Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Piet Preller (1953 – 2020)

Willem Petrus Lubbe Preller is op 17 Junie 1953 gebore te De Aar in die hart van die Groot-Karoo. Sy vader was Ferdinand Theodorus Preller, ’n sakeman van beroep en sy moeder Wilhelmina Lubbe, ook ’n sakevrou. Die gesin verhuis later na die Vrystaatse Goudveld waar Piet in 1960 met sy skoolloopbaan begin aan die Laerskool St Helena op Welkom. In 1966 word hy leerling aan die Hoërskool Gimnasium op Welkom, waar hy op die leerlingraad dien, onderhoofseun is en uitblink in rugby en atletiek.

Na sy matrikulasie in 1970 doen hy diensplig en studeer aan die UOVS in Bloemfontein waar hy die BA-graad en die HOD verwerf en as onderwyser vier jaar lank werk. Piet trou op 17 Desember 1977 met mej Esther Liebenberg van Edenburg, waar haar vader die Here dien as mediese dokter op die plattelandse dorp. Esther het haar man Pieter ondersteun met sy roeping om bedienaar van die Woord te word en het hom getrou bygestaan tot die einde toe. Uit hulle huwelik is vier kinders gebore: Wilhelm, An-Mari, Werner en Nadia. Daar het ’n besondere verhouding tussen Piet en sy kinders bestaan.

Piet studeer aan die Vrystaatse Universiteit se Fakulteit Teologie, ’n nuwe opleidingsentrum vir NG leraars in die Vrystaat. In 1981 begin Piet met sy studie aan die nuwe fakulteit en is deel van ’n dinamiese groep jong studente wat begeer om voltyds in die diens van die Here te staan. Hier behaal hy die BTh-graad en ook die MTh-graad met die tema: “Die vermeerdering of vermindering van gemeentes in die Ned Geref Kerk.” In sy leeftyd verwerf hy twee doktorsgrade, een in kerkreg en een in prediking. Op ’n eiesoortige manier het hy die ervaring en kennis wat hierdie proefskrifte gebring het, tydens sy bediening in die kerk verwoord in persoonlike gesprekke met kerkmense en persone wat by hom kom leiding soek het.

Aan die einde van 1984 word prop Willem Petrus Lubbe Preller as proponent gelegitimeer en hy word op 19 Januarie 1985 met handoplegging in die NG Gemeente Ooshoek naby Bloemfontein ontvang en bevestig. Dit is ’n gemeente met kleinhoewes en die bediening is ’n groot uitdaging en die jong leraarspaar leef met oorgawe in hulle eerste gemeente. Ds Willem Strauss, veertig jaar lank ’n vriend van Piet, skryf: “Piet se eerste gemeente was Ooshoek buite Bloemfontein. Dit was vir Piet tot sy dood ’n hartseer en traumatiese ervaring in sy eerste gemeente. Hoewel hy getuig het hoe goed die mense vir hulle was, het die armoedige omstandighede waarin die mense moes oorleef, sy sensitiewe gemoed baie erg geknou.”

’n Roepstem kom na die Noord-Kaap en ds Piet en Esther Preller word op 25 September 1987 medeleraar in die NG Gemeente Hartswater, waar hy intens met die boere saamleef en ook op sinodale vlak leiding neem waar sy kennis van kerkreg handig te pas kom. Met ons oorkoms in 1991 as leraar van die NG Gemeente Kuruman, kruis ons paaie en ons beleef saam besondere tye in diens van die Here saam met ds Hansie Roelofse, een van die bekwaamste saakgelastigdes op sinodale gebied in die NG Kerk. Hy is betrokke by die SKDB, SKLAS, SKOK en die ARK in die Vrystaat en die Noord-Kaap. Intussen verwerf ds Piet in 2001 sy doktorsgraad in die Teologie aan die UOVS in Bloemfontein, met die proefskrif: “Die preek as kunsvorm.” Hier werk hy tot 2003 toe hy demissie kry en verloor die Noord-Kaap hierdie talentvolle leraar. Oor een van die redes hoekom hy demissie ontvang het, skryf ds Willem Strauss: “Piet is uiteindelik uit die aktiewe bediening nie omdat hy wou nie, maar omdat hy en Ester drie seuns gehad het wat moes leer en dit kon hulle nie bekostig in die bediening nie. Hulle het Pretoria toe verhuis en ander werk gedoen.”

Dr Piet Preller en sy gesin verhuis na Pretoria waar hy op 15 Oktober 2006 ’n pos as pastorale hulp vir bejaardes aanvaar in die NG Gemeente Monumentpark in Pretoria. Hy het getrou sy werk in stilte verrig en was nederig en sy vrou Esther is van mening dat hy ’n kort en saaklike biografiese skets sou verkies. Hy was ’n geleerde man, maar sy nederige manier van leef en optrede op voetsoolvlak, het dit verberg. Soos baie predikante het hy ook gevoel dat hy meer kon bereik in die bediening en dat sy volle potensiaal nie benut is nie.

Ds Willem Strauss skryf: “Piet was sy lewe lank ’n kunssinnige mens en baie taalvaardig. Hy het al tydens ons studies gediggies geskryf. Hy was lief vir goeie musiek. Piet en Ester was gasvrye mense. Nooit was jy by hulle ongeleë nie, daarom het hulle nooit gehuiwer om groot opoffering te maak nie. Piet en Ester was ’n naby egpaar wat mekaar se lewe vervul het.”

Na dr Piet Preller se dood op 20 Februarie 2020, ’n besondere mens wat op sy uitsonderlike manier gemeentelede aangeraak het, skryf sy seun Wilhelm in die begrafnisbrief: “My vriend, gaan solank vooruit. Ek sien jou later. Ons woorde brand om my kop en ek vind die klein vlam wat jy in my hart aangesteek het, is ewe skielik ’n son. Alles wat duister was in my is nou verhelder, jy is selfs nader nou as ooit tevore en jou stilte is oorverdowend.”

’n Gedenkdiens word op 7 Maart 2020 gehou, waarby twee leraars betrokke is. Ds André Fitzgerald tree om 9:30 op met die plasing van die as by die Muur van Herinnering by die NG Gemeente Lynnwood in Pretoria, terwyl ds Willem Strauss ’n treffende troosdiens hou in die NG Gemeente Pretoria- Faerie Glen. Hulle was twee studentevriende wat oor ’n tydperk van veertig jaar baie vir mekaar beteken het.

Sy vrou Esther skryf: “Piet was lief vir sy kerk en het sy roeping as leraar met toewyding beoefen. Om die Woord van die Here te verkondig was vir hom ’n voorreg. Die voorbereiding en uitvoer van preke was vir hom nie net ’n plig nie, maar ’n kunsvorm waaraan hy lewenslank gevyl het. Hierdie lewenswerk was ook die kern van sy doktorsgraad en Piet het dit geniet om met die Here se Woord te worstel en te werk. Benewens die NG gemeentes wat hy bedien het, was hy die laaste tyd voor sy heengaan geestelik betrokke by die St Andrews Presbyterian Church in Pretoria, waar hy hulle as leraar bygestaan het. Piet word onthou vir sy skerp intellek, vir sy liefde vir literatuur en vir sy sin vir humor wat hy nooit verloor het tot die einde nie”.

– Dr Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top