Catharina Hester Johanna van Schalkwyk is op 26 Januarie 1971 gebore op Pietersburg. Sy is na haar ouma en moeder vernoem en die naamdraer van ’n voorgeslag wat diep spore in die Paarl getrap het. Haar ouers was Wynand en Rina van Schalkwyk, wat met liefdevolle meelewing twee dogters, Caren en Elsa, asook ’n seun Gary, grootgemaak en opgevoed het. Wynand was in diens van die SA Weermag en die gesin het baie rondgetrek. Carin voltooi haar laerskooljare op Hoedspruit en in haar standerd 8 jaar in 1983 sterf haar vader en die gesin verhuis na die Paarl, om naby familie te wees en ter wille van die drie kinders se opvoeding. Carin matrikuleer in 1989 aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl en word die eerste leerling in die 150-jarige geskiedenis van die bekende skool wat teologie gaan studeer het.
Aan die begin van 1990 word sy student aan die Universiteit Stellenbosch waar sy die BA-graad verwerf met Grieks en Hebreeus om toegang te kry tot die kweekskool waar sy die BTh-graad by Maties verwerf en op 1 Desember 1995 gelegitimeer word op Stellenbosch. Later behaal sy haar doktorsgraad in Ou Testament en Antieke Nabye-Oosterse studies aan die Universiteit Stellenbosch, met die tema: “Die Logosleer van Filo van Alexandrië – ’n Kultuurhistoriese studie”. Op haar pad na die bediening in die NG Kerk het Carin vir niks gestuit nie en is deur sommige beskryf as domhalsstarrig, Maar sy het voortgebeur op die moeisame pad om ’n vroueleraar en kerkleier in die NG Kerk te word.
Prop Carin van Schalkwyk is sedert 1995 drie jaar lank jeugwerker in die NG Gemeente Noorder-Paarl, die gemeente waar sy voorgestel is as lidmaat en die grootmenswêreld betree het. Dit is ’n moeilike tydperk in die jong Carin se lewe en sy staan in die spervuur om ’n menswaardige plek in koninkyksdiens te vind. ’n Roepstem kom vroeg in 1998 om onder lidmate van die Verenigende Gereformeerde Kerk Bergmanshoogte in Philippolis te werk, ’n geestelike pos wat befonds is deur Bill en Ansie Schoeman, oudgemeentelede van Philippolis wat in Amerika woon. So verruil proponent Carin van Schalkwyk haar geliefde Paarl vir ’n arm woongebied Bergmanshoogte in die historiese Suid-Vrystaatse dorp Philippolis. Hier sou sy van 1998 tot met haar dood in 2022, die Blye Evangelie met oorgawe verkondig. As jong vroueproponent het sy tuisgekom tussen die mense van Bergmanshoogte en haarself grensloos gegee.
Met die vertrek van ds Ferdinand Boll in 2006 word die NG Kerk Philippolis vakant en help sy tydelik as proponent in die gemeente. Na twee jaar word dr Carin van Schalkwyk as tentmakerleraar na die NG Kerk Philippolis beroep en op 18 April 2008 met handoplegging bevestig, ’n geleentheid wat die skrywer as leraar van Bethulie meemaak en beleef dat die Here getrou is. Intussen bedien sy nie net Philippolis nie, maar preek ook op Springfontein en Gariepdam.
Carin se toewyding en talente het gemaak dat haar bediening al hoe wyer uitgekring het oor die hele Vrystaat. Sy word verkies op die Vrystaatse moderamen as skriba en behartig twee termyne die veeleisende pos as skriba en dien op verskeie sinodale kommissies van die Algemene Sinode, ook as lid van die Algemene Sinodale Moderamen en die beheerraad van die Christelike Lektuurfonds. Sy bly teologies aktief, gee klas in Zambië en skryf vele kere studiestukke vir sinodes.
Die lewensbeeld van dr Carin van Schalkwyk getuig van ’n besonderse mens, wat met haar ruim gees en hart vol deernis uitgereik het na afvlerkmense en randfigure in die samelewing. Sy kon sterk standpunt teen onreg inneem. Toe Carin in die winter van 2021 met kanker gediagnoseer is, het sy op ’n eerlike manier oor haar worstelstryd met dié siekte geskryf en gepraat op sosiale media. Ds Nelis Janse van Rensburg skryf oor haar stryd teen kanker: “Carin se siekte het by my ongekende hartseer ontlok. Was dit haar broosheid? Was dit haar alleenheid? Was dit haar ongekende solidariteit met gebrokenes en die armstes van die armes? Was dit haar lewensverbintenis tot geregtigheid vir alle mense? Was dit haar tevredewees met God se wil vir haar lewe? Was dit haar kinderlike geloof, en absolute toewyding? Of was dit maar net die feit dat sy mooi en goed was en ook vir my, soos vir sovele ander, omgegee het en deernis gehad het?”
Dr Carin van Schalkwyk sterf op 7 Maart 2022 in die Paarlse Medi-Clinic en verloor haar stryd teen kanker. Sy was slegs 51 jaar oud en was ten tye van haar dood skriba van die Vrystaatse Sinode en leraar van die NG Kerk Philippolis en VGK Bergmanshoogte op Philippolis. Op haar eiesoortige manier, het sy die laaste twee dekades ’n dinamiese rol gespeel om ’n staanplek vir die Afrikaanse vrouepredikant in die NG Kerk te verseker. Sy het na my mening ’n sterk rol agter die skerms gespeel in die gay-debat en gender-geregtigheid en was die emosionele gom wat vrouekollegas bemagtig het om hulle plek in die Wingerd van die Here vol te staan. Dr Carin van Schalkwyk het voluit geleef met oorgawe, al was daar pynlike ervarings, diepe eensaamheid en groot teleurstellings op haar kerklike pad.
Dr Carin word oorleef deur haar oorlede moeder se tweelingsuster, tannie Gertie Hamman van Trompsburg, haar broer Gary en suster dr Elsa in die Paarl. Ons dink ook aan Erica van Lingen, ’n huismaat wat al die jare saam met haar die ruim pastorie langs die historiese kerkgebou op Philippolis gedeel het. ’n Begrafnisdiens is op Saterdag 19 Maart 2022 in die NG Gemeente Philippolis gehou, waar dr Gideon van der Watt die rede gelewer het en dr Gustav Claassen namens die NG Kerk ’n uit die hart huldigingswoord gebring het.
– Dr Gerdrie van der Merwe VDM
