Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Op 20 Oktober, die laaste dag van die 2023 Algemene Sinode, het afgevaardigdes 'n besluit oor selfdegeslagverbintenisse geneem. Ds Maartje van der Westhuizen, ondervoorsitter van die vergadering, het voor die finale stemslag op Vrydagoggend, gesê: “As ons ’n uitslag het, het ons saam onderskei.” Foto: Robert Cable

Algemene Sinode: NG Kerk se ‘ruim huis’ bly staan


Die NG Kerk se Algemene Sinode het Vrydag 20 Oktober – nes in Oktober 2019 – besluit om ruimte te bied vir verskillende standpunte oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

Afgevaardigdes het gestem om ’n kerk te bly waar predikante gay paartjies in burgerlike verbintenisse mag bevestig … asook ’n kerk waar dominees aan die ander kant van die teologiese kloof, dit nie hoef te doen nie.

LEES OOK: Selfdegeslagverbintenisse-besluit 2023

’n Amendement wat Vrydagoggend deur die meerderheid van die 370 afgevaardigdes goedgekeur is, stel dit dat die 2023-sinode “volstaan” met die besluit wat in 2019 rondom selfdegeslagverbintenisse (SGV) geneem is.

“My aanvoeling is dit is ’n beginselbesluit,” het ds Jan Lubbe, die nuwe moderator Donderdagaand tydens ’n bespreking oor die voorgestelde besluit gesê. “Niemand word gedwing na enige kant toe nie, maar ons skep ruimte. Daarin lê die beginsel,” aldus Lubbe.

Die amendement beskryf die verwarring, verwonding en vervreemding wat deur baie lidmate, leraars en gemeentes in hierdie debatte oor SGV beleef word. En die sinodebesluit kom ná ’n opebrief wat aan kerkleiers gestuur is om te waarsku dat die kerk op dun regs-ys is weens “foute” in sy hantering van die saak.

Foto: Robert Cable

Lubbe, ’n dominee uit Bloemfontein wat ook as moderator van Sinode Vrystaat dien, is al deur ’n paar stram sinodes. Hy was Donderdag eerlik met die vergadering: “U moet (die voorgestelde amendement) ontvang as die beste weg vir die situasie waarin ons is”.

Daarna is tyd vir gesprek toegelaat en, van agter mikrofone in die groot venue in Boksburg, het afgevaardigdes – 40 altesaam regoor die teologiese spektrum – opgestaan en gesê wat hulle dink die NG Kerk se volgende stap ten opsigte van die besluite wat by die vorige vergadering van die algemene sinode (in 2019) geneem is, moet wees. Vir en teen, teen en vir, vir en vir en dan teen, teen, iets tussenin en dan weer teen en vir.

’n Leraar sal ten gunste van die amendement sê dit is ’n “bloudruk vir hoe gemeentes met mekaar kan praat.” ’n Volgende spreker sal weer sê: “Niemand sal vir my kan oortuig dat ons nie nou ons probleem God se probleem gemaak het nie.”

Foto: Robert Cable

Nog ’n spreker sal opstaan en sê: “Ek dink 2019 is onuitvoerbaar. Ons moet kies vir een standpunt uit die Skrif.” ’n Volgende sê: “As ons hierdie toelaat, dan kan ’n huis wat in homself verdeel is, nie staan nie.” Waarna nog ’n dominee sal sê hy dink die amendement “skep ruimte vir lesbiese, gay en biseksuele mense om te floreer.”

Lubbe het opgemerk dat dit nie is “asof ons nie gekyk het na wat die Skrif sê nie.” In reaksie op van die terugvoer vanaf die vloer het hy gesê: “Onthou waar kom ons vandaan. Ons kom van 2007 af. Twee spanne het intens eksegeties met die groter skopus van die Skrif gewerk en die uitkoms van daardie eksegetiese proses is, ons het ten minste twee lese van die Skrif oor hierdie punt (SGV).”

Prof Marius Nel, dosent in Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê verskille is nie nuut in die kerk nie. “As ons in die Nuwe Testament kyk het ons vier evangelies wat verskil van mekaar – weliswaar ooreenstem – maar dis nie identies nie. En tog het die kerk al vier (in die Bybel) ingesluit … Dis deel van ons verhaal om te verskil,” het Nel gesê. Ons taak is om mekaar te wys, as ons met diep polarisasie werk, tussen mense met ’n vaste oriëntasie, en mense met ’n vaste oortuiging, hoe leef ons saam? Hoe praat ons met mekaar, hoe bly ons in verband? Want dit sien ons nêrens in die wêreld nie … Oral waar daar polarisasie is, is daar net chaos.”

Ds Maartje van der Westhuizen, ondervoorsitter van die vergadering, het voor die finale stemslag op Vrydagoggend, gesê: “As ons ’n uitslag het, het ons saam onderskei.” 

Hou Kerkbode dop vir meer hieroor asook die amptelike dokument. 

Fotobeeld van die Algmene Sinode 2023. Foto’s: Le Roux Schoeman

Maartje van der Westhuizen en Jan Lubbe, ondervoorsitter en voorsitter van die vergadering.
Veral ouer lidmate voel gemaklik voor die mikrofoon, luidens ’n peiling wat tydens die sinode uitgevoer is.
Afgevaardigdes sit om tafels en baie van die gesprek vind ook in daardie konteks plaas, met die “luisterspan” wat data insamel oor wat aan die tafels gesê is.

Marthie Momberg, die skrywer van ’21 Voices from Israel and South Africa: Why the Palestinian struggle matters’ lewe ’n voorlegging oor die konflik in daardie wêrelddeel tydens die Algemene Sinode.
Dr Louis van der Riet, een van die dryfvere agter ’n multimedia-projek getiteld Queer Narrative Archive waaroor Kerkbode vandeesweek berig het.
Dr Chris van Wyk, voorsitter van die Oos-Kaapse sinode.

Ds Jan Lubbe
Aartsbiskop Thabo Makgoba. Foto: Robert Cable

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top