Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dawie Botes: Ek treur oor demokrasie in die kerk

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Dawie Botes van NG Kerk Welkom-Wes skryf: Baie interessant dat verskillende groepe in die kerk kan treur.

Al twee groepe is absoluut vasgevang in die kerkorde. Al twee groepe word uitgestem. Die een groep wil Art 44 laat wysig vir Belhar en die ander behoudende groep weer Art 32 vir ’n 11de sinode.

Albei groepe is absoluut vasgevang in kerkdemokrasie. Albei groepe se drome en passie word verwoes deur kerkdemokrasie. By die Wes-Kaap (sinodesitting) is daar ook verwys na demokrasie in die kerk en die betekenis daarvan. Ek wens iemand wil in die kerk kyk na demokrasie en die gevolge daarvan op kerkvergaderings. Die ongelooflike pyn en hartseer wat demokrasie in die kerk veroorsaak en al veroorsaak het. Ja, die meerderheid stem en ’n ander groep verloor … So maklik soos dit. Die woord “verloor” word nooit gebruik nie; dit is te kras, te hard, te onsensitief vir die tyd waarin ons leef. Kom ons sê dit sagter, meer genuanseerd, meer met deernis en omgee. “Daar is ’n meerderheidsbesluit geneem.” Punt. Dit klink sagter en nie so verdoemend nie. Die “verloorders” sal weet daar is baie “simpatie” met hulle. Die lewe gaan aan en die volgende sake op die agenda beur voort met nog demokrasie-“wenners” en “verloorders”.

LEES OOK: Sinodesitting: 700 mense loop in by ’n spa

Na die meerderheidsuitslag is die saak bloot afgehandel. Dié wat in die minderheid was (verloor het) moet dit sluk en aangaan met die lewe en in hulle binnekamers gaan worstel en huil. Is dit reg so? Is dit nie regtig iets om oor te treur in die kerk nie? Die volgende Algemene Sinode is op pad. Ek wil ernstig doleer oor demokrasie in die kerk. Gaan kyk watter geweldige skade het demokrasie al veroorsaak in die kerk se verlede. Ek treur oor wenners en verloorders, ek was al in albei groepe en het in albei groepe nooit gemaklik gevoel nie. Want met teetyd tydens vergaderings sien ek my boeties en sussies is nie lekker nie. Maar demokrasie het gewen.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top