit toe soos volg gedoen: Vertrek Vrydagoggend vanaf Calvinia via Nieuwoudtville, Vanrhynsdorp na Klawer (oornag), vertrek Saterdagoggend vanaf Klawer via Vredendal, Lutzville en eindig op Strandfontein. Hierdie roete is ongeveer 220 km lank. Dit is vir die eerste keer in 2004 gevolg en is so gedoen tot en met 2013. Vanaf 2014 is die roete soos hierbo uiteengesit.
U moet ook asseblief kennis neem dat hierdie projek nie sommer blindelings aangepak is nie. Daar is vir weke vooraf daaroor gebid en die Here se leiding is gevra en gesoek. Ons versoek u ook om asseblief vir die projek te bid – nie net vir fondse nie, maar ook vir elkeen se veiligheid op die pad (ook die begeleiers s’n).
Soos wat u hierbo kan sien, is dit in 2023 die 22ste jaar wat die projek aan die gang is. As ons terugkyk op die 21 jaar, kan ’n mens die Here se hand in alles sien. Behalwe vir ’n papwiel hier en daar was daar geen valle en/of beserings nie. Die Here is goed en getrou. Ons wil Hom alleen loof en prys en sy Naam grootmaak.
Die totale ingesamelde bedrag word oorbetaal en geen koste wat aangegaan mag word, word verhaal nie. My eie selnommer is 082 890 4489. My e-posadres is viljoen@hantam.co.za. Maak asseblief van hierdie kontaknommer en e-posadres gebruik indien u meer inligting insake die fietstrap benodig.
