Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Willem-Henri den Hartog van Bulawayo skryf: Prof Hoffie Hofmeyr het die afgelope weke in Kerkbode van 1 Augustus en 28 Julie) twee keer die spook van Nederland geskets in ’n debat oor regsinnig (ortodokse) en vrysinnig (liberalisme). Volgens hom het die liberalisme glo die oorhand in Nederland gekry en is die kerk daar in ’n doodloopstraat. Sy oproep is daarom dat die komende Algemene Sinode van die NG Kerk die regsinnige pad moet kies.
Ek weet nie wanneer laas prof Hofmeyr in Nederland was nie. Oor die algemeen is die kerke waar ek in Nederland preek vol mense (miskien is ek in sy oë ’n ortodokse prediker?!). Oor die algemeen is daar ’n bloeiende Christendom in Nederland in die sogenaamde Bybelgordel. Dit is ’n gebied wat van die suidweste deur die middel van die land na die noordooste loop. Die feit dat daar hier nog relatief baie mense kerk toe gaan, het niks te doen met die feit dat sinodes van die verskillende gereformeerde kerke ’n regsinnige posisie gekies het nie. Hierdie sogenaamde bybelgordel is waar eeue gelede (1568-1648) die front tussen die Katolieke en Protestante in die Tagtigjarige Oorlog was. Blykbaar is daar eeue later steeds ’n goeie uitwerking van hierdie droewige oorlog. Ortodoksie word op die ou end nie veroorsaak deur wat ons mense kies nie (lees sinodes), maar het sy basis in God se ewige uitverkiesing (Dordtse Leerreëls H1,6). Vanuit daardie genadige verkiesing kan die NG Kerk met vertroue na die Algemene Sinode toe lewe.
Ds Willem-Henri den Hartog is leraar van die Protestantse Kerk in Nederland en dosent vir die Gereformeerde Kerk in Zimbabwe.
