Groot kommer heers by kinderbeskermingsorganisasies soos CMR Gauteng-Oos, wat ’n 61% korting in die gesig staar te midde van herprioritisering binne die befondsingsmodel van die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
“Waar ons in die laaste jaar 28 676 persone met professionele maatskaplikewerkdienste kon bystaan, (sal) ons nou minder as 10 000 sal kan bystaan,” luidens ’n verklaring deur hierdie nie-winsgewende organisasie (NWO) met sowat 55 personeellede en 13 satellietkantore regoor Pretoria.
LEES OOK | Nadia Marais skryf: Die geskenk van die donker
“Ons waarsku al jare – dekades – dat nieregeringsorganisasies (NRO’s) se taak groter word, maar die beskikbare hulpbronne kleiner, sê Henda van der Merwe, die direkteur van CMR Gauteng-Oos, luidens die verklaring.
Mbali Hlophe, die Gautengese LUR vir maatskaplike ontwikkeling, wys daarop dat daar nie gesny is aan die (totale) R2,3 miljard wat in die provinsie aan NWO’s bewillig word nie. “Die fondse word soos altyd toegeken aan verdienstelike NWO’s wat aan die vereistes voldoen, in lyn met die departement se doelwitte. “Die kwesbares in die samelewing sal steeds dienste ontvang van die departement en NWO’s namate ons nou groter, holistiese ontwikkeling vir hulle verseker,” het Hlophe op 16 April in ’n persverklaring gesê.
Van der Merwe meen die aansienlike inkorting van befondsing spesifiek vir organisasies soos CMR is meer as kommerwekkend is, dit is “skreiend onaanvaarbaar”.
LEES OOK: Chris Smith skryf: Watter soort liefde wen deesdae?
“Die grootste tameletjie is die plan om die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling met die Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewing, saam te smelt. Hierdie samesmelting met ander departemente beteken dat broodnodige fondse weggeneem word van kinders, persone met gestremdhede, ouer mense en armes. Daar is ’n duidelike wegbeweeg van maatskaplike dienste af na gemeenskapsontwikkeling, wat beteken dat die kwesbare groepe wat deur ons bedien word, eenkant toe geskuif word – en aan hulle lot oorgelaat sal word wanneer fondse heeltemal opdroog.”
Van der Merwe, en vele ander in die sektor, asook opposisiepolitici, het die nuwe prioriteite vandeesmaand fel gekritiseer. “Die prioritisering van staatsfondse vir (die bekamping van) dwelmmisbruik en die skoonmaak en opbou van informele nedersettings, het baie organisasies warm onder die kraag, luidens die verklaring. “Ja, dit is belangrik, maar nie ten koste van die kwesbare groepe nie,” meen Van der Merwe.
Die DA het in ’n verklaring op 21 April uitgewys dat, onder meer, R71,5 miljoen in die provinsiale begroting “weggeskuif” word vanaf NWO’s wat vir bejaardes sorg, terwyl daar eweneens gemaai word onder die begroting vir NWO’s wat werk met MIV/Vigs-gevalle asook kinders. Sowat R238,6 miljoen is vanuit daardie begroting weggeskuif, volgens Refiloe Nt’skhe, van die DA.
LEES OOK | KYK: Dominee se debuutroman vra vrae oor vrouwees in manswêreld
“As ’n kinderbeskermingsorganisasie wil ons beklemtoon dat persone meer as ooit nie heenkome gaan hê nie. Kinders wat gemolesteer word, mishandel word, verwaarloos word, honger gaan slaap … wie gaan vir hulle instaan?” wil Van der Merwe weet. “Die staat het eenvoudig nie die kapasiteit om voorkomings- en statutêre dienste te lewer nie. En alhoewel die betrokke organisasies reeds vir soveel dekades bewys het hulle lewer dienste van hoogstaande gehalte, word hulle eenvoudig eenkant toe geskuif.”
Hlophe het gesê die departement moet “die ontwikkelingsimperatief” uitbou. Sy het die sosio-ekonomiese landskap waarin ons leef beklemtoon, “gekenmerk deur hoë werkloosheid, armoede, ’n beperkte belasbare bevolking weens groot afhanklikheid op die staat”.
