Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Theo Badenhorst van Brackenfell-Proteahoogte skryf:
Ek hoor by ’n getroue Bybelleser dat hy maar stoei om deur die geslagslyste van die Bybel te kom, soos die eerste nege hoofstukke van 1 Kronieke. Tog spring daar ook juwele uit hierdie lyste uit.
Die Kroniekgeskiedenis is voltooi ná Israel se terugkeer uit die Babiloniese ballingskap. Die volk en die land moes herorganiseer word en daarom was die mense se afkoms belangrik, om te sien wie was wie en waar hulle voorgeslagte vandaan gekom het. Gewoonlik was dit die manlike afkoms wat getel het. Kyk maar na Selofgad uit Manasse in 1 Kronieke 7:15. Van hom word gesê dat hy net dogters gehad het, en dan hoor ons nie verder van sy nageslag nie.
Maar dan lees ons van Seëra, ’n dogter van Efraim (vs 24). Sy het ook ’n broer Beria gehad. Van hom lees ons niks meer nie as dat hy self seuns gehad het. Van Seëra lees ons egter dat sy drie dorpe (dalk stede) gebou het. Die twee dorpe Bet-Goron-Onder en Bet-Goron-Bo was strategiese plekke, soos ons van hulle lees in Josua 16:3 en 5. Hierdie dogter van Efraim het waarskynlik ’n groter gemeenskapsrol gespeel as haar broer.
Dié opmerking oor Seëra is net een vers lank, maar dorpe word nie oornag gebou nie. Agter hierdie vers sit groot ondernemings wat baie inisiatief en inspanning vereis het, en daaragter sit ’n vrou, waar vrouens nie ’n hoofrol in die geslagsregisters speel nie.
Daar is kritici wat sê dat die Bybel se skrywe manlik oorheers was en dat die vroulike geslag nie tot hulle reg kom nie. Dit is so dat die vrou se rol meer tot die huishouding beperk was in Bybelse tye. Minder van hulle kon lees en skryf as mans. Maar tog, wanneer ’n vrou erkenning verdien, dan kry sy haar erkenning, soos ook die volksleier en profetes Debora in Rigters 4 en 5, en dan hier Seëra.
Hierdie opmerking oor Seëra gee vir ons ’n vooruitflits na Christus toe. In Hom is daar nie meer man of vrou nie (Gal 3:28). Reeds in Jesus se aardse bediening het Hy vrouens anders as op die tradisionele manier gehanteer. Dit is ’n les in eerlikheid. Ons kan steeds maar net erkenning gee aan alle mense wanneer hulle eerlik erkenning toekom.
*Van Selofgad en sy dogters lees ons ook in Numeri 27:1-10. Hier het God bepaal dat hulle kon erf soos seuns.
* Of Seëra se pa Efraim dieselfde was as Efraim, die seun van die stamvader Josef is nie heeltemal duidelik nie, want Josef se kleinseun en kleindogter het seker nog in Egipte gewoon, vóór die Israeliete se uittog, en dit lyk asof die stede wat hier gebou is ná Israel se uittog gebou is, met hulle vestiging in die beloofde land. Moontlik was daar voor die uittog soms kontak tussen die Israeliete (wat in Egipte gewoon het) en Kanaän, die land van hulle herkoms.
- Theo Badenhorst is ’n emeritusleraar, woonagtig in Brackenfell wat graag skryf oor Bybeltekste wat, na sy mening, nie baie aandag kry nie. Hy is ook besoekende mede-hoogleraar by die Universiteit van Nkhoma in Malawi. Hierdie is die eerste van ’n reeks wat hy geskryf het.
