’n Voorstel is op die tweede dag van die Wes-Kaapse sinode aanvaar dat alle predikante, ingesluit predikante in sinodale diens (PSD’s) en personeel van die sinode, opleiding ondergaan om sensitief te wees vir wat ander as seksuele teistering kan beleef binne kerklike strukture.
Hierdie is een van twee voorstelle gemaak deur ds Lou-Maré Denton, voorsitter van die Taakspan Gendergeregtigheid. Die tweede is dat ondersoek word of ’n pos vir ’n “gender-lessenaar binne die sinodale strukture” geskep kan word om op hierdie manier die kapasiteit van hierdie taakspan uit te brei.

Sy het vir Kerkbode verduidelik die twee versoeke spruit uit hulle taakspan se belewenis dat vroue in kerklike ampte ervaar daar is soms ’n gebrek aan sensitiwiteit oor genderongelykheid of wat sy ook sal omskryf as “micro-aggressions” teenoor vroue-kollegas.
Nog ’n tema waaroor voorstelle gemaak is, gaan oor versoening en kerkeenheid tussen rasse binne die kerk. Dr Louis van der Riet van die Taakspan Ras en Versoening het aan die meer as 600 afgevaardigdes meer vertel oor die werk wat hierdie taakspan doen. Dit sluit onder meer die aanbied van slypskole aan waar leraars na binne “witwerk” doen om hulle eie belewenis en bewussyn oor rassisme te verstaan. Die sessie het ingesluit die wys van ’n video (hier onder) oor so ’n werkswinkel.
Ook Van der Riet het verduidelik uit hulle werk het geblyk dit is ’n taak wat te groot is vir een taakgroep.
Met meerderheidstem is die volgende twee voorstelle dus aanvaar wat Van der Riet namens die taakspan voorgehou het, naamlik dat:
- Die lede van die moderatuur, sowel as voorsitters van diensgroepe en PSD’s, deelneem aan ’n opleidingsgeleentheid oor diversiteit, inklusiwiteit en gelykheid.
- Die Diensgroep Toerusting in gesprek gaan met die VGKSA Kaapland oor die moontlikheid dat die Ras en Versoening Taakspan ’n eenheidsbediening word met terugvoering aan die moderamen.
Marius Nel verkies as assessor
Die besprekings het gevolg op ’n vol program wat ook ’n bespreking ingesluit het van die boek Ons wil Jesus sien deur die skrywers, dr Coenie Burger en prof Marius Nel, waarin Burger onder meer genoem het dat hy bekommerd is dat die kerk met “ander gesprekke” sukkel omdat “ons nie meer ’n helder beeld het van wie Jesus is nie”.
Tydens die besprekingspunt oor teologiese opleiding is ’n video bekendgestel wat die verruiming van teologiese opleiding binne die NG Kerk verduidelik. Kyk die video hieronder en lees meer by http://seminarium.org.za/
Tussendeur die loop van hierdie besige oggend is einste Nel verkies as nuwe assessor (ondervoorsitter) van die Wes-Kaapse sinode. Hy is ’n professor in Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is gekoppel aan die NG gemeente Oostersee as leraar met die opdrag teologiese opleiding.
Navorsing oor veerkragtigheid, uitbranding
Afgevaardigdes by die Wes-Kaapse Sinode se veerkragtigheid is Dinsdag gepeil deur ’n interaktiewe vraelys waarvan die uitslae later die week bekend gemaak sal word.
Hierdie eksperiment volg op die welslae van ’n projek wat ’n toetsgroep van 64 Wes-Kaapse predikante onder 40 jaar oud getoets het vir vlakke van veerkragtigheid, uitbrandingsrisiko, verbintenisvlakke, intensie om in die beroep te bly, werksverrigting en werksbevrediging.
Navorsers het ook die “impak van die intervensie getoets op dominees se vermoë om spiritueel en emosioneel volwasse mentors, toerusters, besluitnemers, kommunikeerders, konflikbestuurders, probleemoplossers en geloofsonderskeiders te wees,” luidens ’n verslag deur die Sinodale Taakspan vir Predikantebegeleiding oor die “Communitas-Neurozone-navorsingsprojek”.
Twee van die interessante waarnemings uit die Communitas-Neurozone-navorsingsprojek is dat leiers moet leer om stilte te beoefen (“silencing of the mind”), wat iets anders is as “stiltetyd”. Stiltetyd, Bybellees en bid, behoort eerder te volg op werklike stilword, luidens ’n verslagopsomming.
Ander uitstaande groei-areas is die reduksie van negatiewe denkpatrone, sosiale diversiteit in die span, behoort in die groter span, gesonde slaappatrone, eet- en drinkgewoontes en oefening.
Lees meer op bl 54 van die Agenda.
Intussen is ’n video bekendgestel wat die skatte en dienste van die Kerkargief op Stellenbosch verduidelik. Kyk hieronder:
