Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Barry van der Merwe, emeritus van Lynnwood, Pretoria skryf: ’n Gereformeerde klooster? Dit was my en my vrou Ina se voorreg om van 21 Maart tot 13 April vanjaar by die susters van Grandchamp te kon woon, werk en bid. Naby die Neuchâtelmeer, in die Franse deel van Switserland, is die Grandchamp-klooster.
In die vroeë 1930’s het ’n paar vroue van die Gereformeerde Kerk in Switserland die waarde van stilte om die Skrif in vrugbare grond te laat posvat, herontdek.



LEES OOK: ‘In daardie tyd het sy Job gelees … slegs Job vir omtrent ’n jaar’
Aanvanklik het hulle een maal per jaar ’n retraite aangebied, later meermale per jaar, totdat die behoefte ontstaan het om ’n plek te hê waar mense deurlopend kon kom woon om in stilte te wees. ’n Gesiene, welgestelde weldoener het die geboue van Grandchamp tot die vroue se beskikking gestel en in 1952 het die eerste paar vroue hulle lewenstoewydings (life commitments) gemaak. Vandag is daar meer as vyftig susters uit verskillende lande en kerke wat in Grandchamp die Communauté de Grandchamp vorm. Grandchamp is die Frans vir “groot (koring)land”. Die geboue lê tussen koringlande.
Vir die susters is daar veral drie dinge wat belangrik is: ’n lewe van gebed, ’n lewe in gemeenskap en gasvryheid. Daar is vier keer per dag ’n gebedsdiens: 07:15, 12:15, 18:30 en 20:30. Donderdagaande 18:30 en Sondagoggende 07:30 word Nagmaal gevier. Vir die Nagmaalvieringe word predikante uit die omgewing genooi om die Nagmaalsdiens te lei. Slegs by die Nagmaalsdienste word gepreek. In die gebedstye word die Psalms gepsalmodieer (chant), na Skriflesings geluister, gesing, voorbidding gedoen en in stilte gesit. Die susters het sedert die 1950’s bande met die Taizégemeenskap in Frankryk. Die Taizégemeenskap het ontstaan as gevolg van die werk van Roger Schutz, ’n gereformeerde Switserse predikant. Die susters van Grandchamp volg die leesrooster wat die broers van Taizé ontwikkel het.
Ek en Ina het as vrywilligers in Grandchamp gaan woon en werk. Ons het in afsonderlike kamers gewoon, darem regoor mekaar! Ina het hoofsaaklik in die waskamer gewerk. Die susters het ’n gesamentlike was- en strykkamer en vakkies waarin almal se klere gesorteer word. Ek het hoofsaaklik in die tuin gewerk. Ons moes ook help met skottelgoedwas en kosvoorbereiding. Etes geskied in stilte, behalwe Vrydagaande en Sondagmiddae wanneer daar na ete gekuier word aan tafel. Vrydae word vis bedien en Sondae vleis, verder is dit vegetaries. Tydens Paasnaweek was ons twaalf vrywilligers wat gehelp het om alles te laat vlot met al die besoekers wat by Grandchamp kom Paasfees vier het.
Ek en Ina het elkeen ’n begeleier gehad met wie ons een keer per week ’n gesprek gehad het.
’n Paar indrukke:
- Dit doen iets aan ’n mens om die Psalms te psalmodieer. Om só met die Psalms saam te lewe verryk ’n mens se lewe. Ons maak te min van die Psalms in ons persoonlike lewe, sowel as in die erediens.
- Die stilte in die dienste en eetsaal en op die terrein bring ook ’n heilsame stilte in jouself.
- Die gasvryheid en hartlikheid en aanvaarding van die susters was vir ons as “vreemdelinge”, opvallend en verrykend.
- Gereformeerde Christene het ook ’n diepliggende behoefte aan stilte. Ons behoort moeite te doen om ons lidmate die waarde van stilte te laat ontdek.
Vir verdere agtergrond besoek gerus die webwerf: www.grandchamp.org
