Met ’n onlangse besoek aan Atlantis vir ’n Kerkbode-storie oor die sosio-maatskaplike krag van stories, was dit vir Bybel-Media ’n voorreg om ’n bydrae te maak tot die leesstof wat hierdie groep “Little Seeds-storievertellers” met kinders deel.
Bybel-Media is deurlopend besig om Bybelprodukte en -kursusse te ontwikkel wat gemeentes, skole en huisgesinne kan gebruik om kinders meer van Jesus te vertel. Maar in vele gemeenskappe is leesvaardigheid ’n groot uitdaging. Trouens, soveel as 80% van graad 4-leerlinge in Suid-Afrika kan nie met begrip lees nie, volgens data uit ’n internasionale peiling oor leesvaardigheid wat in Mei 2023 bekendgemaak is.
Kliek HIER vir meer oor Bybel-Media se projekte | Kliek HIER om ’n donasie te maak
Die uitslae van die internasionale “Progress in International Reading Literacy Study” se 2021-ondersoek bewys die noodsaaklikheid van vroeëkinderontwikkeling en bring nuwe waardering vir die werk wat reeds gedoen word deur organisasies soos die Wes-Kaapse maatskaplike organisasie Badisa, tesame met Diaconia, die gesamentlike barmhartigheidsbediening van die NG Kerk en VGK. Die Little Seeds Eenheid vir Vroeëkinderontwikkeling is ’n gesamentlike inisiatief van hierdie organisasies en die storievertellers hierbo is deel van ’n netwerk van vrywilligers in verskeie gemeenskappe, in hierdie geval Atlantis in die Wes-Kaap, wat leesgroepe vorm om kinders te help.
Die boeke wat Bybel-Media geskenk het, is deel van ons Kinderpret-reeks. Dit kombineer Bybelstories met ’n leesreeks wat werk.
Dit is ’n opwindende manier om goedkoper boeke beskikbaar te stel en meer kinders te bereik. Die huidige reeks bestaan uit 12 stories oor karakters van die Ou Testament. Jou bydrae kan ons help om ook ’n reeks oor karakters van die Nuwe Testament te ontwikkel.
- Kerkbode is ’n publikasie van Bybel-Media.