“Maak nie saak van watter gemeente jy is nie, maak nie saak van watter denominasie jy is nie – jy is my broer en my suster. Ek wil met jou praat en ek wil met jou praat vir 17 km.”
Met hierdie woorde het ds Ben Wiese van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) Uitenhage/Aberdeen-gemeente ’n spesiale pretloop geopen op ’n koue bewolkte Saterdagoggend op 6 Mei. Saam met hom op die 17 km-staproete was ook amptelike verteenwoordigers van vier APK-gemeentes, die NG Kerk op Aberdeen asook die Gereformeerde Kerk op Graaff-Reinet en die Anglikaanse kerk.
Die NG gemeente van Aberdeen het die logistieke reëlings hanteer. Hulle leraar, ds Clifford James en sy vrou Engela, het ook gestap.
Die roete het begin by Die Padstal, waar die paaie vanaf Graaff-Reinet, Willowmore en Beaufort-Wes almal lei na Aberdeen in die Oos-Kaap. Vanuit plekke soos Jeffreysbaai, Uitenhage, Kareedouw en Graaff-Reinet het mense gekom vir ’n dag se stap, draf of fietsry op plaaspaaie in die Kamdeboo-vlaktes. Sommige het al 03:00 opgestaan om betyds te wees.
Wiese vertel hy loop lankal met ’n visie vir so ’n jaarlikse ekumeniese pretloop. “Tye raak moeiliker. Ons moet ons medemens in die oë kyk, raaksien en herken as broer en suster. Daarom is enigiemand en almal welkom,” gesels hy oor hierdie gebeurtenis wat hy hoop vorentoe ’n jaarlikse instelling sal word.
Die dag is afgesluit met ’n saamkuier op ’n plaas waarvandaan die deelnemers huis toe vertrek het.
- Hierdie artikel is ’n storie wat aan Kerkbode gestuur is. Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.
