Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ds Rudi Swanepoel van Johannesburg skryf:
Die Bybel praat so mooi oor geure: Dink maar aan die lieflike sensualiteit van Hooglied en die pragtige herinnering van Paulus aan die volgelinge van Jesus.
Dalk is die heel mooiste juis laasgenoemde: dat die evangelie ’n effek op ons het en dat die effek dan uitkring, soveel so dat dit selfs ruikbaar is.
Ons hou binnekort algemene sinode. En of ons dit wil weet of nie, of ons dit so wil hê of nie en of ons daarmee saamstem of nie: Die NG Kerk gaan in die nuus wees. Nuusbronne gaan ons dophou, hulle gaan kyk wat op ons agenda is, hulle gaan dag vir dag berigte genereer tussen 15 en 20 Oktober, daar gaan foto’s wees van groen en rooi kaarte in die lug en die inkomende leierskap van onse kerk se foto’s gaan op verskeie plekke pronk.
En dit alles gaan ’n geur hê.
En dit is mos só: Ek kan die smartste huis in die buurt of in die dorp hê (of so dink), die meeste dinge kan goed werk en die masjiene kan mooi loop, maar as daar ’n rot agter die skottelgoedwasser dood is gaan ek vir hom eerste ruik en gaan ek vergeet dat ek sonpanele en ’n hengske inverter het.
Hierdie voorbeeld het baie gebreke, maar die feit bly steeds dat gemeentes en kerke en kerkvergaderings ook reuke vrystel. En mense is nie dom nie. Hulle het dalk nie altyd konteks en agtergrond (van byvoorbeeld sekere besprekings of besluite) nie, maar hulle is nie stupid nie. Hulle hou ons dop, nie net met die oog nie, maar ook met die neus.
Mense soek die aangename geur van die Goeie Nuus.
Stel die draers van die Goeie Nuus nie geure van genesing-deur-waarheid vry nie?
Skei ons nie reuke af wat ander nader trek nie?
Moet ons nie ons bes doen om skóón te wees en met sagtheid na ons wêreld en haar mense kyk nie?
Behoort ons nie die reuk van Afrikagrond pas na die reën aan ons voetsole te hê nie?
Mag ons mekaar in liefde en eerlikheid help om bewus te wees van ons geur.
Mag ons kiés om draers van die evangelie te wees.
