Petrus Jacobus Jonas is op 7 Mei 1932 gebore op Tulbagh. Sy vader is Nicolaas Everhardus Jonas, ’n sweiser van beroep. Sy moeder is Jacoba Elizabeth van Zyl, ’n moeder wat haar gesin met liefde versorg. Piet begin sy skoolopleiding in 1939 aan die Laerskool Swartland op Malmesbury en in 1939 aan die Hoërskool Swartland, waar hy in 1949 matrikuleer. Na matriek word hy in 1950 tot 1952 ’n klerk en vertaler by Ou Mutual in Kaapstad.
Intussen voel Piet geroepe om die evangelie te verkondig en sy pad loop na Wellington waar hy ’n “donkie” word in Huis Samuel digby ds Andrew Murray se outentieke pastorie. Intussen behaal Piet die BA-graad en ook die kursus in Teologie aan die Sendinginstituut op Wellington waar hy op 5 Desember 1958 gelegitimeer word. Daarna word ds Piet Jonas op 25 Januarie 1959 leraar in die NG Kerk in Afrika, waar hy die gemeentes Oos-Londen, Alexandria en Kwazakhele met oorgawe bedien tot hy op 11 Desember 1977 demissie ontvang met sy vertrek na Pretoria. Hy het altyd klem gelê op gemeentebou en is die hart van onderwysontwikkeling in Alexandria.
Ds Piet Jonas begin sy akademiese loopbaan in 1958 as dosent in Volkekunde aan die Hugenote Kollege op Wellington en van 1963 tot 1965 as dosent in Xhosa aan die Tegniese Kollege in Oos-Londen. In 1969 word hy dosent in Antropologie aan die Universiteit van Port-Elizabeth. Hier is hy van 1978 tot 1993 dosent en later professor in Antropologie aan die Universiteit van Suid-Afrika, waar hy in die Jakarandastad diep spore trap. Hy behaal in 1982 ’n doktorsgraad met die tema: “Sibbeverband by sekere Xhosastamme in die Ciskei”.
In 1994 loop sy pad terug na die Boland, toe hy dosent word in Sendingwetenskap aan die Hugenote Kollege op Wellington, tot hy in 2000 ’n dosent aan die Hugenote Kollege in Wellington. Op Wellington speel prof Piet Jonas ’n ongelooflike groot rol in die opvoedkundige dorp aan die voet van die Groenberg. In sy tyd is hy ’n sterk krag in die Hugenote Bybelinstituut en redigeer verhandelings en proefskrifte. Na sy aftrede bly hy woon op Wellington en hou hom besig met die dinge van die Here, doen graag vertaalwerk en is besig met genealogiese navorsing. Prof Piet Jonas sterf op 1 Junie 2023 en tydens sy herinneringsdiens groet sy geliefdes en die gemeenskap van Wellington ’n geestelike reus in die Here se koninkryk.
– Dr Gerdrie van der Merwe VDM
