Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Prof Hoffie Hofmeyr van Pretoria skryf: Die Algemene Sinode van die NG Kerk is tans net iets meer as twee maande weg. Dit gaan waarskynlik die belangrikste Algemene Sinode van die afgelope paar dekades word, want ’n moontlike kritieke verdeling tussen regsinnig en vrysinnig binne die NG Kerk gaan waarskynlik vanjaar finaal plaasvind.
Hierdie begrippe is reeds lank wêreldwyd bekend maar veral ook in die Nederlandse konteks. In eenvoudige terme beteken regsinnig om meer seker te wees dat die Bybel God se Woord in mensetaal is, dat byvoorbeeld die opstanding van Christus ’n historiese werklikheid is, en dat daar bepaalde vaste en ononderhandelbare waarhede is. Vrysinnigheid beteken die teenoorgestelde, dit wil sê dat die Bybel mense se woorde oor God is, dat byvoorbeeld die opstanding van Christus net as ’n simbool gesien kan word, en dat daar nie meer iets soos absolute waarhede bestaan nie.
Baie kwessies gaan deur afgevaardigdes na die Algemene Sinode bespreek word: sommiges minder en ander meer belangrik. Die meer belangrike kwessies gaan wees basiese kernwaarhede soos saamgevat in die Bybel en ook in van ons oudste belydenisskrifte soos byvoorbeeld die Twaalf Artikels of Apostoliese Geloofsbelydenis. Daarnaas is daar kwessies soos die wettigheid van 2019-besluite van die Algemene Sinode, die huidige agenda van wokeness, gendergeregtigheid en kritiese rasteorie wat byvoorbeeld sterk deur die Wes-Kaapse Sinode gedryf word, die saak van die aanstaande wettiging van aborsie, ensomeer. Om al hierdie kwessies verantwoord te hanteer gaan beslis nie maklik wees nie.
Ek is van oortuiging as ek na die tendense by die Algemene Sinodale Moderamen en die streeksinodes kyk, dat daar uiteindelik een dik verdelingslyn deur al hierdie kwessies loop, en dit is die lyn van meerdere regsinnigheid teenoor mindere regsinnigheid oftewel vrysinnigheid. Hierdie konsepte van mindere en meerdere regsinnigheid word soos hierbo aangedui in wese bepaal deur ’n mens se visie op die Bybel as God se Woord, en die bereidheid as gereformeerde kerk om die belydeniskarakter van die NG Kerk soos saamgevat in die Twaalf Artikels en ander belydenisskrifte te aanvaar al dan nie.
Prakties beteken dit dat elke afgevaardigde predikant en kerkraadslid na die Algemene Sinode vir hom/haarself die volgende vrae sal moet afvra: Gaan ek kernwaarhede uit die Skrif en die 12 Artikels handhaaf of gaan ek dit prysgee? Gaan ek onderskei tussen sake van die 1e orde (dws primêre of hoofsake soos Skrif en belydenis) en dié van die 2e orde (dws sekondêre sake of randsake)? Hoe gaan ek vervolgens in die sinode stem: gaan ek vir regsinnige of vir vrysinnige voorstelle stem, wel wetende dat soos in Nederland die vrysinnige roete uiteindelik die doodloopstraat is? Wil ek ten spyte van hierdie doodloopstraat voortaan aan die meer vrysinnige deel, of andersins eerder aan die meer regsinnige deel van die NG Kerk behoort? Prakties gestel, gaan ek my al meer begin tuisvoel in ’n meer regsinnige of ’n meer vrysinnige gemeente, ring, streeksinode of algemene sinode?
Ekself het geen twyfel dat ek vir die meer regsinnige opsie sou kies nie. En jy?
