Met ’n helder reënboog styf bo die Middestad gespan het sowat 80 NG Lidmate (meestal leerders) van verskeie gemeentes regoor Kaapstad vroeg Saterdag 23 September in die nat pad geval om onder leiding van plaaslike leraars en geloofsleiers meer oor Suid-Afrika te leer.
Die roete: Van ’n historiese gemeente van die Morawiese Kerk in Distrik Ses, waar Carmen Ludolph oor dié kerkverband gesels het, na die Al Azhar masjied, waar sjeg Ismail Keraan (69) onder meer vertel het hoe verpligte ontworteling van die gemeenskap in Distrik Ses tydens apartheid ook sy eie gesin geraak het.
In Buitenkantstraat het stappers – eendag-pelgrims, as ’n mens in die metafoor wil bly – meer geleer oor die werk van die Waarheids en Versoeningskommissie. Stappers kon self oor die nalatenskap van ’n kerkleier soos emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu besin in die wêreldklas argief van die Desmond & Leah Tutu Legacy Foundation (Truth to Power).
Ds Riaan de Villiers van Groote Kerk het ook langs die sowat 2,5 km roete stilgehou by ’n gedenkplaat vir Krotoa (1643-1674) en die storie vertel van dié tolk, vredemaker en, soos De Villiers vertel, eerste Khoisan lidmaat van die NG Kerk.
Daarna moes boereworsrolletjies voor die Groote Kerk in Adderleystraat kompeteer met die nabygeleë McDonald’s wat ook ’n paar honger tieners se oog gevang het. Binne Groote Kerk, op die grond, voor die houtleeus wat dié beroemde preekstoel abba, het die stappers die kans gekry om met ander te deel hoe die dag hulle laat voel het.
Dit was ’n wye, onbevange blik op ons land – vanuit ’n geloofshoek. Dit val saam met die groter #loopvirhoop inisiatief wat deur talle gemeentes regoor die land aangepak word dié naweek. (Tik gerus dié hutsmerk op sosiale media in vir meer stories). #loopvirhoop #pelgrimstogvirhoop #kerkbode #pelgrimspad #geloof
Video hierbo: Erick Zulch, mede-organiseerder van die Kaapstad-pelgrimstog vertel meer oor die konsep.
