Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die soeke na 'n "welwillende weg" vorentoe vir die NG Kerk Vrystaat vind op 18 April in Bloemfontein plaas te midde van verdeeldheid oor Skrifbeskouing ook in hierdie streeksinodes van die NG Kerk. Foto's: Le Roux Schoeman

NG Kerk Vrystaat: Ses opsies vir leiers en lidmate in Bloem wat vandag wil bepaal hoe los of vas dié streeksinode van die Algemene Sinode wil staan

Sou die skep van ’n aparte sinode binne die NG Kerk kon help om skeuring te vermy oor die verskillende maniere waarop lidmate die Bybel lees?

Dit is een van die vrae wat aan die hart lê van ’n reeks opsies waaruit afgevaardigdes vandag (18 April) sal kies tydens ’n vergadering in by Geloofsentrum Universitas in Bloemfontein. Meer as 100 gemeentes is verteenwoordig (78 is ‘n kworum).

Van die opsies behels ’n scenario waar gemeentes van regoor die land mettertyd toegelaat sou word om in ’n elfde sinode te hergroepeer. (Lees die volledige agenda met die ses opsies op bl 13 van die agenda HIER – Red).

Die twee mees ‘ekstreme’ besluite lui (kortliks) as volg: (Kerkbode behou hieronder die benaming Opsie A, B C ens, soos in die agenda gedui om verwarring te vermy).

  • Die Sinode van die NG Kerk Vrystaat besluit om in geheel uit algemene sinodale verband te tree op grond van beskrywingspunte wat in Maart 2022 uit gemeentes en ringe ontvang is en kragtens Artikel 37 van die Kerkorde, en begin daarmee ‘n proses om kerklike eenheid in die Vrystaat te herstel. (Opsie C)
  • Die Sinode van die NGK VS besluit om nie kragtens Artikel 37 van die Kerkorde uit algemene sinodale verband te tree nie. (Opsie F)

Dan is daar vier ‘ander’ opsies:

  • Die Sinode van die NG Kerk Vrystaat neem nie nou ‘n besluit in terme van Artikel 37 van die Kerkorde nie. (Opsie A)
  • Die NG Kerk Vrystaat besluit om nie kragtens Artikel 37 van die Kerkorde uit algemene sinodale verband te tree nie, maar om met die Algemene Sinode van Oktober 2023 in gesprek te tree. (Opsie E)
  • Die Sinode van die NG Kerk Vrystaat neem nie ‘n besluit in terme van Artikel 37 van die Kerkorde nie, maar versoek die Algemene Sinode in Oktober 2023 (skep 11de sinode met bepaalde teologiese standpunt). (Opsie B)
  • Die Sinode van die NG Kerk Vrystaat besluit om in beginsel tydelik òf ten dele kragtens Artikel 37 uit algemene sinodale verband te tree, deur self (in twee kerkvergaderinge te verdeel). (Opsie D)
Registrasie vind vroegdag plaas by die Buitengewone Sinodesitting van NG Kerk Vrystaat op 18 April 2023 in Bloemfontein.
Ds Jan Lubbe (middel), die voorsitter van die Moderman van die NG Kerk Vrystaat, sal die vergadering lei. Hier word sy mikrofoon verstel.

Die NG Kerk se bestaande tien “streeksinodes” verwys hoofsaaklik na geografiese grense, soos Vrystaat, Namibië, KwaZulu-Natal ens. ’n Nuwe sinode sou werk met hoe lidmate glo – vernaam oor sake soos selfdegeslagverbintenisse – eerder as waar hulle woon.

Hierdie buitengewone sinodesitting kom te midde van twee goed: Pogings in die NG Kerk om skeuring te vermy. En verdeling oor Skrifgebruik.

Lees ook: NG Kerk Vrystaat: Oor opleiding vir dominees, beelde van God en ’n moontlike ‘uittog’

Laasgenoemde is veral sigbaar in gesprekke oor kwessies soos selfdegeslagverhoudings en -verbintenisse (SGV). En terwyl ’n aparte sinode vir sommige drasties mag klink, sou dit vir ander, wat glo daar is tans sprake van “twee onversoenbare evangelies oor sonde, verlossing en dankbaarheid binne die NG Kerk,” kwalik drasties genoeg wees.

“Gegewe die uitdagings wat die soeke na (…) ’n welwillende weg aan ons stel (…) voorsien die Moderamen dat die buitengewone sinodesitting hoofsaaklik ’n prosesbesluit sal kan neem en dat daar noodwendig ’n ‘grasietydperk’ ná 18 April 2023 voorsien moet word vir verdere uitklaring van prosedures en besonderhede,” luidens die werksdokument wat die moderamen van die Vrystaat Sinode vir vandag voorberei het.

Die Bloemfontein-sitting kom ná afgevaardigdes van al die NG Kerk se streke by die AS in 2019 ruimte vir verskillende standpunte rondom sake soos SGV bevestig het en ’n besluit geneem het wat onder meer uitlig dat daar binne die kerkverband kerkrade en predikante is wat hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig, sowel as kerkrade en predikante wat nie hulle weg oopsien om dit te doen nie.

  • Hierdie artikel is ná publikasie opdateer. – Red. 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “NG Kerk Vrystaat: Ses opsies vir leiers en lidmate in Bloem wat vandag wil bepaal hoe los of vas dié streeksinode van die Algemene Sinode wil staan”

  1. Muller Oosthuizen

    Verstaan ek dit reg dat ‘n aparte sinode gestig wil word vir mense wat baie dekades lank die pad saam gestap met die ontwikkeling van algemene standpunte oor Skrifgebruik, Skrifinterpretasie, Skrifgesag en Skrifverstaan … maar dat hulle nou ‘n ander standpunt ontwikkel het wat nie meer versoenbaar is met dit wat die Gereformeerde tradisie al vir eeue lank glo en bely nie? Dis mos nie ‘n aanvaarbare rede vir afskeiding nie!

  2. Muller Oosthuizen verstaan heeltemal verkeerd. Die besluit wat die Algemene Sinode oor die Bose en selfdegeslagverhoudinge geneem het, is nie volgens en ooreenkomstig die NGK se amptelike standpunt oor Skrifgebruik en -verstaan geneem nie. Maar omdat mense soos Muller nie van sulke besluite afstand wildoen nie en ‘n ander hermeneutiek beoefen, veral by die NGK se opleidingplekke, wil diegene wat by die amptelike standpunt steun en navolg hulle op vredevolle wyse losmaak van hierdie nuwe rigting.

  3. Carel Schmahl

    Algemene Sinodes is uitgedien. Al hoe kleiner NG Gemeentes hul voortbestaan kan verseker is om gemeenskapskerke te word. “Blom waar jy geplant is”. SGV heulers soos Muller&kie kan hul eie kerke stig.

Comments are closed.

Scroll to Top