Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Skrywers, uitgewers en kerklui het die prysfonds deur die loop van die aand geloof as ’n reuse-aansporing en stimulus binne die Christen-boekebedryf en breër teologiese landskap. Foto's: Le Roux Schoeman

Andrew Murray-prysfonds: Wenners aan die woord oor groensake, profesie, vals profete en kerkeenheid by vanjaar se oorhandiging


Ná die wenners van vanjaar se Andrew Murray-prysfonds se pryse en toekennings in April aangekondig is, het verskeie van die wenners hul pryse in persoon ontvang tydens ’n geleentheid wat op 26 Mei in Kaapstad aangebied is. Kerkbode doen verslag.

 

2023 se wenners is:

  • Martin Laubscher: Die Andrew Murrayprys vir Teologiese Boeke in Afrikaans
  • Retief Müller: Die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir Algemene Christelike Publikasies in ’n Amptelike Taal van Suid-Afrika
  • An-Mari do Carmo: Die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir Debuutwerk in ’n Amptelike Taal van Suid-Afrika
  • Johan Vorster: Die Andrew Murray-FAK-Toekenning vir Christelike Musiek
  • Johan Buitendag: Die  CLF-Elise Tempelhoff-Toekenning vir Omgewingsbewaring en -Geregtigheid
  • Marlene le Roux: Die Jaap Durand-Denise Ackermann-Toekenning vir Eenheid, Versoening en Geregtigheid

Die een het grootgeword as deel van ’n kultus, die ander het in haar studentejare gehelp om Andrew Murray se standbeeld voor die Moederkerk op Wellington uit protes pers te verf. Nog een het ’n boek oor Karl Barth geskryf waarin selfs die voetnotas tot die teks soms by 2 800 woorde elk gaan draai. En dan is daar die 70-jarige teoloog wat op grond van insigte uit sy akademiese loopbaan van 40 jaar meen dit is tyd dat gelowiges “anders dink en anders doen” oor ekologie.

“Ons moet wegkom (daarvan) om die mens in die sentrum van alles te wil plaas,” het prof Johan Buitendag op 26 Mei by vanjaar se Andrew Murrayprysfondsfunksie in Kaapstad gesê. Buitendag is een van die rits wenners van vanjaar se pryse wat by Vrydagaand se geleentheid meer oor hul werk en agtergrond vertel het. “Ons lees die skeppingsverhaal net tot Dag 6,” het Buitendag gewaarsku tydens sy aanvaardingsrede vir die CLF-Elise Tempelhoff-toekenning vir omgewingsbewaring en -geregtigheid. “… Maar gaan kyk mooi, die skepping is voltooi op Dag 7. Die kroon van die skepping is die sabbat, waar Skepper, skepsel en die skepping harmonieus saam is,” het Buitendag aan die sowat 50 gaste by die intieme geleentheid in Buitenkantstraat gesê.

Prof Johan Buitendag.

Die gewese dekaan van die Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria, meen reformatoriese teologie het vir 500 jaar nie aandag gegee aan die “Wat”-aspek van God se skepping nie. “Ons kyk na die skepping as skeppings-daad pleks daarvan om te kyk na die skepping as skeppings-resultaat,” waarsku Buitendag. Hy pleit vir ’n “skeppingsleer waar ons wat God geskep het, beter verstaan.”

 

Tutu speel gasheer vir prysseremonie 

Die prysuitdelingsgeleentheid is vanjaar vir die 42ste keer aangebied. Die funksie was by die stylvolle kwartiere van die Desmond en Leah Tutu Erfenisstigting en het ’n ligte ete ingesluit asook ’n musiekopvoering.

Die Andrew Murray-prysfonds wil uitnemendheid in die Christelike media bevorder deur die bekroning van werke van hoogstaande gehalte in Afrikaans en ander tale van Suid-Afrika. Die Prysfonds se vlagskepe is twee boekpryse, naamlik die Andrew Murray-prys vir Christelike en teologiese publikasies in Afrikaans en die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir Christelike en teologiese publikasies in enige amptelike taal van Suid-Afrika. Dit bied ook pryse aan vir teologiese artikels, vir Christelike joernalistiek, vir Christelike radioprogramme en vir Christelike beeld-en-klank-produksies. Spesiale toekennings word ook van tyd tot tyd gemaak. Bron: andrewmurrayprys.co.za

Skrywers, uitgewers en kerklui het die prysfonds deur die loop van die aand geloof as ’n reuse-aansporing en stimulus binne die Christen-boekebedryf en breër teologiese landskap. In die gehoor was kultuur- en kerkleiers soos Marlene le Roux, uitvoerende hoof van die Kunstekaap-sentrum en ds Nelis Janse van Rensburg. En in die voorste ry het dr Frits Gaum, die voorsitter van die Andrew Murray-prysfonds, en sy vrou Henda plaasgeneem. 

LEES OOK: Kerkbode se resensies van al die wenboeke

Pryswenners het, naas Buitendag, An-Mari do Carmo ingesluit, vir ’n debuutverhaal gebaseer op haar grootwordjare as deel van ’n kultus; die KwaSizabantu-Sending in KZN. Haar boek, Toe als groen was, is “iets wat die Here swaar op haar hart gelê het, om uit te praat oor valse profete, mense wat die Here se Woord misbruik,” het die skrywer gesê. Die boek is met die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys bekroon.

An-Mari do Carmo.

Karl Barth, die Skotte en die Afrikaners 

In die prominente kategorie vir “Teologiese boeke in Afrikaans”, is dr Martin Laubscher se pennevrug uitgesonder as ’n “puik uiteensetting, in verstaanbare styl, oor moeilike sake”. “In ’n land wat geteister word deur armoede en ander sosio-ekonomiese probleme is die vraag na publieke teologie as profetiese teologie van kardinale belang,” het ds Hans Linde namens die beoordelaars gesê en bygevoeg dit is belangrik dat African Sun Media die boek in Afrikaans uitgegee het, in ’n tyd wat al minder teologiese boeke in Afrikaans verskyn.

Bettina Wyngaard (regs) en Marlene le Roux tydens die geselligheid.
Dr Martin Laubscher.

Laubscher, ’n dosent aan die Universiteit van die Vrystaat, het ondanks ’n swak vir uitgebreide voetnotas wat hy deels aan prof Dirkie Smit se skryfstyl toeskryf (Smit was een van Laubscher se twee studieleiers) volgens beoordelaars daarin geslaag om ’n toeganklike en teologies kreatiewe boek te skryf oor profesie. Die boek heet Publieke teologie as profetiese teologie? Die subtitel brei uit: ’n Kritiese beskouing van die sosio-ekklesiologiese implikasies van die drieërlei amp in die teologie van Karl Barth, met laasgenoemde wat op die voorbladskets die lesers van agter ’n ronderaambril en met pyp in die mond ietwat vraend aankyk.

In sy toespraak het Laubscher grootskeepse waardering aan kollegas, familie en studieleiers uitgespreek – asook verwys na die raad wat die digter Joan Hambidge by ’n vroeëre geleentheid glo oor boekpryse sou gegee het: Take the money and run.

Dr Retief Müller se boek, The Scots Afrikaners: Identity Politics  and Intertwined Religious Cultures, is vanjaar se wenner van die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir Algemene Christelike Publikasies in ’n amptelike taal van Suid-Afrika. Die boek fokus op die Skotse sending en die invloed daarvan op die NG Kerk en is uitgegee deur Edinburgh University Press. “Sowel die Skotte as die Afrikaners is gewortel in die Gereformeerde geloof en het ’n gemeenskaplike teologiese erfenis. Die skrywer ontgin hierdie verhouding aan die hand van oorspronklike bronne, aldus die beoordelaars in hierdie kategorie. Hy het die prys via videoboodskap vanuit die buiteland ontvang. 

Dr Frits Gaum (middel), Voorsitter: Andrew Murray-prysfonds.
Marlene le Roux ontvang haar prys by Laurie Gaum.

VGK en NGK steeds apart

Marlene le Roux het ook ’n prys ingepalm. In ’n wydlopende ontvangsrede vir die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir eenheid, versoening en geregtigheid, het sy stories vertel, gesing en pertinente vrae gestel oor eenheid tussen NG Kerk en VG Kerk. “Ek het grootgeword op Wellington, die hartland van Andrew Murray met sy sendingywer,” lui haar ontvangsrede. “Ek was kerkgebonde in die kinder- en jongdogtersbond asook die kinderkoor wat my blootgestel het aan wat dit is om te behoort. Tot ek gevra is om te gaan sing in die NG Moedergemeente oorkant die pad, die laaste gemeente van Andrew Murray waar hy 35 jaar lank die predikant was. En ek mag nie die kerk binnegaan het nie. Ek moes in die konsistorie gaan sit tot dit my beurt was om te sing … Ons het mos later as studente, Andrew Murray se standbeeld voor die Moederkerk pers geverf om protes aan te teken oor die verdeeldheid van die kerk en hoe die VGK verskuif is om plek te maak vir die NG Kerk. Vandag kleef beide gemeentes, skaars 300 meter van mekaar, nog vas aan hulle identiteite van bruin- en wit-kulture. Sondae word daar nog steeds meestal apart kerkgehou. Hoe beweeg ons vorentoe op die pad van versoening tussen diverse gemeenskappe, ook wat klas, inkomste, plek, taal, disability, gender en seksuele oriëntasie betref?”

 

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.